Goeie nuus: Wens bewaarheid toe bedlêende vrou die see kan sien (foto’s)

Martie van Staden op die strand Foto: Damon Beard, omroeper by East Coast Radio (Facebook)

Martie van Staden op die strand Foto: Damon Beard, omroeper by East Coast Radio (Facebook)

ʼn 85-jarige vrou van KwaZulu-Natal wat al nege jaar bedlêend is as gevolg van ʼn mislukte rugoperasie, se grootste wens is Donderdag bewaarheid toe sy weer die see kon sien.

Martie van Staden kon, met die hulp van East Coast Radio en Netcare 911, weer na die golwe kyk en die vars seelug inasem.

Haar dogter, Magda Snowdon van Pinetown, het gesê haar ma het haar lewe lank as ʼn huisvrou by hul huis in Amanzimtoti spandeer. “Sy het agt kinders op haar eie grootgemaak – dit kon nie maklik gewees het nie,” het die 55-jarige Snowdon gesê. “My ma het oor die jare twee knievervangings gehad en in 2007 die mislukte rugoperasie wat haar aan haar bed vasgekluister het.”

ʼn Verpleegster moet voltyds na haar omsien.

“Verbeel jouself jy kan vir nege jaar lank nie uit die huis gaan nie,” het Snowdon bygevoeg. “Jy kan by die venster uitkyk en die tuin sien, maar dit is al. Die enigste tyd wat sy uit die huis gegaan het, was toe ons haar hospitaal toe geneem het.”

Die familie het besluit om Van Staden te skuif sodat sy by haar oudste dogter, Marie Strydom, in Melmoth kan tuisgaan. “Ons kon dit nie meer self hanteer nie. My sussie is egter ongelukkig in Januarie oorlede en ons moes my ma na Flame Lily Park-ouetehuis in Queensburgh skuif.”

Snowdon het verduidelik sy het in April aan East Coast Radio se veldtog, “The Big Favour” [Die groot guns] geskryf en hulle gevra om haar ma na die strand toe te neem – omdat dit haar grootste wens is. “Ek het vir hulle gesê my ma wil net see toe gaan, daarna kyk en dan weer huis toe gaan. Dit is al.”

Die gemeenskapsradiostasie het aan Snowdon en haar ma se wens voldoen.

ʼn Span van Netcare 911-paramedici het haar Donderdagoggend by die ouetehuis gaan haal en haar na Amanzimtoti se strand geneem. “Hulle het haar in ʼn draagbaar tot by die water gedra. Sy kon selfs aan die sand raak. Een van die paramedici het ʼn emmer by een van die kinders geleen en seewater vir haar gebring om haar hande daarin te druk.”

Een van die restaurante het vir haar boonop ʼn koppie tee gebring toe hulle haar na die ambulans teruggeneem het.

“Sy het gesê die eerste ding wat sy op die strand gesien het, was die skepe op die see en sy het geglimlag.” Snowdon het gesê haar ma het hulle gereeld see toe gevat toe hulle grootgeword het. “Sy kon nie self swem nie, maar sy het ons geneem en net daar op die strand bly sit. Nou is sy vol vrede dat haar wens bewaarheid is.”

Bron: Amanda Khoza, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

scalla ·

Dankie aan almal wat n bydrae gelewer het, gaan nie ongesiens verby nie

Liesl ·

Wat n pragtige gebaar. Kan ons nie maar self soms n handjie uitsteek om die oues van dae te help nie? Ek dink vir sommige sal selfs net n geselsie, helpende hand oor die straat of n drukkie genoeg wees.

magda blom ·

Kleinste dinge wat soveel vermag en liefde strooi in ‘n ongenaakbare wereld! Dankie baie aan berokkenes

Swanna ·

Wat ‘n Hemelse daad. Hulle is geseend die wat betrokke was deur hierdie goeie daad. Mensdom dit laat sommer ‘n traan in jou oog kry.

Alet ·

Dankie vir sulke engele. Sommer het ek nou lekker getjank om te weet daar is mense wat nog omgee.

CHRISTA ·

10/10 vir East Coast Radio en Netcare 911!!! Wys jou – jy kry nog mense in ons land wat vir ander omgee!

Anika ·

Dierbaar dat mense tyd maak om oumensie se lewe op te kikker. Maak mens ook dankbaar vir wat jy het, en wys net dat ons elke dag voluit moet tyd maak om te lewe, vir daai oudag wanneer ons ook nie meer kan doen nie.
Wees bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.