Goeie nuus: Zeerust hou lekker makietie om die lewe te vier

Jordan Pelser ry Vrydag op 'n kameel se rug. Foto: Verskaf

Jordan Pelser ry Vrydag op ‘n kameel se rug. Foto: Verskaf

ʼn Jaar gelede is Jordan Pelser se gesin aangeraai om “gehalte tyd” saam met hom deur te bring omdat dit sy “laaste dag” kon wees.

Vandag is Jordan, die dapper vierjarige seun van Pretoria wat in remissie is nadat hy verlede jaar met Burkitt-leukemie gediagnoseer is, springlewendig en ry hy dolgelukkig op die rug van ʼn kameel by ʼn fees wat  ʼn laerskool in Zeerust in Noordwes aanbied om iets daadwerkliks te doen om bewustheid oor kanker en bloedsiektes skep.

Jordan Pelser

Jordan Pelser

Jordan se brawe stryd het die harte van talle mense regoor die wêreld geraak.  Hy het ook die Laerskool Zeerust, in samewerking met die Sunflower Fund, wat mense aanmoedig om beenmurgskenkers te word en die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloedbank (SANB) geïnspireer om die naweek sy lewe te vier en bewusmaking te skep tydens hul gewilde jaarlikse Beesloop en Kameel-derby.

Volgens Corrie Pretorius, die skoolhoof, het al die leerlinge onder meer Vrydagoggend ʼn Sunflower-bandana ontvang om soos ‘n span te lyk.

Die skool se Beesloop en Kameel-derby vind Saterdag plaas. Feesgangers sal by die Sunflower Fund se stalletjie die geleentheid kry om ʼn bloedmonster te skenk vir ontleding as ʼn moontlike beenmurgskenker. Mense kan ook bloed skenk by die bloedbank se stalletjie.

Pretorius het gesê die geleentheid gaan gebruik word om ondersteuning te toon aan geliefdes en kennisse wat ʼn stryd teen kanker veg, of ter nagedagtenis van geliefdes wat hul lewens weens die siekte verloor het.

Die skool nooi die gemeenskap uit om deel te wees van hierdie makietie. Bel Marelize Collins by 083 556 3525 vir enige navrae.

Lees vorige stories oor Jordan op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Herman Reynders ·

Kan ons as lesers asb meer sulke goeie nuus stories kry? Artikels wat vertel van hoop en uitkoms,dis sulke artikels wat lesers inspireer om ook goed te doen vir ander.Ek,persoonlik is al so depro oor al die moord en doodslag ek kan skreeu.Kan ons die goeie net vir een volle maand laat hoogty vier by Maroela,groot seblief!?

Daniel Hoffman ·

Lekker om ‘n bietjie goeie nuus te lees vir n slag! Dankie Maroela

CHRISTA ·

Ek bid dat die liewe HERE Jordan volkome sal genees!! Sterkte vir jou Jordan!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.