Goeie opposisie beter as ‘swak koalisie’

DA-leiers Helen Zille en John Steenhuisen. (Foto: DA)

Die DA sê die pas afgelope plaaslike verkiesing het die doodsklok vir die ANC se politieke oorheersing gelui en is die begin van ʼn nuwe era vir die land.

John Steenhuisen, partyleier, sê dit was altyd ʼn kwessie van wanneer, en nie of nie, Suid-Afrika sy bevrydingsbewegingsregering gaan ontgroei. Ná 27 jaar aan bewind het steun vir die ANC tot onder 50% gedaal.

“As dít ʼn nasionale verkiesing was, sou hulle nie langer regeer het nie,” sê Steenhuisen.

Volgens hom is die DA veel nader aan die party se doelwit om ʼn vreedsame bewindsverandering te bewerkstellig.

Steenhuisen sê die ANC, wat eens onaantasbaar gelyk het, se steun is die afgelope paar jaar stelselmatig weggekalwe.

Die ANC het in vyf van die land se nege provinsies steun van minder as 50% gekry.

Steenhuisen sê die DA sal nou selfondersoek doen en in gebiede waar mense ʼn duidelike boodskap aan die party gestuur het, sal die DA werk om weer hul steun te werf.

Een so ʼn boodskap was van inwoners van Nelson Mandelaai, Tshwane en Johannesburg. Steenhuisen sê kiesers het dit duidelik gemaak dat hulle ontevrede is met onstabiele koalisies. Hy sê die party het talle lesse geleer oor koalisieooreenkomste en die voorwaardes wat nagekom moet word vir sulke regerings om te werk.

“Desperaatheid om te regeer en te bly regeer kan soms lei tot slegte koalisies wat eindelik beteken dat kiesers vertroue verloor in die idee van ʼn koalisieregering. In sy onderhandelings is die DA bereid om met almal te praat, maar nie om desperate spronge te maak nie.

“Dit is beter om ʼn goeie opposisie te wees, as deel van ʼn swak koalisie.”

VF Plus ‘koningmaker’ in talle rade

Die DA sê die pas afgelope plaaslike verkiesing het die doodsklok vir die ANC se politieke oorheersing gelui en is die begin van ʼn nuwe era vir die land. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die party se fenomenale groei van 242% bevestig dat die party een van die sogenaamde Groot Vyf-rolspelers op die politieke landskap is.

“Die uitslag is nie net ʼn reuseoorwinning vir die VF Plus nie, maar ook vir minderhede van oor die hele Suid-Afrika wat ʼn tuiste gevind het in die party wat oor die afgelope jare van krag tot krag gegaan het.

“Een van die enkele groot redes hiervoor is dat die party by herhaling gewys het dat hy bogemiddeld presteer het met die beperkte steun wat hy wel gehad het, asook standvastig op pad is om ʼn beter Suid-Afrika vir al die land se inwoners te help skep. Dit het wyd vertroue ingeboesem.”

Die party het nou verteenwoordiging in al agt metro’s in Suid-Afrika.

“Die VF Plus is die koningmaker in baie rade waar geen enkele party ʼn meerderheid op homself verenig het nie. Die groot aantal rade waar koalisieregerings gaan geld, bewys die VF Plus se standpunt, naamlik dat veelpartyregerings die toekoms van Suid-Afrika is, as reg.”

Groenewald het ook kiesers bedank wat hul steun aan die VF Plus gegee het.

Bloedneus vir groter partye

Brett Herron, sekretaris-generaal van GOOD, sê sogenaamde klein partye het die ANC en DA bloedneus gegee.

ʼn Ongekende aantal klein en nuwe organisasies het aan die verkiesing deelgeneem en Herron sê die propaganda dat diegene wat kleiner of nuwe partye steun hul stem mors, is verkeerd bewys.

GOOD het aan sy eerste verkiesing deelgeneem en is nou die derde grootste party in die Wes-Kaap en vierde grootste in Kaapstad. Die party het ook in onder meer Tshwane, Johannesburg, Nelson Mandelabaai, Sondagsrivier en Sol Plaatjie ʼn voet in die deur gekry.

“Dit is verstommende uitslae, gegewe dat GOOD minder as drie jaar gelede met ʼn piepklein begroting op die been gebring is,” sê Herron.

Die party word op al drie vlakke van regering verteenwoordig en het altesame 43 setels in verskillende rade. Herron sê dit is ʼn bewys van Suid-Afrikaners se soektog na nuwe oplossings.

GOOD sal oor die volgende paar dae sy posisie in verskeie onbesliste rade in die Wes-Kaap oorweeg om te bepaal of dit in kiesers se belang sal wees om koalisies aan te gaan, of konstruktiewe opposisie te bied.

Eet olifant happie vir happie

Julius Malema, leier van die EFF, het intussen gesê die ANC sal hom oor die omstrede grondkwessie moet steun voor enige gesprekke oor metro’s gevoer kan word. “Dit is die eerste ding. Ons soek ons grond terug,” sê Malema.

Malema het ook die DA en VF Plus daarvan beskuldig dat hulle ʼn “rassistiese houding” ingeneem het.

“Die Vryheidsfront [sic] sê hy kan nie ʼn koalisie met die EFF en die ANC aangaan nie, en dan vra jy nie vir hulle ‘gaan jy nie koalisies aangaan met partye wat deur swart mense gelei word nie?’. Dit is wat hulle vir julle gesê het.

“Dit is ʼn rassistiese aanslag wat ons gaan dwing om in die een of ander konkoksie in Tshwane betrokke te raak. As ons nie die rassistiese agenda wat in Tshwane gaan afspeel, stuit nie, kan ons dalk ʼn rassistiese munisipaliteit hê wat Tshwane regeer.”

Die ANC in Tshwane het 34,63% van die stemme gekry, die DA 32,03%, die EFF het 10,69% van stemme gelok, Action SA het 8,64% van stemme in Tshwane gekry en die VF Plus 7,84%.

Malema sê mense moenie ontmoedig word deur berigte oor sogenaamde niebestaande partye nie.

“Ons eet die olifant happie vir happie.”

Kommer oor lae opkoms

Die voorsittende beamptes van die parlement, onder leiding van speaker Thandi Modise, het Suid-Afrikaners geloof wat in die verkiesing gestem het en sê die demokrasie is na ʼn hoër standaard geneem.

“Die mense van Suid-Afrika het gepraat en hul voorkeurleiers en politieke partye verkies om die voortgesette program om menselewens te verbeter, te dryf,” lui ʼn verklaring van die parlement.

Die parlement het ook politieke partye, onafhanklike kandidate en hul ondersteuners geloof vir die dissipline wat tydens die verkiesing aan die dag gelê is.

“Ons wil ook die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en die hele verkiesingsbrigade bedank wat onophoudelike druk, uitdagings en talle probleme te bowe gekom het om nog ʼn suksesvolle en goed uitgevoerde verkiesing te verseker.

“Selfs in moeilike omstandighede wat veroorsaak is deur onder meer die Covid-19-pandemie en die kortste tyd ooit om voor te berei vir ʼn plaaslike verkiesing, het die OVK-leierskap en personeel die land trots gemaak.”

Die parlement sê hy het egter met kommer kennis geneem van die lae kiesersopkoms, veral deur jongmense, en meen alles moontlik moet gedoen word om jonges entoesiasties oor Suid-Afrika se demokratiese proses te maak.

Raadslede is ook gevra om nie die vertroue wat mense in hulle gestel het, te verloën nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Dries ·

My raad is dat joernaliste soos Pieter-Louis Myburgh, Jaquies Pauw, en die uitstekende ondersoekende joernaliste nou hard aan die werk spring en die korrupsie en diefstalle op ANC regerings Nasionaal en munisipaal moet ontbloot. Hulle is die redders van SA. Dit sal die ANC tot n algehele val bring. Die ANC bly n misdadige organisasie en dit sal aanhou totdat hulle geheel en al uitgewis is. Die hele wereld moet daarvan hoor. SA se toekoms is in die hande van die eerbare media.

Dries ·

Solank as daar ANC raadslede in munisipaliteite is solank sal daar onbevoegde kaders aangestel word en korrupsie op groot skaal plaasvind. Hulle kry hulle steun hoofsaaklik van mense wat baat by korrupte tender uitdeling en dit sal nooit ophou solank hierdie dinge nie met wortel en tak uitgeroei word nie

SlinkseKoljander ·

ANC en EFF sal saam staan, hulle alby haat wit mense.
Dan sit ons maar weer in dieselfde bootjie…

Jannie van Niekerk ·

Die EFF is die ANC se bababoetie en saam vorm hulle ‘n meerderheid. Hulle voel ‘n veer vir goeie dienslewering, eerlikheid en ware demokrasie. Indien ‘n politieke party in koalisie met een van hierde twee partye (aaook ‘n paar ander kleiner bewegings soos bv ICOSA en GOOD wat die twee partye goedgesind is) gaan, is hulle nie eerlik teenoor hulle kiesers nie want die kiesers het dan reeds TEEN die ANC en EFF gestem om korruosie en swak diens teen te werk. As die DA bv ‘n koalisie met die ANC sou vorm het die kiesers wat vir hulle gestem het dan mos hulle stem gemors. Hulle kon dan netsowel hulle stem op ‘n kleiner paty soos die ACDP of VF+ “gemors” het of hoe mnr Steenhuysen?

Dries ·

Die Partye wat in koalisie gaan met die ANC plaas n groot vraagteken oor hulle integriteit. Hulle sal gou gou deel word van korrupsie in die stadsrade.

Dries ·

Ek vertrou ook nie hierdie onafhanklike kandidate nie. Baie van hulle is ANC kandidate wat nie tenders gescore het by die ANC raadslede nie en nou kamtig onafhanklik is. Die joernaliste moet hulle integriteit ondersoek. Kyk of hulle nie misdadige rekords het nie

Samuel ·

Die ANC is ‘n kriminele organisasie. En die Godfather is die SP.

Jaco ·

Voordat almal, veral mnr steenhuizen, nou te bly word oor nog ‘n loesing vir die ANC in 2024 se algemene verkiesing: onthou net, die pas afgelope verkiesing was vir plaaslike rade. Die ANC is, loesing en al, nog steeds die meerderheidsparty in die nasionale parlement en dis nog steeds die regering van Suid-Afrika. Sulke prestasies deur die opposisie word geduld, ook in die res van Afrika, solank die opposisie net nie die liberation movement in ‘n algemene verkiesing klop nie.
In Zimbabwe het die regerende ZANU wat die opposisie MDC met mening haat, die MDC se oorname van Harare se stadsraad toegelaat en aanvaar (terloops, toe koop die MDC dadelik nuwe motors vir al die raadslede….). Maar toe die MDC Zimbabwe se 2008 algemene verkiesing wen, toe stuur ZANU vinnig die weermag en polisie in om te keer dat die MDC die regering van Zimbabwe word. Mark my words, as die ANC ‘n loesing in 2024 se algemene verkiesing kry, sal presies dieselfde doen as wat ZANU in Zimbabwe in 2008 gedoen het.

Frank John ·

Sterk opposisie maak dat wie ookal regeer in hul spoor trap en versigtige besluite neem wat vir almal werk.

Aai ·

Malema wat gaan jy met die grond maak sonder geld?Jy gaan seker VBS se geld gebruik?

Annatjie ·

Mnr Steenhuisen soos die spreekwoord se “If you have lemons make lemonade”. Konsentreer op goeie aliansies en werk met wat jy het.

Stefaan ·

Kom vat dit en kry klaar. Ons raak nou moeg vir jou holrug geryde storie.

Sarel ·

Daar word grpraat van die ANC wat steun verloor
het maar prast nie oorfie EFF wst gegroei het nie
Pasop vir Koalisie tussen die twee.
Die DA is , wat my aan betref, sedert Tony Leon se tyd,
nie betroubare Koalisie vennoot nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.