Goeie reënval ná jare in Namakwaland

Gifberg, Vanrhynsdorp (Foto: Namakwa Toere)

Inwoners en boere van die winterreënvalstreek in Namakwaland in die Noord-Kaap was die afgelope naweek oorstelp oor die reën wat sedert verlede Donderdag uitgesak het. Dele van Namakwaland het in 2006 laas goeie reënval gehad en daar is selfs hoop dat die bekende Namakwalandse blommeveld vir die eerste keer in meer as ʼn dekade weer in volle blom sal staan.

Janine Byleveld, bedryfsbeampte van Agri Noord-Kaap, sê volgens statistieke wat van landbouers van die Noord-Kaap versamel is, het die Garies-omgewing in Namakwaland sedert Donderdag sowat 70 mm reën ontvang. Die Kammieskroon-gebied het tussen 40 en 60 mm reën gehad, gevolg deur die Springbok-omgewing wat in dele meer as 50 mm reën ontvang het. Die area tussen Port Nolloth en Kleinzee het tot dusver 30 mm gehad.

Nieuwoudtville waterval (Foto: Rinus Goosen)

“Die gemiddelde boer in Namakwaland het in 2006 of 2007 laas ordentlike reën gehad. Sedertdien het Namakwaland droogte gely,” vertel Byleveld.

Byleveld sê nóg goeie reënval is dié week moontlik.

“Die boere is positief.”

Sy sê die opvolgreën wat ná die eerste reënval kom, is van kardinale belang. “Dis net so belangrik soos die eerste reën van die reënseisoen. Met die opvolgreën kry die gras meer tyd om te ontkiem, dit dra by tot ekstra vog in die grond en dis belangrik om ondergrondse water, wat tans erg uitgeput is, weer op te bou,” sê Byleveld.

Arend Kotzé wat op ʼn plaas digby Nieuwoudtville boer, sê hy het sedert Januarie 175 mm reën op sy plaas aangeteken. Vrydag het hy 40 mm reën gehad en hy verwag dié week nog reën.

Kotzé sê hulle het die afgelope sewe jaar swaar onder droogte gebuk gegaan en het in 2017 hul droogste jaar in die Namakwaland ervaar. “Ons gemiddelde reënval is 300 mm per jaar. In 2017 het ons so min as 90 of 100 mm vir die hele jaar ontvang,” vertel hy.

Kotzé sê hy is positief vir die jaar. “Ons reënvalseisoen het ʼn bietjie laat afgeskop, maar as ons nou van hier af goeie reën gaan kry, gaan dit ʼn baie goeie jaar vir ons wees.”

Die sluise van die hemel het verlede week oor Garies oopgemaak (Foto: Verskaf)

Wimpie Steenkamp wat digby Calvinia boer, sê hy het Vrydag 8 mm reën op sy plaas aangeteken. Hy sê hoewel die winterreënvalstreke in Namakwaland goeie reënval gehad het, is die somerreënvalstreek steeds ʼn groot kopseer. “Ek het 8 mm reën in agt jaar aangeteken. Die wind waai ons reën weg.”

“Ons hoop en vertrou as die winterreënval goed was, ons somerreën ook goed sal wees,” sê Steenkamp.

Danie Jacobs, wat ook in die somerreënvalstreek tussen Springbok en Aggeneys boer, sê dit het tussen 6 en 12 mm op sy plaas gereën.

“Ek is baie dankbaar vir die boere wat in die winterreënvalstreke van Namakwaland al heerlike reën ontvang het,” sê Jacobs.

Dié Namakwalandse boer sê hulle is ook dankbaar om van die bergstroompies weer te sien loop. “Dit beteken die grond is besig om nat te word ná amper tien jaar se droogte.”

Gifberg Vanrhynsdorp (Foto: Namakwa Toere)

Mike Spies, een van die toerleiers van die bekende Namakwa-blommetoere, sê hy verwag dat Namakwaland vanjaar uit sy nate gaan bars. “Met die goeie reën verwag ons ʼn uitsonderlike blomjaar,” vertel Spies.

Spies sê die blomme was in 2006 laas op hul mooiste toe Namakwaland goeie reën ontvang het. “Toe was die blomme oral in Namakwaland te sien. Weens die droogte moes besoekers sedertdien letterlik die blomme gaan soek het. Ons glo die blomme gaan hierdie jaar weer in hul volle glorie blom.”

Spies sê te midde van die Covid-19-pandemie gaan die toerismebedryf onder finansiële druk gebuk. “Al gaan die blomme dalk hierdie jaar op hul mooiste wees, weet ons nie of besoekers dit in toergroepe sal kan beleef nie. Ons kyk na alternatiewe opsies, soos private toere,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mieke ·

Die minus stem kom van iemand wat blyk dat hy God nie verstaan nie…

Misky ·

Wie sal die idioot wees met sy af-duimpie op die kommentaar? Glo jy nie die Here is goed en ons moet dankbaar wees vir die reen nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.