Goeie vooruitsigte vir landbou ondanks uitdagings

(Argieffoto)

Die sukses van minister Thoko Didiza se planne hang af van suksesvolle samewerking tussen die openbare en private sektor.

Die Landbank sowel as die onsekerheid oor die Wetsontwerp op Onteiening en die voorgestelde wysiging van artikel 25 van die Grondwet bly egter ’n groot bekommernis, het Christo van der Rheede, Agri SA se uitvoerende direkteur, gesê.

Van der Rheede het gereageer op Donderdag se parlementêre debat oor die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se begroting vir die 2021-’22-boekjaar.

“Enige poging om produktiewe plase en grond in die algemeen sonder vergoeding te onteien, sal nie net die groei van die sektor die afgelope paar jaar en in die toekoms ondermyn nie, maar dit sal die ekonomie van Suid-Afrika en sy posisie in die internasionale wêreld vernietig.”

Die landbouvooruitsigte vir vanjaar lyk goed, aldus Van der Rheede, maar die sektor word volgens hom deur verskillende uitdagings in die gesig gestaar.

“Soos prysstygings van kunsmis en ander insette, uitdagings in die logistieke sektor, gebrekkige dienslewering deur sommige van die departement se personeel, gebrek aan koördinasie tussen staatsdepartemente, toenemende misdaad in landelike gebiede en gebrek aan ondersteuning aan kommersiële boere in droogtegeteisterde gebiede en diegene wat negatief geraak word deur oorstromings en gebrek aan finansiering deur die Landbank.”

Van der Rheede het gesê die minister het groot klem gelê op die rol wat haar departement speel in die ondersteuning van nuwe boere. “Steun aan die kommersiële sektor moet egter ook in gelyke mate beskikbaar gestel word. Die groei in die kommersiële sektor mag nie as vanselfsprekend aanvaar word nie en moet nie as ’n aanduiding beskou word dat alles goed en wel in hierdie sektor is nie.”

Landbou is ‘n hoërisiko-onderneming en kommersiële landbou is veral blootgestel aan die wisselvalligheid van wêreldmarkte en die vernietigende impak van baie ander veranderlikes. “In hierdie verband doen ons ’n beroep op die minister om voortdurend met die kommersiële sektor in gesprek te tree in ’n poging om die uitdagings waarmee kommersiële boere te doen het, die hoof te bied.”

Die sukses van die aksieplanne wat deur die minister aangekondig is, hang volgens Van der Rheede af van suksesvolle implementering, monitering, evaluering, deurlopende assessering en ondersteuning.

“In hierdie verband kan die private sektor ’n groot rol speel, maar dit moet van meet af aan boord geneem word. Dit is ook belangrik dat ooreenkomste tussen die openbare en private sektor op ʼn regs- en kommersiële grondslag sin maak.

“Kommoditeitsorganisasies en provinsiale organisasies wat kommersiële boere reg oor Suid-Afrika verteenwoordig, sowel as individuele kommersiële boere, implementeer reeds jare lank sulke kommersiële modelle met groot sukses.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.