‘Goeie vordering al gemaak met kragplan’

(Argieffoto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Daar is reeds goeie vordering gemaak met die uitvoer van die energie-aksieplan, ʼn week nadat ʼn ramptoestand weens die energiekrisis in Suid-Afrika tydens die staatsrede aangekondig is.

Só het Michael Currin, waarnemende woordvoerder van die Nasionale Energiekrisiskomitee (Necom), gesê tydens sy eerste terugvoersessie oor die vordering van die implementering van die energie-aksieplan. Die plan is verlede week tydens die staatsrede deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig. Die plan dui stappe aan wat sal toesien dat beurtkrag binne die volgende 18 maande heeltemal afgeskaf word.

Necom sal weekliks opdaterings gee oor die vordering met die energie-aksieplan.

Ondanks verskeie hofsake teen die ramptoestand het Rudi Dicks, hoofsekretaris van Necom en hoof van die kantoor van projekbestuur in die presidensie, gesê Necom sal voortgaan met die noodwetgewing om die kragkrisis te takel.

Die ramptoestand sal Necom en die regering die mag gee om vinniger in te gryp.

Volgens Dicks is die voorstelle vir grootskaalse batteryaanlegte om groenkrag te berg, gefinaliseer en sal teen einde Februarie bekendgemaak word.

“Dit is baie positief omdat Eskom al sedert verlede jaar spook om hierdie [voorstelle] te finaliseer,” sê Dicks.

Eskom is ook amptelik van verskeie verkrygingsregulasies vrygestel, wat volgens Dicks ʼn kardinale stap in die implementering van die kragplan is.

“Dit sal noodverkryging van krag en ander intervensies moontlik maak.”

Dicks het nie veel uitgebrei oor die regering se plan om inwoners en kleinsakeondernemings te help om sonpanele aan te skaf om te help om krag op te wek nie. “Die besonderhede hieroor sal deur die minister van finansies in die begrotingsrede volgende week beskikbaar gemaak word. Dit is in die hande van die nasionale tesourie.”

Daar sal ook teen volgende week riglyne opgestel word oor hoe sakeondernemings, huishoudings en onafhanklike kragprodusente oortollige krag wat opgewek word aan die netwerk kan verkoop. “Dit is ʼn vennootskap tussen Eskom en die privaatsektor.”

Daar is ook goeie vordering gemaak met die inwerkingstelling van die nasionale transmissiemaatskappy van Eskom, wat een van drie entiteite gaan wees.

“Die maatskappy is afhanklik van lisensies, afhangende van verskillende aspekte van sy funksies en bevoegdhede. Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het nou die groen lig gegee om die aansoeke vir die lisensies vir openbare kommentaar vir die volgende 30 dae te publiseer.”

Verder is aangekondig dat Eskom kontrakte met buurlande gesluit het om ʼn bykomende 300 MW van buurlande af in te voer en die eerste invoer sal binnekort plaasvind. Die doelwit is om sowat 1 300 MW in totaal in te voer.

Thomas Conradie, waarnemende hoof van opwekking van Eskom, het tydens die sessie gesê die kragvoorsiener het oor die jare sy sogenaamde “reëngereedheid” verbeter deurdat daar genoeg droë steenkoolvoorraad in die swaarreënvalgebiede (byvoorbeeld Mpumalanga) is. Nat steenkool was in die verlede ʼn groot probleem.

Volgens Conradie het Eskom ook genoeg diesel vir die afsienbare toekoms vir sy oopsiklusgasturbines en groot verskepings van diesel is onderweg.

Daar sal in die komende weke herstelwerk aan tien opwekkingseenhede voltooi word wat die kragnetwerk se kapasiteit sal verbeter om gereed te wees vir die wintersmaande wat kom.

Fase 3- en fase 4-beurtkrag sal vir die naweek voortduur, met fase 3 wat deur die dag van krag sal wees en tussen 16:00 en 05:00 na fase 4 verhoog word.

Altesaam 17 000 MW is tans weens onbeplande instandhoudingswerk nie beskikbaar nie, wat volgens Conradie té hoog is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harley Davidson ·

Wat is sover gedoen is die Seb rasisme geskrap, is die onbevoegde parasiete by escom afgedank,het hulle bevoegde tegniese personeel aangestel,wat is gedoen sodat ons opgewonde kan word?

Nie Verbaas ·

En wat wil jy met net 1300MW doen grapjas? Julle kan dit net sowel los. Seker net die sekeres wat sonpanele sal kry en nie besighede wat saak maak nie. Ek word al NAAR om na die narre se laaste stuiptrekkings te luister.

Vrystaat2109 ·

André de Ruyter se kallers waarmee nou geploeg word??? Hoekom is daar dan nou SO skielik aksie,?? Hy is gesaboteer nou gaan die kaders wat aangestel word weer opgehemel word terwyl sy aksie planne gebruik word.

Marina ·

Ek het nou amper van my stoel afgeval so geskok was ek …. wie probeer hulle bluf??? Stage 6 die week maar daar was vordering????? Mens sou sweer ons is dom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.