‘Goeie vordering’ gemaak in McGown-vrylating

Stephen McGown en sy vrou Foto: Skermskoot uit die ENCA-video

Stephen McGown en sy vrou Foto: Skermskoot uit die ENCA-video

ʼn Beleggingskonsultant van Mali wat sy hulp vrywillig aangebied het om die vrylating van die gyselaar Stephen McGown te verseker, het gesê hy het geloofwaardige nuus dat die Suid-Afrikaner “gesond en in ʼn goeie toestand” is.

Mohamed Yehia Dicko (48) het uit die hoofstad Bamako gesê hy het “goeie vordering” gemaak en sal hierdie naweek na Suid-Afrika terugkeer om met Imtiaz Sooliman, hoof van die liefdadigheidsorganisasie, Gift of the Givers, te vergader.

“Ons het goeie vordering gemaak,” het Dicko, wat in Bedfordview, Johannesburg bly en op 9 Julie in Mali aangekom het, gesê. “Ek het my eie Tuareg-kontak in die noorde van Mali gesê. Hy het my na Niger gestuur. Daar het ek bevestiging ontvang dat McGown en die Sweedse gyselaar, Johan Gustafson, leef en in ʼn goeie toestand is. Ons probeer om die band te bou.”

Gustafson en McGown is in November 2011 in Timboektoe ontvoer en word sedertdien in Mali gyselaar gehou. Al twee het in Junie in ʼn video verskyn wat hul ontvoerders op YouTube gepubliseer het waarin hulle hul onderskeie regerings versoek om hul vrylating te verseker.

Dit is nie duidelik watter groep hulle aanhou nie, of dit Al Kaïda in die Islamitiese Maghreb is, of ʼn versplintering van dié groep.

Dicko bly al 13 jaar in Suid-Afrika en hy werk as ʼn konsultant vir maatskappye, soos mynmaatskappye wat in Mali wil belê. Hy het gesê hy was nog nie in kontak met die Suid-Afrikaanse ambassade in Mali of die regering van Mali of Niger nie. Hy is oorspronklik van Gao, ʼn stad aan die rand van die woestyn waar die hoof ekonomiese aktiwiteit mensehandel is, en dit is dus geloofwaardig dat hy kontak sal kan maak met invloedryke sake- en godsdienstige leiers en stamhoofde.

Dicko het gesê hy weet nie waar die gyselaars aangehou word nie en het “nog nie die stadium bereik” waar hy enige eise van die ontvoerders gehoor het nie.

“Ons weet nie wat die proses sal wees nie. Ons het nog nie die eise gehoor nie,” het hy gesê.

Dicko is die visepresident van die Malinese diaspora-vereniging in Suid-Afrika en het verlede maand sy dienste vrywillig aangebied toe hy Sooliman se versoek op Talk Radio 702 gehoor het om McGown se vrylating te verseker.

Gift of the Givers se inisiatief is ʼn eerste in die Sahel waar gyselaars in die verlede óf weens onderhandeling deur bemiddelaars, wat deur regerings of mynmaatskappye aangestel is verseker is, óf weens militêre aksie.

Lees alle vorige berigte oor Stephen McGown op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.