‘Goeie vordering gemaak’ rakende Pta-kragkrisis

Foto: Tshwane-metro

Tegnici spook steeds onverpoosd om die elekrisiteitstoevoer by die Wapadrand-substasie in Pretoria te herstel.

Talle buurte in die ooste van Pretoria, insluitend Wapadrand, Faerie Glen, Silver Lakes en dele van Equestria, is sedert Dinsdag sonder krag ná ʼn brand by die substasie.

Darryl Moss, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur, het Vrydagmiddag gesê die bou van die tydelike platform vir die nuwe panele is afgehandel en dat die stroombrekers tans teen die panele vasgesit word.

“Die toets van die transformators is ook voltooi sowel as die installasie van die primêre netwerkbeskermingstoerusting in die skeepshouer en word tans aan die transformators gekoppel.”

Foto: Tshwane-metro

Moss het bygevoeg die spanne vorder fluks en dat die areas wat geraak word, enige tyd van Saterdag tot Sondag weer krag sal hê.

“Die Stad wil graag inwoners en ondernemings bedank vir hul ondersteuning wat hulle aan die spanne gegee het wat 24 uur per dag op die perseel is. Sommige inwoners het vir die spanne kos en koeldrank voorsien.”

Moss het ook weer aan inwoners om verskoning gevra vir die ongerief. Maroela Media het vroeër berig die brand by die substasie het Dinsdag omstreeks 10:00 ontstaan. Brandbestryders is onmiddellik na die toneel ontbied en die vlamme is net ná 12:00 geblus. Die Stad Tshwane het egter Dinsdagmiddag laat bevestig dat die substasie heeltemal in die brand verwoes is.

Verdere ondersoeke word gedoen om die presiese oorsaak van die brand te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Die kos en koeldrank is wonderlik. Dankie julle dit is hoe mens saamstaan in tye van nood.

TS ·

Omtrent tyd. Ons is al vanaf Maandag oggend sonder krag. Jip. MAANDAG.

Osie ·

@ Slim TS: die HELE substasie moet oorgebou word! ‘n Maand se werk probeer die span in 7 dae doen! As jy so goed is, hoekom gaan help jy nie, dan was ons elektristiteit al aan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.