‘Goeie vordering’ met herstel van gebrande substasie

Die Tshwane-metroraad sê hy vorder goed met herstelwerk aan die Mooikloof-substasie. (Foto: Stad Tshwane/Twitter)

Die Tshwane-metroraad het Dinsdag gesê hulle het oor die afgelope 24 uur “beduidende vordering” met herstelwerk by die Mooikloof-substasie in Pretoria-Oos gemaak.

Dit sluit die installering van ʼn transformator- en toevoerpaneel asook verskeie kabels in.

Talle inwoners sit sedert Woensdag sonder krag nadat ’n brand grootskaalse verwoesting by dié substasie gesaai het. Die metro het vroeër aangedui dat sowat 26 kragpanele deur die vlamme vernietig is.

Luidens ’n verklaring deur die metroraad is verskeie tegniese installerings en die herstel van die staalstruktuur en dak van een van die vertrekke wat gebrand het, nou afgehandel.

“Dít het die installering van verskeie komponente bespoedig.

“Die span sal vandag [Dinsdag] voortgaan met die installering van meer elektriese komponente en gelyktydig ook die transformators se olie suiwer.”

Die metroraad het nie ʼn aanduiding gegee van wanneer kragtoevoer ten volle herstel sal wees nie.

Daar is egter vroeër aangedui dat herstelwerk moontlik nege dae sal neem.

Maroela Media het vroeër berig dat die metro kragtoevoer na 1 500 huishoudings en sakeondernemings in Moreletapark kon herstel, maar dat inwoners van onder meer Pretoriuspark, Mooikloof, Olympus, Bosveld en ’n deel van Garsfontein steeds nie elektrisiteit het nie.

Die reën van die afgelope paar dae het herstelwerk boonop vertraag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet ·

Kyk ne, net die opskrif aleen vertel van onreelmatighede. Die hoeveelste keer brand hierdie substasie nou al af. En hoeveel keer gaan dit nog afbrand.

Jywilwat ·

Daar word absoluut doodstil gebly rakende die oorsaak van die brand. Laat mens wonder hoekom…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.