Golden Arrow loop weer deur in Kaapstad

Foto ter illustrasie. (Foto: Golden Arrow Bus Services/Facebook)

Vier Golden Arrow-busse het Donderdagoggend in ʼn township in Kaapstad aan die brand geraak nadat dit met petrolbomme bestook is. Een van die metro se vragmotors het ook in die slag gebly.

Die jongste aanval op busdienste in die Stad hou glo verband met ontevredenheid oor die skut van ʼn aantal taxi’s in Nyanga.

Bronwen Dyke-Beyer, woordvoerder van die busdiens, het aan Maroela Media bevestig dat vier van die diens se busse in twee verskillende voorvalle aan die brand geraak het.

Drie busse is om 09:30 op Govan Mbekistraat en Emmsrylaan met petrolbomme bestook, terwyl ʼn vierde bus op die hoek van Eisleben- en Sheffieldstraat aan die brand gesteek is.

Kevin Jacobs, woordvoerder van Kaapstad se verkeersdiens, sê een van die Stad se busse het ook tydens die aanvalle in die slag gebly.

Die metro se brandweer en reddingsdienste was vinnig op die toneel en kon die brande blus. Die busse het egter onherstelbaar verbrand.

“Geen beserings is met die eerste voorval aangemeld nie, maar die bestuurder van die vierde Golden Arrow-bus het wel hoofbeserings opgedoen,” sê Dyke-Beyer.

Golden Arrow is intussen meegedeel dat die aanval moontlik verband hou met ʼn verkeersoperasie wat vroeër die dag veroorsaak het dat ʼn aantal taxi’s in die gebied geskut is.

Nog niemand is skynbaar in verband met die vermeende brandstigting in hegtenis geneem nie.

Die Golden Arrow-busdiens, wat die hele Kaapse skiereiland en die Kaapse vlaktes bedien, het die “brutale geweld” op sy busse veroordeel en gevra dat owerhede so gou moontlik die skuldiges vastrek.

Golden Arrow het ook onderneem om al sy dienste vanaf Borcherds Quarry in dié gebied op te skort, aangesien hy nie tans in Nyanga diens kan lewer nie.

Geen paaie is weens die voorvalle gesluit nie, maar die metro het inwoners gemaan om versigtig te wees wanneer hulle die gebied betree.

Ricardo Mackenzie, die DA se woordvoerder oor vervoer in die Wes-Kaap, het sy skok oor die voorval uitgespreek en gesê die koste daaraan verbonde om die skade te herstel beloop sowat R10 miljoen.

“Hierdie voorval plaas nie net verdere druk op pendelaars en ons infrastruktuur nie, maar wys ook die wetteloosheid waarmee mense hulle besig hou.”

Mackenzie gaan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nader om die staande komitee vir vervoer toe te spreek oor sy strategie om die betrokkenes suksesvol te vervolg sodra hulle vasgetrek is.

“Die feit dat so min mense wat by soortgelyke voorvalle betrokke is, skuldig bevind word, laat mense net verder toe om pendelaars en die infrastruktuur te terroriseer,” sê hy.

“Openbare vervoer bly die kern van ekonomiese aktiwiteite en ons kan nie toelaat dat dit tot niet gaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jack ·

Ai dat die maatskappy nog nie die lig gesien het nie gaan my verstand te bowe.Hulle busse word uitgebrand maar hulle gaan maar voort sonder om dienste op te skort.Miljoene rande se skade en verlies maar hulle gaan maar voort om ‘n sukkelende diens te verskaf.Laat die mense LOOP want dan sal hulle leer om nie busse uit te brand nie.

Samuel ·

Golden Arrow bedien die hele Skiereiland, nie net die townships nie.

Oosieoos ·

Hoe dom kan mens wees almal kan sien wie sit agter die brande. Stop alle taxies tot die skuldiges eienaarskap aanvaar. Sal hul verdiende loon wees

Witbaard ·

Eis die busse by die versekering, belê die geldjies en laat hulle loop waar hulle wil wees. NET SOOS IN ZIM. Ry met “pootifar”

domheks ·

Golden Arrow – kry julle nie die boodskap nie? Laat hulle loop waar hulle wil wees. Kan nie glo julle versekering bly skade vergoeding uitbetaal nie.

marius ·

Maak die maatskappy toe . Dan kan diegene wat loop die taxi eienaars verantwoordelik hou .

efjy ·

Gister het hulle gestaak vir beter/goedkoper openbare vervoer. Vandag brand hulle die goedkoper openbare vervoer af. Wat makeer die mense? Kan niemand hulle tot beter insigte help nie?

SjN ·

Onttrek die Busse, laat hul voetslaan en hul eie mense se taxis brand as hul ontevrede is.

Nie Verbaas ·

En ons regering laat maar net doodeenvoudig toe dat taxi eienaars voortgaan om te regeer. Slapgatte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.