GOOD-party vra OB moet Kaapstad-grondtransaksie ondersoek

Kaapstad. (Foto: pixabay)

Die GOOD-party het die openbare beskermer (OB) gevra om vas te stel of Kaapstad se verkoop van ʼn gesogte eiendom in die middestad aan Growthpoint Properties bo verdenking was.

Burgerregtegroepe gekant teen die verkoop van die eiendom voer aan Growthpoint het sowat R140 miljoen minder vir die eiendom betaal as wat dit werd is, het GOOD in ʼn verklaring gesê. Die perseel in Laer Langstraat is in 2016 verkoop.

GOOD het gesê die Stad Kaapstad het die afgelope week geweier om ʼn forensiese verslag oor die transaksie bekend te maak.

“As wins gemaak word uit die verkoop van waardevolle bates wat aan die staat behoort, kom dit die burgers toe, nié private maatskappye nie,” het Brett Herron, ʼn GOOD-partylid in die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer, gesê.

“In dié geval kon die stad die bykomende geld gebruik het om ʼn duisend ten volle gesubsidieerde huise te bou, of verskeie nuwe biblioteke, of om beter beligting en toerusting te installeer in gebiede wat onder misdaad en bendegeweld deurloop. Pleks daarvan kry die ontwikkelaar ʼn allemintige afslag van R140 miljoen.”

Herron het gesê behalwe om te bepaal of die transaksie wettig was, hoop GOOD ook dat die OB se kantoor die ware aard van die verhouding tussen die DA en die eiendomsmaatskappy kan bepaal.

Die DA beheer die Wes-Kaap en is sedert 2016 se munisipale verkiesing, in samewerking met ander partye, ook aan die stuur van Johannesburg.

GOOD-partyleier, Patricia de Lille, het die DA verlede jaar verlaat.

In April vanjaar het GOOD die Johannesburgse metroraad se integriteitskomitee gevra om die beweerde afslag van R200 miljoen in munisipale dienstegeld aan Growthpoint te ondersoek.

Die Johannesburgse burgemeester, Herman Mashaba, het destyds geëis dat Herron die (volgens Mashaba) lasterlike bewerings oor die burgemeester se voormalige bande met die eiendomsmaatskappy terugtrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pat ·

Die auntie was dan in charge nou wil sy wolf Wolf skreeu. Nou deel van die parlement en so onskuldig net soos die res van hulle. Sal ons ooit ooit weer regkom voordat alles in duie stort. En dit gaan binne kort wees

Johann M van Heerden ·

Aunty Pat was toe baas van die plaas. Hoekom nou daaroor raas? Sy kon dit mos lankal ondersoek het?

marco polo ·

Was sy nie toe burgemeester nie? Klink vir my soos suur druiwe en nou is die DA wat vir haar gesorg het, die vark in die storie. Nee wat antie, jy flous niemand met jou kamma integriteit nie.

Johanna Botha ·

De lille het haar kiesers lelik in die steek gelaat !

Gert van Wierdapark ·

Indien ek reg kan onthou van vorige beriggewing oor die saak, was die eiendom onderwaardeer gewees. Verder – hoekom weier die DA om die forensiese ondersoek bekend te maak? Waar daar n rokie is…..!!

John ·

Indien Pat haar sin kry sal ‘n plakkerkamp binnekort daar verrys. Sy is juis deur RC geloof oor haar standpunt dat arm plakkers te ver van hul ‘werkplekke’ moet woon. Sy gaan nou die land nader aan Brazil laat dryf… Haar gunsteling kleur was toe eerder rooi as blou.

Zark ·

Gebruik aunt Patty nou inligting uit haar tyd as burgermeester om die DA swart te smeer? Indien dit die geval is, moet sy eerste aan die pen ry voordat die klagtes enigsins ondersoek word. Klink nou na die ob se (Zuma) vendetta teen Gordan. Mag hulle inligting laat uitlek?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.