Google-dienste aan’t herstel ná dit Maandag ineenstort

(Foto: Brett Jordan/Unsplash)

As jy staatmaak op Google en die omvattende reeks dienste wat hy lewer om jou werk gedoen te kry, was Maandag bes moontlik nie baie produktief nie. YouTube, Gmail en enigiets van Google Docs tot Google Play Movies en selfs Google Calender het Maandag oor groot dele van die wêreld ineengetuimel.

Teen vroegmiddag het Google se sogenaamde Workspace Status Dashboard rooi gegloei vir oënskynlik al sy dienste wat beteken daar is ʼn diensonderbreking.

Team YouTube het vroeër op Twitter gesê hy is bewus van die probleem.

Die webwerf Gizmodo het berig die onderbreking laat sekere mense letterlik in die donkerte. Dit sluit in die webwerf se voormalige hoofredakteur wat Google Home gebruik en weens die onderbreking nie die ligte in sy kleuter se kamer kon aanskakel nie.

Vir ander was dit ʼn wrede ontnugtering om te besef hoeveel hulle op tegnologie staatmaak in hul alledaagse lewe.

Die webwerf downtracker.com het berig hordes klagtes is aangemeld van mense wat nie by hul Gmail-adresse kon aanmeld nie. Sowat 9% van mense het aangedui dat hulle nie die Google-soekenjin kan gebruik nie, terwyl 90% aangemeld het dat hulle nie hul e-pos kan gebruik nie.

Gmail het nagenoeg 1,5 miljard aktiewe gebruikers.

Duisende mense in Suid-Afrika het ook probleme met Google se dienste aangemeld.

Onderbrekings by Google-dienste is nie alledaags nie en dit is in hierdie stadium nie duidelik presies wat die probleme veroorsaak nie. Daily Mail het ʼn kort ruk gelede berig dit lyk of die probleme wel uitgestryk en die dienste weer herstel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vrijburger ·

Mmm hopelik gaan mense se oe ‘n bietjie oop oor die monopolie en beheer wat “big tech” oor ons lewens het.

Gawie ·

Gelukkig het dit my nie geraak nie – ons krag was heeldag af gewees! :)

4ntj13 ·

Oppas, netnou kry Eskom of Centlec nóg verskonings! Ons was van Saterdag al 20 ure sonder krag. Nou is dit weer so.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dankie tog! Ek en my vrou het dit vrygespring, want sy was hospitaal toe om haar spesialis te gaan sien! Sy sou seker vir een keer in haar lewe gevloek en skel het. Haar hele besigheid is op Blogger gebou.

Eend Bessinger ·

Ek was te besig elders om te besef daar is probleme. As ek moes my internet-besigheid doen, sou ek vir die eerste keer in ‘n lang tyd gevloek en geskel het en my rekenaarspeletjie gespeel het om my besig te hou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.