Gordel red polisieman se lewe

Die koeël het in die gordel vasgehaak (Foto verskaf)

Polisiebeamptes was Sondagaand omstreeks 19:20 op patrollie in Nyanga, Kaapstad, toe hulle ʼn bronskleurige Toyota Avanza voorgekeer het.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid oor veiligheid en sekuriteit, sê die bestuurder van die motor het aanvanklik geweier om ag te slaan op die opdrag, maar toe hy besef hy gaan nie wegkom nie, het hy stilgehou.

“Drie insittendes het uitgeklim, weggehardloop en in die hardloop op die beamptes se voertuig geskiet. Een van die beamptes is in die heup getref. Die koeël het egter net sy gordel getref. Hy het gelukkig slegs ʼn kneusplek opgedoen.”

Ná die verdagtes weggehardloop het, het beamptes ontdek die twee oorblywende insittendes in die motor is die persone wat gekaap is.

“Dit is die jongste voorbeeld van die goeie werk wat ons personeel op ʼn daaglikse basis doen, gereeld met ʼn groot risiko vir hul persoonlike veiligheid. Benewens minstens nege vuurwapens wat wetstoepassers die afgelope twee weke herwin het, het hulle ook vier gekaapte voertuie opgespoor.”

Die stadsraad wens die beseerde beampte ʼn spoedige herstel toe.

“Ek wil die beamptes ook loof vir hul situasionele bewustheid. Buiten die motor wat hulle gevind het, het hulle ook twee gekaapte slagoffers van ʼn onseker lot gered.”

Enigiemand met inligting oor die verdagtes kan ‘n wenk instuur deur 0800 110 077 te skakel.

Wetstoepassers het die afgelope week 254 verdagtes in hegtenis geneem en 5 072 boetes vir verskeie oortredings uitgereik.

Metropolisiebeamptes het 75 persone in hegtenis geneem, insluitend ses persone vir dronkbestuur. Altesaam 1 470 verkeersboetes en boetes vir ander oortredings is uitgereik.

Kaapstad se verkeersdiens het 71 motoriste die afgelope week in hegtenis geneem – waaronder 57 vir bestuur onder die invloed, vyf vir roekelose of nalatige bestuur en nege vir verskillende oortredings.

Volgens Smith het die getal inhegtenisnemings vir dronkbestuur die afgelope vyf weke gestyg van 24 in die middel van Februarie tot 43 verlede week en 57 vandeesweek.

Een van die vuurwapens waarop beamptes beslag gelê het (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Martie ·

Dat daar mense is wat bestuur as hulle iets gedrink het sal ek nie betwis nie, dronkbestuur, dis ‘n beredeneerbare kwessie. Miskien moet hulle meer let op mense wat padreels verontagsaam. Ek sien elke liewe dag hoe mense oor stopstrate ry, bo – oor sperstrepe, aan die verkeerde kant verbygaan, met karre ry wat brul dat hoor en sien vergaan, geen ligte, geen flikkers, verkeer reël waar dit nodig is en vele meer maar dit gaan JP Smit en sy brigade nie sien as hulle onder bome sit of in die mall rondloop en kruideniersware koop of by ‘n padblokkade staan nie. They must crawl the streets day and night in fast cars, they do have, watching like the olden days. Dis mos waarvoor ons belastingbetalers hierdie duisende wetstoepassers en metro beamptes betaal wat ons nooit sien nie. Waar is hulle, ons hoor elke jaar daar word honderde opgelei.

Cassie Carstens ·

Martie ek stem saam, maar dis onregverdig om die wetstoepassers te veroordeel dat hulle wegkruip en inkopies doen. Onthou hulle het kantoorwerk ook om te doen, maar ek stem saam te veel mense kom weg met swak bestuur. Reageer liewers meer daarop.

Bolandse Nooi ·

@Martie, dronkbestuur maak mense dood!!! ‘n Kollega is 3 weke terug dood a.g.v. dronkbestuur. Ek stem ook saam oor wetstoepassing t.o.v. verkeersreëls-nakoming, spoedbeheer en dies meer, maar ek wil sê: as drank so streng beheer word soos wat tabakprodukte beheer word, sal baie padsterftes voorkom word. Om bloot te sê: “Not for sale for under-18’s” is nie genoeg nie. En rook moet geheel en al verban word. Nie alleen is rook die groot oorsaak van baie kankers nie, dit affekteer ook diegene wat NIE rook NIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.