Gordhan beloof geld vir SAL kom later dié maand

(Foto: Unsplash)

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, sê in ʼn brief aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) die regering gaan voor die einde van vandeesmaand finansiering vir die sakeredding van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) verseker.

Gordhan het die onderneming gegee in ʼn brief aan Skoor-voorsitter Mkhuleko Hlengwa, waarin die minister vra om nie ʼn vergadering wat vir Dinsdag geskeduleer is, by te woon nie.

“Ek het met die SAL se sakereddingspraktisyns beraadslaag en ons versoek dat die vergadering na ʼn ander datum, verkieslik die week van 26 Oktober, verskuif word,” het Gordhan geskryf.

“Dit gaan die SAL kans gee om te konsentreer op die verkryging van die vereiste finansiering en die inwerkingstelling van die sakereddingsplan wat aanvaar is en daar dan terugvoer aan die komitee gegee kan word.”

Twee weke gelede het sakeredders Les Matuson en Siviwe Dongwana aangekondig dat alle bedrywighede by die lugdiens opgeskort word terwyl die gesprekke met die regering voortduur om finansiering van R10,4 miljard vir die redery se korttermyn- en mediumtermynbedrywighede te verseker.

Matuson en Dongwana het dit in ʼn vergadering met rolspelers duidelik gestel dat tensy die finansiering gevind word, likwidasie of ʼn gestruktureerde afwentelingsproses die enigste ander uitweg is.

Gordhan het tot dusver volgehou dat die bloeiende redery gered en geherstruktureer moet word – in teenstelling met die minister van finansies, Tito Mboweni, wat openlik vasskop teen nog ʼn reddingsboei van die staat.

Die departement van openbare ondernemings het die afgelope paar maande gesê hy is deur verskeie belangstellendes genader om moontlik ʼn private vennootskap met die SAL aan te gaan.

Tot dusver het dié voorstelle nog dadels opgelewer en daar is in hierdie stadium geen plan om verdere regeringsgeld daarvoor beskikbaar te stel nie.

Daar sal na verwagting later vandeesmaand, wanneer Mboweni sy mediumtermynbegroting voorlê, meer sekerheid hieroor wees.

Dit word op goeie gesag verneem dat finansiering vir die SAL nie as ʼn sogenaamde reddingsboei in begrotingsterme aangedui gaan word nie, maar eerder as ʼn belegging in lugvaart.

Die regering se ekonomiese herstelplan wat pres. Cyril Ramaphosa Donderdag in die parlement sal bekend maak, stel dit klaarblyklik duidelik dat daar geen geld in die komende boekjaar beskikbaar is vir sukkelende staatsondernemings nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

Paaie moet in stand gehou word – anc “daar is nie geld nie.”
Eskom is bankrot – anc “daar is geld.”
Boere het droogtehulp nodig – anc “daar is nie geld nie.”
SAL is bankrot – anc “daar is geld.”
Meer skole is nodig – anc “daar is nie geld nie.”
Die unies eis verhogings – anc “daar is geld.”

Aai ·

Pieter jy het die een vergeet.
Korrupsie -anc”daar is geld”

Anel ·

As dit nie nie ‘n reddingsboei is nie maar belegging, waar kom die geld vandaan? Uit ons pensioenfonds? Dat moet alle pensioenarisse verniet vlieg want ons sal daardie geld nooit ooit weer sien nie.

Pieter ·

Die land brand en Gorrdhan weet niks wat aangaan nie. Luister na Tito, want dink hy weet meer as almal van die anc en eff saam. Jy moet bou op wat werk en dit wat anc gebreuk het moet maar weg sodat die land kan voort beweeg. (En strikes moet stop gesit word.)

Jakes ·

Seker die grootste grap van die jaar. Niemand sal in n lugdiens bele wat jare gelede al onderdeur is nie.

Jacobus ·

Ons agbare ministers lewe en werk werklik aar in digte silo’s. SAL. is niks anders as ‘n skandalige hi-tek skrootwerf.

Janine ·

Sinkende skip word weereens uitgehelp. Daar is nie meer hoop nie, regtigwaar! Die land is vuisvoos. Ons boere is vuisvoos. Belastingbetalers is vuisvoos! En nie een werkende breinsel tussen die land se regeerders nie….

Sarel ·

Wat van Denel…personeel kry nie salaris nie
Nee wat Gordon stel teleur

4ntj13 ·

Beleggings lewer ten minste dieselfde waarde later terug vir die belegger. Ek kan nie sien hoe SAL al die biljoene ooit aan enigiemand kan teruggee, as dit tot dusver nie moontlik was om ten minste op te hou leen of bedel nie. Dus, stop die opsmukkery en wys eerder jul planne om dit te kan doen. Intussen verwag die meeste mense nie dat lugrederye gou, indien ooit weer dieselfde vlag van gewildheid kan bereik as voor Covid en voor die nuutste klimaatskrisisse nie. As Tito dus nee sê, is dit die enigste belangrike inset nodig. Dan behoort SA nee te sê. Dis hartseer dat Pravin nou dáárdie pad probeer vat na ʼn voorheen meer konserwatiewe reputasie.

J ·

‘…as daar nie brood is nie … gee hulle koek om te eet!’ Beroemde woorde van Frankryk se koningin, Marie-Antoinette voor die Franse Rewolusie. (voordat haar kop afgekap is onder die guillotine).

Gordhan en sy ANC (rampokker) regime wil vir die honger SA mense ‘VLIEGTUIG KAARTJIES” gee in plaas van brood!

Rampspoed wag!

Kosie ·

Gordhan was na my mening seker amper die swakste minister van finansies wat die land al ooit gehad het, en dit sê nogal iets. Die kommunis moet eerder ver van enige gelde gehou word, want kyk hoe het hy ons in total skuld gedompel toe hy die minister van finasies was. My teorie hoekom die ANC die SAA aan die gang wil hou, teen wil en dank is dat dit vir hulle ‘n maklike manier bied om uit die land te vlug sou dinge erg verkeerd gaan. Ja, dit is net ‘n teorie, maar hoekom dan so kleef aan iets wat duidelik nie meer lewensvatbaar is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.