Gordhan bevraagteken tydsberekening van aanklagte

Pravin Gordhan, minister van finansies, tydens sy begrotingsrede op 24 Februarie 2016 (Foto: GCIS)

Pravin Gordhan, minister van finansies, tydens sy begrotingsrede op 24 Februarie 2016 (Foto: GCIS)

Pravin Gordhan, minister van finansies, het Dinsdag die tydsberekening van die bedrogaanklag wat teen hom gebring is, bevraagteken.

“Wat is dit met hierdie land en sommiges in hierdie land, politici en persone binne die gereg, wat kies wanneer om hierdie soort goed te doen,” het Gordhan tydens ʼn seminaar in Midrand gesê, kort nadat hy die nuus ontvang het dat hy vervolg gaan word.

Gordhan het gesê hy neem kennis van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se amptelike dagvaardings aan hom en twee voormalige kollegas by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) slegs twee weke voordat hy sy mediumtermyn-begrotingsraamwerk op 26 Oktober moet lewer. “Daar is iets aan begrotings wat baie aanloklik is…,” het Gordhan bygevoeg.

Hy het genoem dat hy vroeër vanjaar ook deur die Valke geteiken is enkele dae voordat hy sy nasionale begrotingsrede in Februarie moes lewer. Hy is toe ʼn lys met 27 vrae gestuur oor ʼn sogenaamde “rogue”-eenheid binne die SAID wat na bewering meer as ʼn dekade gelede op die been gebring is.

Dit het daartoe gelei dat Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, aangevoer het dat daar ʼn poging is om die minister te ondermyn.

Shaun Abrahams, hoof van die NVG, het vroeër vandag aangekondig Gordhan word saam met sy opvolger as SAID-kommissaris, Oupa Magashula, en voormalige SAID-hooggeplaaste Ivan Pillay aangekla. Kort hierna het die ANC in ʼn verklaring gereageer deur te sê die party ontken enige politieke inmenging in die vervolgingsproses.

Gordhan het onlangs aan Bloomberg gesê die ondersoek na die eenheid is “politieke kwaadwilligheid”. Abrahams het egter Maandag hierdie uitspraak ontken deur te sê “dit kan nie verder van die waarheid verwyderd wees nie”.

Die DA het intussen in ʼn verklaring gesê die NVG se besluit om die minister te vervolg hou rampspoedige gevolge vir die land se reeds sukkelende ekonomie in. “Die feit dat die minister van finansies vervolg word en sal teregstaan op aanklagte van bedrog en diefstal is ʼn ramp vir Suid-Afrika se ekonomie,” het David Maynier, die skaduminister van finansies, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Christo ·

Ek het na Abrahams se nuuskonferensie geluister – The lady doth protest too much, methinks.

andrea van vuren ·

Toe Thuli Madonsela ‘n paar lewensbelangrike vrae probeer vra het, ontduik Zuma sy verantwoordelikhede en vlug op die belastingbetalers se geld Kenia toe. Om wat daar te maak? Shaun Abrahams, ek twyfel of jy in die regte posisie is om mense met integriteit te vervolg. Word wakker man!

Callie van der Merwe ·

n Ramp, dis al wat hierdie korrupte regering en die belhamel daar bo nog die heeltyd is en was! Sy tyd is verstreke!!!

Liewe heksie ·

Pravin bevraagteken Zuma en gespuis se motivering jy staan in hul pad en hul gaan enigeiets doen om jou uit te lig en van rooyen in daai stoel te kry jy het n boom oor hul goed uitgewerkte pad gegooi

John ·

Klink of tweespalt in die regering aan die ontwikkel is. Meer as ‘n verjaarsdag-ballon gaan bars…

Absolutely ·

Jy is 100% in die kol!!!! Fantastiese uitdrukking, kannie wag vir daai balon bars nie!

SARIE VAN HEERDEN ·

Elke keer wanneer SA ‘n krisis beleef pak Zuma sy soetkysie en weg is hy uit die land. Miskien sit hy dan van ver die gebeure in die land en bekyk oor televisie sodat hy sy planne en verskonings kan bedink en gereed is om dit vir die VOLK te vertel wanneer hy terugkeer. As die land brand is hy snoesig erens waar mense hom nog glo.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.