Gordhan: ‘Ek het nie met die Guptas vergader’

Pravin Gordhan. Foto: Nhlanhla Phillips/ANA

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het aan die kommissie van ondersoek na staatskaping gesê hy het nooit in direkte vergaderings met die Gupta-familie gesit nie.

Volgens Gordhan het hy hulle net nou en dan by amptelike funksies gesien. Die minister het gesê hy wil duidelikheid hieroor verskaf nadat sy getuienis verlede week aan die media uitgelek is voor hy by die ondersoek kon getuig.

“Weens die uitlek van my verklaring is baie gefokus op ‘het jy die Guptas ontmoet of nie?’ en nie ‘wat het jy met hulle gedoen?’ of het ek enige onbehoorlike ooreenkomste met hulle aangegaan nie. Ek het hulle by krieketwedstryde gesien. Daar was ontbytvergaderings waar ek moes wees om die president te ondersteun en dit kan beteken ons was in dieselfde vertrek. Ek wil dit duidelik maak dat daar geen vergaderings was nie.”

Rakende ʼn vergadering met die Indiese miljardêr Anil Ambani, het Gordhan bevestig dat hulle in 2010 by ʼn hotel in Pretoria vergader het. Hy het gesê die rede hoekom hy met Ambani vergader het, was omdat hy ʼn moontlike belegger in Suid-Afrika was en dat sy maatskappy die selfoonnetwerk MTN wou koop.

Volgens Gordhan was Dondo Mogajane, tans die direkteur-generaal by die tesourie, by die vergadering teenwoordig waar die land se regulasies aangaande verkrygings en die rol van die tesourie bespreek is.

Gordhan het getuig hy was nog nooit by die Guptas se landgoed in Saxonwold nie en dat hy ʼn uitnodiging na die Gupta-troue in 2013 by Sun City van die hand gewys het.

Die minister het ook getuig oor ʼn openbare veldtog wat deur teenstanders teen hom en beamptes van die tesourie georkestreer is in ʼn poging om die departement te kaap. Volgens Gordhan het wetstoepassingsagentskappe soos die Valke gehelp om die veldtog te orkestreer toe dit nog onder beheer van Berning Ntlemeza was.

Hy het getuig Ntlemeza het dae voor die begrotingsrede in Februarie 2016 ʼn koevert by die tesourie ingehandig wat aan hom geadresseer was. Daar was 27 vrae rakende die hoërisiko-eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Volgens Gordhan het hy toe ʼn vergadering met oudpres. Jacob Zuma gereël om oor die Valke se ondersoek te gesels. “Tydens dié vergadering het ek kapsie gemaak oor die vervolging en die voormalige president gevra of politieke aktiviste soos ek nou gereed moet maak om tydens die demokratiese era uitgeskuif te word selfs al het ons die onderdrukking onder die veiligheidpolisie in die apartheidsera oorleef.”

Gordhan het gesê Zuma het in reaksie op sy kommer bloot vinnig deur die brief geblaai. “Hy het gesê hy sal die aangeleentheid met die minister van polisie, toe Nathi Nhleko, bespreek. Ek het geen verdere inligting in die verband van die president ontvang nie.”

Volgens Gordhan is hy tydens sy voorbereiding van sy begrotingstoespraak na ʼn vergadering met Gwede Mantashe, voormalige sekretaris-generaal van die ANC, sy adjunk Jessie Duarte en Zwelo Mkhize, voormalige tesourier-generaal, ontbied. Hy moes van Kaapstad na Johannesburg vlieg en is daar tydens die vergadering aan hom gesê die Valke se ondersoek is ʼn “politieke probleem” en dat ʼn politieke oplossing gesoek sal word.

Die kommissie se sitting duur voort.

Lees alle vorige berigte oor staatskaping op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Geregtigheid ·

Shame die arme man hy lei ook aan geheue verlies soos die meeste in die ANC. Kan daar nie eerlikheid wees nie?

alida ·

Waar val jy uit. Hy is die enigste een wat eerlik en betroubaar is. Die kommentators val die wat lieg aan en nou ook die eerlikes. Wat wil julle hê.

marous ·

Bevestigng van die absulute verotte korrupte spul wat steeds in beheer is . In ander lande sou hulle reeds in die tronk wees , of teen ‘n muur gestaan het . Hulle het die land en al sy mense gereduseer to ‘n stinkende ashoop en daar sal geen gevolge wees nie

Alida ·

Mnr Gordhan se getuienis gaan deuslaggewend wees. Julle sal sien. Hy lieg nie.

Alida ·

Mnr Gordhan se getuienis gaan deuslaggewend wees. Julle sal sien. Hy lieg nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.