Gordhan getuig oor staatskaping

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings (Foto: ANA)

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se langverwagte getuienis sal Maandag by die kommissie van ondersoek na staatskaping aangehoor word.

Gordhan sou aanvanklik al verlede week getuig het, maar dit is op sy versoek uitgestel. Sy 68 bladsy lange verklaring aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping is verlede week aan die media gelek.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gesê ʼn ondersoek sal gedoen word oor die uitlek van getuieverklarings vóór daardie getuies voor die kommissie kon getuig.

Die EFF het nadat Gordhan se verklaring uitgelek het gesê sy verklaring dui daarop dat hy gejok het oor sy ontmoeting met die Gupta-familie. Volgens dié party het Gordhan in 2016 in die wetgewer gesê hy nie met die Gupta-familie in Saxonwold vergader nie.

Die EFF het gesê dit blyk dat Gordhan met opset nie inligting verskaf het oor ʼn vergadering wat hy glo met ʼn miljardêr Indiese sakeman en Ajay Gupta gehad het nie. Die EFF meen Gordhan het dus die etiese kode vir kabinetslede oortree.

Die EFF beskuldig Gordhan daarvan dat hy sy voorlegging aan die kommissie gewysig het nadat Nhlanhla Nene as minister van finansies bedank het toe dit aan die lig gekom het dat hy nie sy vergadering met die Guptas bekend gemaak het nie.

Die EFF het die openbare beskermer (OB) versoek om ondersoek in te stel of Gordhan die parlement mislei het.

Julius Malema (Foto: ANA)

Die EFF is intussen ook van plan om Maandag te betoog in Parktown waar die kommissie sit. Julius Malema, leier van die EFF, sê Gordhan het staatskaping tydens Zuma se administrasie moontlik gemaak.

“Ons het hom ʼn stel vrae gevra – hoe het hy minister van finansies geword? En of hy bewus was van ʼn vergadering waarin sekere mense gevra het dat Zuma hom minister van finansies moet maak. Ons het hom die vrae gevra omdat die Guptas in staat was om te doen wat hulle gedoen het, omdat Zuma deur Pravin bygestaan is.”

Die EFF sal ook Maandag die parlement se etiekkomitee versoek om stappe teen Gordhan te doen.

Gordhan is in 2017 op omstrede wyse deur oudpres. Jacob Zuma in die pad gesteek toe hy nog minister van finansies was. Hy is weer deur pres. Cyril Ramaphosa in die kabinet aangestel en werk intussen onverpoosd om staatsinstellings van korrupsie te bevry en weer op die regte spoor te probeer kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Uiltjie ·

Julius se senuwees is gaar! Hy wil vir Gordhan weggejaag hê. Die man het te veel doodsbeendere in sy kas! Hy is soos n kat op n warm plaat!

Mrs H ·

Niemand het of kon al ooit die “etiese kode van kabinetslede” so vertrap, verneder en breek soos EFF mangrils nie! Dan is hulle boonop bankrot ook!

Hoe nou....... ·

VBS geld gaan dalk nou opduik om hulle te red……?

Nelia van Zyl ·

Hoor wie blaf die hardste! Kan iemand nie hierdie mens dit aan die verstand bring dst sy en sy broers se optredes só ‘n verleentheid is, stilbly is vir hulle die enigste uitweg. Wat ‘n skande!!

Cor ·

Dit gaan nou net by de Eff om te oorleef. Orobeer die aandagvan hulle geraamtes af wegkry. Hulle is nou soos weerlig nie so vinnig nie maar hier en daar vir mov n treffe om iets te wys vir 2019 se verkiesing

Piet parys ·

Miskien moet malema en sy trawante daar op verdag gemaak word as jy vinger wys is daar 4 vingers wat terug wys . Wonder hoeveel van sy 16 miljoen wat hy sars skuld het hy al terug betaal en met wat se geld . As dit ek en jy was sit ons teen die tyd lankaal in die tronk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.