Gordhan getuig terwyl EFF betoog

Pravin Gordhan. Foto: Tracey Adams/ANA

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het gesê diegene wat by staatskaping betrek word, veg terug om te verseker dat “die soeklig nie op hulle val nie”.

Gordhan het onder meer na Bell Pottinger en die fopnuus-verskynsel verwys tydens sy getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. “Mense sal hul buitensporige vrygewigheid of toegang daartoe op een of ander manier verdedig. Die patroon wat aan die lig kom is ʼn subkultuur van kaping wat deel word van die hele verskynsel  … so jy het die groot visse en die klein visse.”

Gordhan het in sy getuienis voor die Zondo-kommissie na staatskaping gesê hy moes met beamptes by die tesourie konsulteer oor gebeurtenisse en vergaderings waarvan hy deel was as minister van finansies aangesien alles nie meer vars in sy geheue is nie.

Hy het ook in sy getuienis die ANC se resolusie by sy 54ste nasionale konferensie voorgelees. Dit  verwys na die stryd teen korrupsie en die party wat dit veroordeel.

“Met hierdie besluit en my gewete in gedagte verskaf ek hierdie verklaring aan die kommissie in sy belangrike werk om die waarheid oor staatskaping te ontbloot en te verseker dat dit nie weer gebeur nie.”

Volgens Gordhan het sy departement op dokumente en bewyse afgekom rakende bestuurskwessies by staatsinstellings en sal dit aan die kommissie oorhandig word.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het vroeër gelas dat die vakbond Apsa aan die kommissie moet skryf om hul bewerings teen adv. Paul Pretorius, hoof van die regsraad van die kommissie te motiveer.

Apsa het versoek dat Pretorius homself aan die kommissie moet onttrek omdat hy glo voorheen vir Adrian Lackay, voormalige woordvoerder van die Inkomstediens, verteenwoordig het. Lackay is nou die woordvoerder vir Gordhan se departement.

Zondo het gesê hy het kennis geneem van die beweringe, maar dat hy die naweek met Pretorius gesels het en besluit het dat hy moet bly.

Honderde EFF-ondersteuners het intussen voor die gebou waar die ondersoek in Parktown, Johannesburg, plaasvind betoog teen Gordhan se getuienis voor die kommissie.

Gordhan se familie, Lackay, Ivan Pillay, voormalige Inkomstediens-kommissaris, en Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings, was ook Maandag teenwoordig toe Gordhan getuig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Irma ·

Sterk staan. Openbaarmaking van al die korrupsie is die land se enigste kans.

Louwrens Coetzee ·

Niemand gaan vervolg word nie, die is n “gravy train” as jy eers op is vreet jy jou pens rond aan die belastingbetaler se hard verdiende geld. As jy ontbloot word skuif hulle jou in n ander gemaklike plekkie in. Welcome to Africa.

David ·

Hoe kan die EFF nog betoog as hulle dan bankrot is? Hoekom kry hulle nog enigsins publisiteit?

Hulle moet dan maar hulle skuld aan Afriforum betaal !

Adam ·

Ten spyte van al Afriforum se wonderlike werk hou hulle die EFF in die nuus.

Mrs H ·

Adam, so kry Afriforum gratis bemarking en blootstelling vir al die regte redes ook. Praktiseer optimisme.

Lulu ·

Pravin
Staan sterk ek glo in jou
Hoop nie jy gaan ook een van daai visse wees nie
Ek glo die groot visse voer n heksejag op jou
Mag jy die een wees wat hul bloot stel?
Eff kry bietjie min aandag die wat die leë blikke die grootse garaas maak

Alida ·

Hulle is bang vir Gordhan maar hy sal hom nie van stryk laat bring nie. Hy het integriteit en sy hande is skoon. Het die rooies daar buite nie werk nie? Hulle beter begin want hulle skuld hoop op. Pay back time.

Geregtigheid ·

Afriforum maak nou klaar waarmee jy begin het. Kry EFF bankrot verklaar en laat ons sien wat gebeur dan in parlement.

Henry ·

Hoe is dit dat hierdie korrupsie al vir jare aan die gang is en niemand het ooit iets gese of gedoen daar aan nie. Iets of iemand moes die bye nes geskop het. Ek dink ons sien nou eers die oortjies van die seekoei. Daar gaan nog baie goed uit kom.
Sterkte S.A. hoop jy sal al die gemors kan oorleef.

HARTSEER ·

Ek dink die rede hoekom niemand ooit iets gesê het nie is omdat hulle uitgeskop is voordat hulle iets kan sê. Die wat in hul plek gekom het, het alles wat beweer word toegesmeer en net aangegaan met korrupsie en al die gemors. Almal was maaitjies van mekaar en het geweet as iemand praat is dit neusie verby. Gelukkig of ongelukkig vir hulle het als nou uitgekom, maar te laat vir SA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.