Gordhan hoor op TV hy is gepos

Pravin Gordhan (22 Februarie 2017) Foto: GCIS

“Ons is nie te koop nie.” Só het Pravin Gordhan, wat Vrydag in die vroeë oggendure as minister van finansies gepos is, tydens ʼn mediakonferensie gesê.

Gordhan het die media by die tesourie se kantoor toegespreek. “Ons het op die televisie van ons lot te hore gekom. Nie ʼn telefoonoproep of ʼn gesprek nie, maar die televisie.” Hy het gesê dit was vir hom en Mcebisi Jonas, sy adjunk wat ook gepos is, ʼn eer om die land te dien. “Ons moet pres. [Jacob] Zuma daarvoor bedank.”

Gordhan het beklemtoon dat hy nie aansoek gedoen het om minister van finansies te wees nie, maar daartoe versoek is. Hy het gesê hy is aangestel om die “flaters” van 9 Desember reg te stel. Toe Zuma op 9 Desember 2015 vir Nhlanhla Nene as minister van finansies afgedank het en Des van Rooyen in sy plek aangestel het, het die rand erg begin tuimel. Gordhan is enkele dae daarna aangestel.

Volgens Gordhan het personeel van die tesourie hul versekering gegee dat hulle hul beste sal doen om met hul werk voort te gaan.

Gordhan het gesê die sogenaamde intelligensieverslag wat as “bewys” voorgelê is aan die ANC se top-ses leiers om hom en Jonas af te dank, is “absolute nonsens”. Volgens die verslag was Gordhan en Jonas van plan om Zuma swart te smeer en internasionale bankiers te vra om saam te sweer teen hom.

Gordhan het gesê die beleggingstoer waarop hy en Jonas was vind elke jaar ná die begrotingsrede plaas. “Ek het in Brittanje aangekom en my foon aangeskakel en toe sien ek die boodskap: ‘Kom terug, onmiddellik’.”

Gordhan het bewerings dat hy die land wou ondermyn as siek beskryf. “As jy nie wil hê ons moet die werk doen nie, sê dit vir ons. Moenie iets opmaak en ons integriteit ondermyn nie.” Volgens Gordhan het hy reeds met Malusi Gigaba, sy plaasvervanger, gesels en hom gelukgewens.

Gordhan het bevestig hy en Jonas is steeds LP’s en het die hoop uitgespreek dat hy en Jonas en hul gesinne ʼn normale lewe kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Nogal ·

Pap le op die grond, die land is aan die brand!!!

Vat so Zuma, hoop jy kan rustig slaap in die nag want jy het SA laat VAL!

Niks gaan dit red! Pravin Gordan moet nie laat Zuma jou onder kry, hy kan jou nie eens in die gesig kyk en dit se nie wys jou watse tipe hy is!!

GOD slaap nie!!

Sw ·

Wat kan jy verwag van n man wie geen integriteit of morele waardes het nie?

Lynette ·

Sies, die vuil uil het nie eers die ordentlikheid in hom gehad om PG self in te lig nie!!! Maar mens kan ook niks van so n mens verwag nie, ne?

Swak smaak ·

Swak smaak soos alles Zuma, jy het geen greintjie integriteit of iets tussen die ore nie. Pravin Gordhan, tel jou kop op, jy het ten minste SA vir ‘n jaar langer gered!!!! Jy het veel meer om op trots te wees, die ou wat jou so lafhartig pos op Nasionale TV het niks, niks!!!!

M A ·

Hoe werk dit? My werkgewer kan my nie net afdank nie. As ek drooggemaak het, moet hulle eers n disiplinêre verhoor hou. Andersins moet ek n maand kennis gee. Geld arbeidswette nie vir ministers nie?

JJ ·

Is daar absoluut niks wat aan Zuma gedoen kan word oor sy blatante optrede wat die land verwoes nie?

Scalla ·

Uiters uiters swak, Gordan was seker nie betyds om te help met sy geskrewe toespraak met die uitspreek van die groot rand bedrae nie, hy het hom eerder gefire as om te hakkel en te stotter en vir homself te lag daarna , tragies, shame,

Annette Malherbe ·

Ek is stomgeslaan!! Hoe de duiwel kan Zuma net aanhou met sy droogmakery en hy kom weg daarmee? Is daar dan niks wat ons kan doen nie, behalwe BID?

sies ·

Gordhan moet ou Zumpie ccma toe vat want die afdanking was ongrondwetlik en regtig die skelmste gupta-agtigste domste ding wat ons slim presidentjie al ooit aangevang het.

Cherokee ·

Ja, julle ANC-aanhangers verwag meer van die ANC as wat hulle kan lewer.

peanut ·

Ek is glad nie verbaas dat die gemors so laag gedaal het dat hy nie eers die ordentlikheid het om Mr. Gordhan in die oe te kyk toe hy hom afdank.

Wys jou net, as jy laer is as slangsleepsel, dan is en bly jy maar slu en skelm.

Sterkte aan beide Mr, Gordhan en Mr. Jonas met jul toekoms. Mag jul toekoms net vrede en vreugde vir julle en jul gesinne inhou.

Die Vader slaap nie, net jul landsburgers wat nog nie opgeruk het en hard en duidelik gese het genoeg is genoeg nie. Dis eintlik jammer……

Frieda ·

Nou wat het geword van al die aanklagte teen Zuma?
Kan IEMAND ASB iets daaromtrent doen?

trevor ·

niemand praat nie want hulle is bang vir zuma en die aanklagte is klaarbegrawe

Lizaq ·

Mnr Gordhan ek ag jou baie hoog en het baie respek vir jou. Nee ons kan nie gekoop word nie, en ons GOD slaap nie. Baie dankie vir dit wat jy vir Suid-Afrika gedoen het.

Jan ·

Ek verstaan die mense nie. Die kolonialiste word verguis in “die SA” van vandag. Maar die “prisident” van “die SA” betaal die kolonialiste van engeland on vir hom “mykap” aan te sit sodat hy kan goed lyk vir sy eie impis. Dit is amper dieselfde van die “moeslems” wat die kapitaliste wil doodmaak maar dan ry hulle terselfder tyd mercs en bm’s. Ooglopend vals as jy my vra.

jaco ·

en steeds verander niks. ramaphosa en n paar ander invloedrykes bedank nie, niemand kom in opstand nie en die weermag van nie oor met n staatsgreep nie. dit sal ook nie gebeur nie, want almal cash te lekker in op hulle groot salarisse: R1 miljoen PER JAAR vir n parlementslid en R500 000 per jaar vir n munisipale raadslid, waarby nog kom huise, grand karre, onthaaltoelaes, selfoonkontrakte ens ens.

Christo Louw ·

Wat worry julle so? Binnekort gaan die klomp manne die land reg bid en dan is ons probleme opgelos.

Pierre ·

Christo, ek stem 100% saam met jou en ek vertrou. Solank jy dit net nie as n grap hier verkondig nie dan is dit reg.

dolphin ·

mense maak die stories op vir die sa en zuma is bang en verloor die mag vir die finansies……in sa….dit maak die mense deurmekaar in die wye wereld.

Drikus ·

Wag ‘n bietjie, is hier nie vir Mnr Gordhan gronde om Zuma vir naamskending aan te kla nie? Dit is as die sogenaamde intelligensieverslag ‘n versinsel is. Wat dit sekerlik is.

Jaco ·

Laat my dink aan 1992 toe Koos vd Merwe uit die KP geskors is en dit by Linda van Tilburg op Jan Smuts moes hoor toe hy pas vanaf Kaapstad op lughawe aangekom het.

Gerald ·

Kom ons respekteer PG se integriteit,dankie vir jou bydrae tot die land mag jy en jou familie rustigheid beleef.

T. Jooste ·

Wie is die boer van Aberdeen wat geskiet is? Asseblief Maroela, hou ons op hoogte wat nie die betaalkoerant kan bekostig nie. Dalk het hulle reeds daaroor berig, dan sê ek solank jammer dat ek die netig misgeloop het. Dankie

jaco ·

wat wil Zuma met al die geld maak? is sy salaris van meer as R3miljoen per jaar dan nie genoeg nie? Brood en melk en petrol kos dieselfde vir hom as vir my en met net R1miljoen per jaar sal ek klaar baie gemakliker lewe.

Leon ·

Lou, ek wonder ook oor Cyril.
Sal goed wees as Pravin nou by die sou DA aansluit..

cor ·

Kyk mooi binne die volgende 48 uur gaan die Pres se wagte met 200% vergroot word die storie gaan wees n intellegensie verslag wys iemand wil hom uit vat net soos die spook storie oor Gordhan en Jonas.

Wynand ·

Vergeet van Ramaposa hy beteken niks nie. Hulle het almal vir z ingestem. Die een is soos die ander.

Magda ·

Nou gaan die rand val. Mnr Gordhan byt vas. Hulle roep jou vinnig weer terug. Dankie dat jy so eerlike mens is.

Cherokee ·

En sò kruip julle voor ‘n Gordhan wat lid is van die ANC sedert hulle gewapende vleuel by name Umkhotho we Siswe onskuldige vrouens en kindertjies met bomme vermoor het in winkels en spoorwegstasies met pravin ghordhan se kruisie as stempel van goedkeuring. Julle bewys opnuut die realisme agter breinspoeling. Julle is anc-gesind en soek net ‘n ander leier.

Charles Rossouw ·

Of Gordan afgedank was of nie, hy is ook ‘n SAKP lid. Dit is ‘n dog eat dog world, Mbeki het komandos ontbind, nou se mense hy was ‘n beter president. Die wiel is aan die rol gesit. FW jy sal nooit erkenning kry maar eerder gesien word as die Judas saam jou kabinet…

My tweesent bydrae ·

Nie eens n SMS om te se hy is afgedank nie ? Swakker kan dit nie .

Ada ·

Daar is ongelukkig net een in die Anc met integriteit en dit is PG. En een swaeltjie maak nie n somer nie. Kan Gerrie Nel nie die Guptas privaat vervolg nie? Wonder maar net?

Frans C ·

Die ANC verdra vir Zuma omdat hul nie die Zoeloenasie wil vervreem nie en ‘n groot ondersteunersgroep verloor nie.Omring soos Mugabe met JA-broers kan Zuma sy verwoestingswerk voort sit en die beursstringe losmaak,

SARIE VAN HEERDEN ·

Minister Gordhan: Meng jou met die semels ………..
En dan het Zuma nie die ordentlikheid om sy besluite persoonlik aan Gordan en sy adjunkmnr Jonas, oor te dra nie: Goeie maniere het nog nooit uit die mode geraak nie, Zuma. Maar waar sou jy dit nou kon geleer het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.