Gordhan kap OB oor ondersoek

Pravin Gordhan. Foto: ANA

Pravin Gordhan het die openbare beskermer (OB) daarvan beskuldig dat haar optrede nie gepas is nie nadat sy hom vals daarvan beskuldig het dat hy met ander saamgesweer het oor hoe om op haar vrae oor die sogenaamde “rogue-eenheid” in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te reageer.

Gordhan, minister van openbare ondernemings, het laat Dinsdagaand korrespondensie tussen hom en Busisiwe Mkhwebane se kantoor openbaar gemaak nadat hy met sy regsverteenwoordigers gekonsulteer het. Hy het gesê dit word in openbare belang gedoen.

Volgens Gordhan het Mkhwebane nie op sy brief gereageer nie en eerder ʼn mediaverklaring wat nie feitelik korrek is nie, uitgereik.

Gordhan het gesê dit is nie waar dat hy haar eers Maandag genader het vir uitstel om op haar vrae te reageer nie. Hy het Mkhwebane verder gekap oor haar bewering dat die partye wat by haar ondersoek geïmpliseer word, vergader het kort na sy hulle met dagvaardings bedien het en dat sy as gevolg hiervan gekoördineerde terugvoer van hulle ontvang het.

Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Mkhwebane het dié bewering gemaak in ʼn mediaverklaring wat sy Dinsdag uitgereik het en waarin sy aangekondig het dat sy Gordhan uitstel tot 3 Mei gegee het om op haar vrae te reageer.

“Ons het ’n ernstige probleem met enige insinuasie deur die openbare beskermer dat daar sameswering met die ander partye was oor hoe om te reageer,” het die minister se kantoor gesê.

Volgens Gordhan het hy nog nie met enige van die partye wat geïmpliseer word, vergader nie.

Mkhwebane stel ondersoek in na bewerings van onbehoorlike optrede, ʼn oortreding van die uitvoerende etiekkode, en beweerde onreëlmatige en onwettige optrede deur Gordhan tydens sy termyn as kommissaris van die SAID.

Mkhwebane se ondersoek volg ná ʼn klag wat EFF-adjunkpresident Floyd Shivambu ingedien het oor die sogenaamde eenheid wat na bewering aktief was terwyl Gordhan aan die hoof van die SAID gestaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Ja swaer ·

Kan iemand vir die arme siel inlig dat haar beskermvader nie meer die president is nie? Of is sy maar net onbevoeg? Soos met die verslag oor die mandaat vd Reserwebank wat sy verloor het in die hof. Mens kan niks glo wat uit hierdie vroumense se mond kom nie

Rupert Ashford ·

Lekker man. Ons weet nie of Gordhan ‘n engeltjie is nie, maar ons weet wel hoe hierdie tannie in haar job beland het. Bring die springmielies…

koos ·

Het sy nog nie gehoor dat die sogenaamde “Rogue Unit” fop nuus was nie. Dit was na bewering uitgedink deur Zuma en sy tjommies, om Zuma se geld kraantjies van die tabak smokelaars (wat terloops ook die EFF en Malema meer spesifiek, (seker daaroor dat Shivanbu vies is, hy kry nie sy deel nie,) finansier) oop te hou.
Hierdie was nuus in alle media bronne, lees sy dan nie?

Genieve ·

Kyk net haar gesigsuitdrukking weet die vrou wat haar werk behels???

Jerry ·

Die OB is een van talle hooggeplaastes wat hulle magsposisies misbruik ten einde wraak te probeer neem teen politieke opponente wat n bedreiging inhou vir hulle planne om die Reserwe Bank te nasionaliseer. Die OB, Ace, Nomvula Mokonyane, Gigaba en die NW premier is Zupta bondgenote en het radikaler duistere motiewe as die CR en Gordhan faksie. Hulle ideologiese denke is meer Marxisties Pan Africanist as die ANC se kommunistiese/sosialistiese denke en hoort hierdie faksie eerder by die EFF en BLF as by die ANC. Die ANC gaan dit nog berou omdat hulle hierdie groepie in magsposisies geplaas het en nou dat hulle hul ware kleure wys, daar nie van hulle ontslae geraak kan word nie! Net soos wat staatskaping van belastingbetalers gyselaars gemaak het, hou hierdie groepie die ANC gyselaar!

fred ·

Jerry..miskien is Gigaba en co hulle denke kommunisties/sosialisties…maar seker nie hulle lewensstyl nie….golfestates…big cars….ens….dit is die probleem en skynheiligheid van hierdie moderne Marxiste: predik gelykheid vir die plebs maar hulle self wil tot die elite behoor..

JohanL ·

As Minister Gordhan se aantygings feitelik korrek is, is dit mos ‘n hengse klad op die OB se naam. Moet sy nie dan afgedank word nie? Daar is lankal bewerings dat sy nie geskik is vir die pos nie.

Johan ·

As die bewerings enigsins waar is, is daar ‘n yslike vraagstuk oor die bevoegdheid van die OB!

grieta schutte ·

Gaan net se as Thuli Madonsela nog aan die bestuur was sou so iets nooit plaasgevind het.Ek dink Mnr Pravin is TOPS

Boesman ·

Die ANC is met korrupsie bevlek en Gordhan is deel daarvan. Sy geknoeiery kom nou na die oppervlakte: die ondersoekeenheid by SARS, die aanstelling en vroeë aftrede van die ongekwalifiseerde Pillay wat daarna weer aangestel is, en Gordhan se dogter se sakebelange. Die waarheid moet uit en Gordhan se aggressie lyk of hy iets het om weg te steek.

Sue ·

Pravin een van die weiniges wat nie na die korruptes se pype dans nie – nou sal hulle alles in hulle vermoë doen om hom in ‘n slegte lig te stel en dan van hom ontslae raak!

Boerin ·

Mkwebane is onbevoeg vir hasr pos!ek dink regrig sy weet nie way sy doen nie…daar hang ook maar n donker wolkie oor haar kop wat nooit regtig opgeklaar was nie! Mnr Gordan dis jammer jy is in die visier omdat JY n dag se eerbare werk doen..elke dag ! Jy swem tussen haaie…sterkte , daar is min van jou soort!

Frederik ·

Hulle mors tyd en die belasting se geld.
Daardie geld kan aan die wat nie kos het spandeer word.

AW ·

Lees –
Rogue – The Inside Story of SARS’s Elite Crime-busting Unit (Johann Van Loggerenberg with Adrian Lackay)

Pop ·

Enigiets om die EFF gelukkig te hou nê!!! Is sy nie dalk in n rogue unit saam met EFF nie.

Alida ·

Ons weet mos almal dit was ‘n Zuma aanstelling. Jaag haar weg!!

Jepetto ·

Mapstieks Gorden en Cyril Ramaphosa fyre die OB dis so goed jy gaan ry die Rhothments July met a siek donkie wat spuit poep het en Zuma is die JOKIE en jy verwag jy moet wen

Ansie ·

Daar is so baie korrupsie en omkopery dat mens skoon deurmekaar raak. As jy nie baie intelligent is om die kloutjie by die oortjie te kry, dit saam vas te maak, en die ander stuk-stuk in te trek en te groepeer nie, kan mens seker lekker an die bus af val. Waar sal ons weer ‘n vrou soos Tulie Madonsela kry? Sy het die vermoë gehad om dit doen. Een uit ‘n miljoen!

twakkies ·

Rokies vuurtjies Shivambu wie kan jou glo.Jy glo jouself nie.Korrupsie is deel van alle regerings die graad verskil net.Huidiglik is Suid Afrika van die toon aangewendse op die gebied. 365 dae per jaar is daar nuus oor bestaande of nuwe korrupsie.Snaaks dat meer gekleurde en swart mense as wittes aansoek doen om te emmigreer so rokies en vuurtjies is daar.Indien die politici nie wakker loop en begin om daadwerklik aan misdaad en korrupsie tot op hoogste vlak aandag te gee nie sal jul net met ongeskooldes sit.Julius Malema is goeie boer Maimane goeie verkoops agent en Cyril kan finansies hanteer .Vinnigste biljoener ooit.Tussen hulle drie kan hul alle boere en banke fire.Antie Pat kan met hulle baklei en Terror kan maar aftree. Volksfront sorry helfte van volk is weg. Godsdienstige partye het meer om hul mee besig te hou as politiek.Geniet die dag politieke dwalinge .Ek ken na meer as 60 jaar nie eerlike politikuste nie almal uitverkoop aan party ideologie.Gaan maar oor hul eie beursies.As daar eerlike ouens is kies maar ander beroep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.