Gordhan kap sakereddingsproses by SAL

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het aan LP’s gesê elke moontlike poging word aangewend om die benarde situasie waarin die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) tans is, om te keer. Gordhan het ook gesuggereer dat die sakereddingspraktisyns nie aan die regering se verwagtinge voldoen het nie.

Gordhan het in ʼn aanlyn vergadering aan die parlementêre komitee oor openbare ondernemings sy empatie uitgespreek vir die bekommernis wat vakbonde het oor druk om afleggingsooreenkomste met die redery se nagenoeg 5 000 werkers aan te gaan.

Volgens die minister was dit nie deel van die sakereddingsplan om bedrywighede by die SAL te begin afsluit nie en dat hulle boonop nie versigtig met die geld wat aan hulle toegewys is, te werk gegaan het nie.

“Die regering het die afgelope vyf maande R5,5 miljard in die SAL ingepomp, maar só kan dit nie aangaan nie. Vakbonde en ander belanghebbendes gee tans hul samewerking om ʼn nuwe SAL te ontwerp. Daar sal geen uitverkoping van bates of likwidasie van die SAL wees nie,” het Gordhan aan parlementslede gesê.

Die minister het gesê die tegniese afdeling van die SAL, SAAT, is van wêreldgehalte en kan vir die land heelwat buitelandse valuta verdien.

Die minister het gesê daar was tot dusver ook nie genoeg samesprekings met vakbonde en die regering oor die proses nie. Hy het vakbonde gelyk gegee oor hul beswaar dat hulle gevra is om afleggingsooreenkomste te onderteken sonder dat hulle ʼn behoorlike sakereddingsplan onder oë gehad het.

Waar is sakereddingsplan; miljarde rande?

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan. (Foto: ANA)

Gordhan het ook toegegee dat nie alle poste gered kan word nie, maar sê dit is moeilik om te bepaal hoeveel werksgeleenthede in die slag gaan bly as daar geen besonderhede oor ʼn voorgestelde nuwe roetestruktuur of vliegtuigvloot bekend is nie.

Hy het gesê die regering plaas intussen druk op die sakeredders vir besonderhede oor hul plan en sê dít wat die departement ontvang het, was meer ʼn geskiedkundige opsomming van bedrywighede by die SAL, as ’n bloudruk vir die toekoms.

“Ons het die breë trekke ontvang, maar heelwat daarvan is geskiedenis en nie veel daarvan bevat enige oplossings nie,” het Gordhan gesê.

Die praktisyns se standpunt, dat alle vlugte – ook repatriasievlugte – Vrydag tot stilstand moet kom, is ook ʼn omstrede punt.

“Ons gaan binne die volgende 48 uur met hulle vergader om finansies te bespreek en om te sien hoeveel geld daar ná 8 Mei gevind kan word.”

Gordhan sê die regering wil ook meer inligting hê oor presies hoe die R5,5 miljard die afgelope vyf maande in die sakereddingsproses bestee is en sê daar moes in die proses meer bespaar word.

“Dit is iets wat ons bevraagteken en dit is ʼn kwessie van aanspreeklikheid.”

Die minister sê daar gaan nou gevra word vir ʼn bietjie beweegruimte oor die plan om alle bedrywighede by die SAL teen môre heeltemal te staak.

Hy het ook gevra dat die sakeredders hul gelde verlaag en dat hulle omvattend verantwoording doen vir werk wat aan konsultante uitgekontrakteer is. In een geval is ʼn konsultantfirma R35 miljoen betaal, maar “ons het nog nie gesien wat hulle eintlik gedoen het nie”.

Gordhan sê alles word in die stryd gewerp om die SAL as ʼn lewensvatbare redery met private vennote en minimale staatsfinansiering te bedryf.

“Daar is ʼn klomp aanbiedinge uit die private sektor om ons vennoot te word. Sommige aanbiedinge is verdag, ander het nie genoegsame kapitaal nie en ander is goeie proposisies. Ons weeg dit tans op.”

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het lugvervoer bykans tot stilstand gebring en talle rederye spook om planne te beraam om daarna weer hul bedrywighede winsgewend te hervat.

Die departement weet goed die SAL, in sy huidige formaat, is nie volhoubaar nie en ʼn plan om dit te verander word gemaak terwyl almal betrokke goed weet ʼn sogenaamde nuwe rederye gaan nie dadelik aan die gang kan kom nie.

“Selfs iets wat nuut begin, kan nie op ʼn optimale vlak aan die gang kom nie. Alle rederye gaan klein moet begin, afhangende van die marksituasie, en hulle gaan daarna groei,” het Gordhan gesê.

Die arbeidshof hoor intussen vandag ʼn dringende aansoek van die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse kajuitbemanningsvereniging (Sacca) aan om die afleggingsproses te stuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Ou Gordhan word ook nou afgesaag. Tyd vir nuwe bloed in hierdie portefeulje. Maar waar in die ANC kry jy enigeiemand wat vinnig is, bekwaam is, nie ‘n kriminele rekord het nie, en kan die nommer 654872 uitlees?

Sobymykoolkop ·

So as ek reg verstaan gaan Gordhan as kommunis aan die vakbonde toegee en die belastingbetalers nog laat hoes om die dooie perd lewe in te blaas.

Burgermeester ·

Natuurlik gaan die sakereddingspraktisyns nie aan die regering se verwagtinge voldoen nie. Die sakeredders wou seker al van die begin af die SAL se deure gesluit het, maar die ANC bly hul neuse indruk waar dit nie hoort nie. Die sakeredders wou die regte ding gedoen het, maar die regering het hulle weerhou om dit te doen. Iemand voldoen ook nie aan my verwagtinge as hulle teenstrydig met my beleid optree nie.

Nie Verbaas ·

Gordhan en die unies is seker die enigste mense wat nie verstaan dat SAL deur onbekwame ANC kaders vernietig is nie. Nadat buitelandse insette ook in ag geneem is en daar geen toekoms vir die lugdiens gesien is nie, word daar nou besluit om lugdiens nie te sluit nie en dat sakeredders onbekwaam is. Tensy die hele struktuur gaan verander sal presies dieselfde gebeur.

marius ·

Hoeveel geld tot op die sent is al uit die belastingbetaler se bloed gewurg ? Was pan nie ‘n minister wat met syfers gewerk het nie ? Laat die unies die plek met hul eie geld oorneem . Hy kan sommer sy pensioen vat en aandele koop .

Kosie ·

Geagte Pravin, ons hoef dit nie eers te suggereer nie, ons sê dit sommer prontuit. Jy en jou ANC regering voldoen aan niemand se verwagtinge nie. Jy en jou ANC het die SAL vernietig, so bly jy maar liewer net stil.

Sarel ·

Dit het van die begin af gelyk of hulle eerder werk om SAL te sluit as om te herstel. Verskuilde Agenda of Opdrag?

Eclectus ·

Die DBV laat ‘n gulde geleentheid verbygaan om die regering te vervolg vir die slaan van ‘n dooie perd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.