Gordhan laat ‘spoor van verwoesting’

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. (Foto: Thobile Mathonsi/ANA)

Met sy uittrede uit die politiek laat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, ʼn “spoor van verwoesting in die sektor vir ondernemings in staatsbesit agter”, het die DA Vrydag gesê.

Die 74-jarige minister, ʼn veteraanpolitikus en kampvegter teen apartheid, sal na verwagting ná die algemene verkiesing op 29 Mei uit die aktiewe politiek tree.

“Gordhan het die openbare welwillendheid wat hy aan die begin van sy ampstermyn as die minister van openbare ondernemings gehad het, verkwis deur te kies om die ANC te paai. In die proses het hy liederlik misluk om die gemors skoon te maak wat deur staatskaping veroorsaak is,” het dr. Mimmy Gondwe, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings gesê.”

Sy meen Gordhan het talle staatsondernemings in ʼn baie slegter posisie gelaat as wat hy dit ontvang het – met sommiges wat nou op die rand van ineenstorting staan – en dat dit ʼn groot klad op sy nalatenskap is.

Gondwe sê toe André de Ruyter, Eskom se voormalige uitvoerende hoof, die bestaan van diepliggende korrupsie in Eskom blootgelê het, het Gordhan gekies om hom eerder by sy ANC-kamerade te skaar as om die ernstige bewerings te ondersoek.

“Hy het gekies om De Ruyter te viktimiseer eerder as om wetstoepassingsagentskappe te vra om die meriete van die korrupsiebewerings te ondersoek.”

“Gordhan het ledig gestaan en toekyk hoe Eskom een krisis na die ander ervaar het. Sedert sy aanstelling in sy huidige portefeulje het Suid-Afrikaners meer dae in donkerte deurgebring as toe die kragkrisis 17 jaar gelede begin het.

“Sy versuim om die beurtkragkrisis beslissend te hanteer maak hom aandadig aan Suid-Afrika se sukkelende ekonomie, werksverliese, sluiting van ondernemings en die afname van investering in die private sektor.”

Gondwe sê voorts dat Gordhan ʼn ongekende aanval op die deursigtigheid en aanspreeklikheid van die parlement ontlok het, onder meer met sy “skandelike pogings” om die besonderhede van die ooreenkoms tussen Takatso Aviation en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) geheim te hou.

Die regering het sy meerderheidsaandeel in SAL in 2021 laat vaar en Takatso ʼn ekwiteitsvennoot gemaak om die lugdiens weer operasioneel te kry. Dit het egter baie kritiek en bewerings van korrupsie ontlok.

Die DA het verder gesê dat staatsinstellings onder Gordhan se beheer al meer van die belastingbetaler afhanklik geraak het om net hul deure oop hou.

“Soveel as R213 miljard van die R331 miljard wat sedert die 2013-’14-boekjaar aan reddingsboeie vir staatsbeheerde ondernemings bestee is, is tydens Gordhan se termyn (sedert 2018) as minister van openbare ondernemings bestee. Ten spyte van hierdie multimiljardrand-reddingsboeie, het Gordhan self bevestig dat belastingbetalers nog net R1 miljoen se dividende kon trek.

“Vir ʼn man wat homself as ʼn kampvegter teen staatskaping geposisioneer het, ontbloot sy voortgesette respek vir die ANC se regressiewe beleid van kaderontplooiing sy onopregtheid in die stryd teen korrupsie. Gordhan het proaktief saam met die ANC se kaderontplooiingskomitee gewerk om by direksieaanstellings by Transnet, Denel, SAL en Safcol in te meng.”

“Gordhan het homself te blameer omdat hy gekies het om ʼn ANC-dienskneg te wees, eerder as ʼn beginselvaste staatsamptenaar vir die groter belang.”

Gemengde gevoelens

Hoewel die DA geen traan oor Gordhan se uittrede sal stort nie, het die vakbond Solidariteit gesê dat hy die minister met “gemengde gevoelens” sal groet.

“Ons het op vele vlakke, insluitende by Eskom, Denel en SAL met Pravin Gordhan saamgewerk. Ons ervaring met hom was soet en suur. Sy termyn was vol paradokse. Hy het opreg gesoek na antwoorde, maar sy direkte betrokkenheid het die bestuur van staatsinstellings verlam,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

“Hy was uitgesproke in sy geveg teen die gevolge van staatskaping in die Zuma-era, maar korrupsie by staatsinstellings het in sy tyd weggehardloop. Hy was nie self korrup nie, maar die stelsel waarvoor hy verantwoordelik was, is institusioneel korrup. Hy het nie self gesteel nie, maar ons belastinggeld is gevat en gemors. Hy het die pad begin oopmaak vir private betrokkenheid, maar sy ideologiese denkraamwerk was ʼn struikelblok vir privatisering.”

Hermann sê Gordhan het lippediens gelewer aan goeie bestuur, maar dat staatsinstellings se bestuur ʼn absolute laagtepunt in sy termyn bereik het.

“Hy het nie geskroom om direksies te vervang nie, maar hulle het almal misluk. Hy het besef vaardighede is ʼn krisis, maar sy rasideologie kon nie ʼn antwoord sonder ras vind nie.

“Ongelukkig is die telbord teen Gordan. SAL het geval, Eskom is in die donker, Denel het ontplof, Transnet is van die spoor af en die hawens het gesink.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

skurweberg ·

Vaarwel dapper held, geniet jou rykdom en herinneringe. Jou gewete sal die aanklaer wees of nie.

melaney ·

Gordhan tel verseker die dae af na sy uittrede. Hy kry min skaam oor die gemors wat hy agterlaat. Dit is die kredietsaldo in sy rekening waarna hy uitsien.

Nici ·

So hy was nie korrup nie, net totaal en al onbevoeg om sy werk te doen. En nou gaan die belastingbetaler seker ‘n massiewe pensioen moet betaal. Hy moes eerder tien jaar gelede al afgetree het.

Papsak ·

Nou hoe nou Gordhan hoe lyk dinge nou jy is korrupt nie De Rhyther nie so hy was reg daarom hardloop jy nou weg jy mos genieg op gemors nou jou sak is vol mmm!!!!!

Anel ·

Hoop net nie hy hy kry miljoene van ons pensioengeld nie! Hy het mos genoeg gemaak!!!

Cherokee ·

LOL LOL LOL… net die eerste paragraaf of twee gelees, en toe in stilte (?) nee, ek het hardop gelag, vir julle wat redelik onlangs, in hierdie selfde forums, Gordhan as staatspresident gewens het! :-))) Daar is van julle (soek en dit sal bevestig word) wat klaarblyklik selfs anc sou draai, as Gordhan net SP sou word. En toe doen Ramapokker dit! Ek lag, lag, lag vir julle.

KB ·

Hy moet net gaan!
De Ruyter hét hom mos uitgewys as die bedrieër wat hy is.

Philosopher ·

Een van die mense wat die vorige regering en belastingstelsel ongelooflik afgebreek. Ek het baie van sy toesprake gaan bywoon en was altyd vreeslik bravadies in sy kommentaar en opmerkings maar nou ja ongelukkig dink ek hy is n grootter teleurstelling as die enige van sy voorgangers. Hy het altyd gesê ons moet goeie burgers wees maar ongelukkig was hy n patetiese leier wat nie bereid was om op te staan vir reg en geregtigheid nie. Wat n teleurstelling net soos Ramaphosa!!!!! No legacy at all!!!!!

Cherokee ·

En moet nie voorgee dat dit nie jý was nie, want dit kan terug gespoor word, soos in tjoef tjaf.

domheks ·

Hy moet liewer gaan pille tel. Maar ek dink die sakke is so vol hy sal nou net geld tel!

Karoo ·

En daar gaan hy met sie skippie terug oor die see na ‘n 1ste klas wereld… en kns staan op die kaai en kyk hom oop mond aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.