Gordhan, Nzimande se aanstellings verwelkom

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Vakbonde het Pravin Gordhan en Blade Nzimande se aanstellings verwelkom.

Pres. Cyril Ramaphosa het gisteraand aangekondig Gordhan is die nuwe minister van openbare ondernemings in die plek van Lynne Brown. Blade Nzimande is intussen aangestel as die nuwe minister van vervoer. Hy vervang Joe Maswanganyi.

Die vakbond Solidariteit het Gordhan gelukgewens met sy aanstelling en hom alle voorspoed toegewens in sy nuwe rol. Die vakbond het egter ook aan Gordhan die versoek gerig om so gou moontlik en indringend ondersoek in te stel na die omvang van die ernstige finansiële wanbestuur wat onder die oorsig van Brown by die staatsbeheerde maatskappy Denel geheers het.

Solidariteit het reeds in die afgelope week telkemale met Brown gekommunikeer rakende die duidelike probleme wat by Denel heers. Hierdie versoeke, sowel as ernstige aantygings teen die huidige topbestuur, het egter op dowe ore geval, desondanks die feit dat sowat 700 werknemers se loopbane by dié maatskappy in gedrang geplaas word weens dreigende afleggings weens bogenoemde wanbestuur.

Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, het dus ʼn beroep op Gordhan gedoen om so gou moontlik ondersoek na hierdie finansiële wanbestuur in te stel, asook na wanvoorstellings deur die hoof- uitvoerende beampte, hoof- finansiële beampte en die voorsitter van die raad by Denel, en met daadwerklike stappe vorendag te kom om die huidige afwaartse trajek wat Denel beleef om te keer.

Reyneke het voorts gesê dat die vakbond graag saam met Gordhan sal wil werk om oplossings by Denel te vind, en die vakbond sien uit na ʼn sinvolle gesprek met die minister.

blade-nzimande

Blade Nzimande. Foto: Ntswe Mokoena

Die vervoervakbond Untu het ook Gordhan se aanstelling verwelkom. Steve Harris, hoofsekretaris van Untu, het gesê hy glo Gordhan het wat nodig is om Transnet te bestuur ondanks die staatsbeheerde instelling se uitdagings om aan te pas by die digitale era en te midde van afgraderings van graderingsagentskappe.

Volgens Harris sal die leierskap van Untu graag met Gordhan wil vergader om die uitdagings wat sy lede, die meeste Transnet-werknemers, in die gesig staar. Untu het intussen ook Nzimande se aanstelling verwelkom.

Volgens Harris het Nzimande nou die enorme taak om die Passasierspooragentskap (Prasa) in die regte rigting te stuur. “Untu het herhaaldelik ʼn beroep op die president gedoen om Transnet en Prasa onder dieselfde minister te plaas aangesien dit samewerking tussen die twee spoormaatskappye sal verbeter. Ons is egter tevrede dat die aanstelling van die twee ministers ʼn stap in die regte rigting is.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Deneller ·

Oom Pravin, kyk asseblief of jy die Denel koekieblik se deksel kan terugsit. Daar is net te veel handjies binne-in. Ons wil graag hier bly werk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.