Gordhan: ‘Politieke nonsens’ nie in nasionale belang

pravind-gordhan1

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Pravin Gordhan, die minister van finansies, het Woensdag aan die Nasionale Vergadering gesê die politieke onstuimigheid rondom hom en sy ministerie is nie goed vir Suid-Afrika nie.

“Hierdie politieke nonsens rondom myself en die Nasionale Tesourie is nie in nasionale belang nie,” het hy gesê tydens ʼn vraag-en-antwoord-sessie in die parlement rondom SA se ekonomie. Hy het gesê die ekonomiese klimaat is nie immuun teen politieke invloed nie en het gewaarsku dat nasionale belange eerste gestel moet word.

Volgens Gordhan is daar “van tyd tot tyd ʼn mini-krisis in die ekonomie”, maar Suid-Afrika se regulatoriese stelsels is sterk genoeg om te verseker dat die land verby dit kan beweeg. Daarom is die gehalte van leiers in die relevante instansies van sleutelbelang.

Nadat Mosebenzi Zwane, die minister van minerale hulpbronne, weereens gesê het dat ʼn geregtelike ondersoek gedoen moet word om individue te beskerm teen die eensydige sluiting van bankrekeninge deur die banke, het Gordhan gesê hy glo dat die plaaslike regulatoriese omgewing sterk is. Hy het die Suid-Afrikaanse Reserwebank geloof vir hul aandeel hierin.

Zwane is verlede week oor die kole gehaal nadat hy ʼn verklaring uitgereik het waarin hy gesê het ʼn geregtelike kommissie van ondersoek moet aangestel word om die banke te ondersoek wat hul bande met die Gupta-familie verbreek het. Die presidensie het later ʼn verklaring uitgereik waarin beklemtoon is dat Zwane die uitsprake in sy persoonlike hoedanigheid gemaak het en nie namens die kabinet praat nie.

Gordhan het Woensdag ontken dat hy vergaderings van die interministeriële taakspan wat aangestel is om die kwessie tussen die banke en die Guptas te ondersoek met opset geboikot het en gesê “die logistiek was nooit reg nie”.

Hy het gesê hy is oop vir ʼn debat oor die regulatoriese vereistes en of dit strenger gemaak moet word, maar baie van die bekommernisse kan wel deur die wetsontwerp op die regulering van die finansiële sektor aangespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rynhardt ·

Vanoggend het Pravin Gordhan gespog oor die land wat sy eerste hekkie van “ratings” oorkom het en dat hul voor die einde van die jaar die volgende “rarings” toets gaan slaag om graderingsagentskappe te beindruk.Alles sluit mooi aan by Zuma se toespraak van skielike ekonomiese groei wat land beleef, en hie dit gaan versnel net volop werk vir almal.Dit is duidelik dat dinge gedokter word om agentskappe te beindruk, want Gordhan weet SA se ekonomie is dood, want die Anc glo nie in bespari gsmaatreels nie, maar wel in selfverryking wat drasties toeneem by die dag.Die messe word agter die skerms vir Gordhan geslyp! Zuma, die Anc en Gordhan se plan, is n plan van misleiding!Gordhan hoort saam met sy maatjies op n lys van ongeloofwaardige sprekers.Dr.Phil sou meer geslaag het as n doeltreffende-en motiverende sprekeker met n plan tot sukses! Gordhan weet dit is nie moeilik om Anc ondersteuners te speel met ekonomie nie, so ook Zuma.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.