Gordhan sal Pretoria help met Covid-19-stryd

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Die administrateur wat deur die ANC-regering in Gauteng aangestel is om die Tshwane-munisipaliteit te bestuur, het Maandagoggend aangekondig dat Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, ontplooi sal word “om die stad te lei in die stryd teen die Covid-19-pandemie”.

Dit is kragtens die regering se distrikontwikkelingsmodel, wat bepaal dat ministers en adjunkministers landswyd in munisipaliteite ontplooi kan word.

Mpho Nawa, die hoof- administrateur van die Tshwane-munisipaliteit, het die aankondiging verwelkom.

Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs aangekondig dat die stryd distriksgebaseer is en op brandpuntgebiede sal reageer. Stad Tshwane is as een van dié brandpunte geïdentifiseer.

Nawa het gesê Gordhan, wat oor die jare heen al in verskeie posisies werksaam was, se ervaring sal die stad help in sy stryd teen die pandemie en hy sal ook bystand lewer in ander aspekte waar daar swakplekke is. “Hy het ʼn uitstekende loopbaan in die staatsdiens – eers as die suksesvolste president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en as minister van finansies en samewerkende regering en tradisionele sake,” het Nawa bygevoeg. “Ons sal inspirasie put uit sy goeie bestuur en finansiële omsigtigheid as ʼn toegewyde staatsdiensamptenaar.”

Die span administrateurs en senior bestuur van die stad het reeds twee vergaderings belê met Gordhan. “Ons is opgewonde om van sy ervaring gebruik te maak om die stad in die regte rigting te lei. Ons sal nog baie gesprekke met hom hê en ons is reeds gemotiveer en geïnspireer uit die laaste twee vergaderings wat ons met hom gehad het. Hy het bewese leiding verskaf in dit wat gedoen moet word om die vinnige verspreiding van die koronavirus te bekamp.”

Cilliers Brink, DA-LP en skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake, het intussen gesê dit is nog nie duidelik watter rol die ministers en adjunkministers gaan speel of wat hulle moet doen nie. “Sal minister Gordhan byvoorbeeld van die magte oorneem van die provinsie se administrateur in Tshwane, of sal hy net kyk wat die stad se reaksie op Covid-19 is? Dit is duidelik dat Gauteng klei trap in sy reaksie op die pandemie, maar dit is nie duidelik hoe minister Gordhan, wie se hande vol is met die SAL en ander onsuksesvolle staatsbeheerde entiteite, die poging in Tshwane of op enige ander plek gaan kan lei nie,” het Brink bygevoeg.

“Die administrateur verwys ook na ‘wyksgebaseerde oorlogkamers’ wat glo reeds in Tshwane opgerig is om die Covid-19-pandemie te bekamp. Raadslede in ander munisipaliteite is ook in kennis gestel van dié oorlogkamers en dat hulle verslag sal doen aan die distrik-beheerrade. Daar is egter niks in nasionale wetgewing of Covid-19-regulasies wat hoegenaamd verwys na wyksgebaseerde oorlogkamers nie, wat nog te sê van hul magte of funksies wat verband hou met munisipale rade en raadslede.”

Brink het gesê sedert ʼn vertroulike dokument van die departement van samewerkende regering twee weke gelede uitgelek het, het die DA sy kommer uitgespreek oor wat presies die regering se plan is onder die dekmantel van die distrikmodel. “Die dokument stel voor dat die distrikmodel aangepas moet word om permanente beheerrade met uitvoerende magte aan te stel. Ons wag vir die president se reaksie op parlementêre vrae oor dié geheime dokument.

“Die meer voor die hand liggende punt is dat die regering tog sekerlik nie in die hitte van die stryd teen Covid-19 die tyd of die hulpbronne het vir politieke eksperimente nie. Elke sfeer van die regering moet sy verpligtinge nakom, en waar hulle onsuksesvol is, moet die regering óf artikel 100 van die Grondwet (vir provinsies) óf artikel 139 (vir munisipaliteite) van krag maak. Die Pretoriase hooggeregshof het reeds bevind: Tshwane is nie ʼn kandidaat vir ingryping binne die bepalings van die wet nie. Die provinsie is veronderstel om eerder sy fokus te plaas op die stryd teen Covid-19, maar nou word daar in die hoogste hof van appèl baklei om beheer terug te kry oor ʼn stad wat hy reeds bewys het hy nie kan regeer nie.

“As minister Gordhan ʼn verskil wil maak in sy tuisdorp, moet hy die Gautengse regering eerder oorreed om sy appèl op die uitspraak te laat vaar en Tshwane-raadslede toe te laat om die stad se regering weer saam te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wilhelm ·

Pretoria, julle kan maar ontspan, hier kom Gordhan homself om die stryd te kom lei… kyk maar net hoe goed hy vir SAL deur die stryd gelei het.

Johann ·

Kul jou hier en kul jou daar….en TADA!!!!!! Die anargiste is in beheer van ALS…want hulle kan!

Martie Smartie ·

Ha ha hie hie. Hulle skuif hom weg vd department waarvan hy ‘n groter gemors gemaak het as sy voorgangers. Ek hoop die DA of wie ookal besef dat die nasionale ANC regering nou direk beheer oorneem op plaaslike vlak, omdat plaaslike regerings ‘n groot mislukking is. So is dit grondwetlik? Word die pandemie nou gebruik om daar ook die grondwet te omseil? Wat van mens skrap sommer die grondwet in geheel en gooi die res ook maar in die drein af. En dan hoor ek akademici wat op RSG sê hulle is tevrede die demokrasie werk goed en die regbank werk goed in SA. Meeste v hulle het blykbaar ook skille op die oë soos die DA.

Pieter ·

Jy kan jou self nie help nie jou komunis gaan vra vir kop doek wat moet jy doen

Adam Adriaan ·

Die knaap weet ook nie of hy Athur of Mathur is nie.

Villie ·

… die suksesvolste president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank …? Feite Mnr Nawa, feite. Daar is ‘n verskil tussen die Suid Afrikaanse Reserwe Bank (SARB) en SARS. Maar nou ja julle weet gewoonlik nie wat aangaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.