Gordhan ‘speel skaak’ met werkers se salarisse

(Foto: SAAT)

Die metaalwerkersvakbond Numsa het uitgevaar teen die departement van openbare ondernemings en sê hy mislei werkers by die Suid-Afrikaanse Lugdiens se tegniese afdeling (SAAT) doelbewus.

Numsa sê die departement het die indruk geskep dat ʼn gedeelte van die R1,5 miljard rand wat aan die SAL se sakereddingspraktisyns toegeken is, gebruik gaan word vir filiale van die lugdiens. Dit sluit die laekostelugredery Mango, SAAT, asook Airchefs in.

“Dit het chaos veroorsaak en die werkplek ontwrig omdat werkers by SAAT die afgelope agt maande net 25% van hul salarisse ontvang. Werkers is woedend en onder die verkeerde indruk dat die sakereddingspraktisyns by die SAL die geld – en dus hul salarisse – weerhou,” het Irvin Jim, algemene sekretaris van Numsa, gesê.

Jim sê werkers is gefrustreerd en wou opruk na die SAL om hul geld te eis, terwyl dié geld inderwaarheid nie aan hulle toegewys is nie.

Numsa sê die departement het nie gevra dat werkers se salarisse met drie maande uitgestel word nie en dat dit ʼn voorstel was wat die vakbond en die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca) as alternatief voorgestel het.

“Die departement en bestuur van die SAL wil hê werkers moet drie maande se salaris en hul bonus aanvaar en die oorblywende vyf maande se salaris wat aan hulle geskuld word, verbeurd verklaar.”

Numsa sê die omkeerplan het ʼn begrotingsplan vir die sakereddingsplan bevat wat salarisse vir werkers ingesluit het.

Die vakbond sê hy het ook kennis geneem van berigte dat die departement geld van SAA na sy filiale herlei. “As die bewerings waar is, is dit onregmatig en ons verwerp dit met minagting. Die R1,5 miljard wat aan die SAL toegewys is, is net genoeg om SAL-werkers se salarisse ten volle te betaal en dit sluit alle uitstaande eise in. Alle geld moet aan hulle oorbetaal word,” het Jim gesê.

Hy sê ook dit sal immoreel wees om geld van een groep werkers te vat om ʼn ander groep te betaal. “Werkers by die SAL ly nou al agt maande lank sonder salaris. Hulle het 3 200 werkgeleenthede deur afleggings opgeoffer om die redery te red.

“Terselfdertyd oorleef SAAT-werkers met net 25% van hul salarisse, terwyl die uitvoerende hoofde daar hulle volle salarisse verdien.”

Jim sê werkers by SAAT het geen idee wat die toekoms inhou nie omdat dié afdeling ook in ʼn geldelike penarie is en die bestuur aanvoer daar is nie geld om salarisse te betaal nie. “SAAT is weens die SAL op die randjie van ineenstorting. Werkers by albei entiteite is verstaanbaar desperaat en gefrustreer.

“Die departement is bewus van al hierdie kwessies, maar pleks daarvan om leiding te neem en lewensvatbare oplossings te vind, speel min. Pravin Gordhan skaak met werkers se inkomste. Hy stel doelbewus een groep werkers teenoor ʼn ander op. Hy help nie om oplossings te vind nie, maar dompel werkers verder in ʼn krisis. Hy het absoluut geen simpatie met hul lot of lyding nie. Die minister se optrede wys sy koue wreedheid en hy moet ophou voorgee dat hy omgee.”

Numsa eis nou dat die presidensie by die saak ingryp en het opnuut gevra dat Gordhan die trekpas kry.

“SAAT is op sy knieë, SA Express het ingeplof en die SAL en Denel is in die waakeenheid. Hierdie instellings val almal onder Gordhan en almal het misluk.”

Numsa vra die regering om te verseker dat filiale soos SAAT en Airchefs dringend geld kry om hul bedrywighede vol te hou. Die vakbond sê die regering het toegelaat dat korrupsie die instellings lamlê en dat hy nou ʼn oplossing moet vind wat nie verdere opofferings van werkers vereis nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

piper ·

ja dit is nie lekker nie maar hulle het ook nie gewerk oor die tydperk nie. in die privaatsektor sou hulle bloot net hulle werk verloor het. ek het vanaf maart die jaar tot nou nie n sent ingekry met my toerisme besigheid ingekry nie. net uirgawes gehad. leef op my reserwes

Andre ·

Ja as jy nie werk nie kan jy nie betaal word nie.Eenvoudig in die privaat sektor maak deure toe en werkers word in die pad gesteek sonder werk.Maar die regering is baie lief vir geldmors so wat maak dit saak ?Blameer dit ook maar op apartheid.

Die Wolf ·

Ek sal nou baie versigtig wees om met vliegtuie wat hulle moet onderhou te vlieg.

Pierre ·

“SAAT is op sy knieë, SA Express het ingeplof en die SAL en Denel is in die waakeenheid. Hierdie instellings val almal onder Gordhan en almal het misluk.”

Hierdie instansies was reeds op die knieg gedwing voor Mins. Gordhan oor geneem het, waar was Numsa al die jare met staadskaping?

Miskruier ·

Nie een grootkop het finansiële probleme nie, nie by genoemde instansies en ook nie in ons regering nie.

Alexander ·

Gordhan is ‘n kommunis, sy hoofoogmerk sal altyd wees om dit wat werk te vernietig. Dit was van 1994 die sekelkoppe se hoofoogmerk. Jy kan niemand vertrou nie, veral nie ‘n kommunis nie.

JohanR ·

En ons het vir ‘n lang tyd gedink dat Gordhan is ‘n ruiter op ‘n wit perd! ‘n Useless ANC is maar ‘n useless ANC, en bly maar ‘n useless ANC!

Hennie J ·

Dis ook net in piesangland waar ons kan salaris eis al het ons nie gewerk nie. Viva piesangland, viva ………

Jack ·

Die vakbonde moet ophou om te maak asof hulle geen aandeel het in die huidige fiasko met gemors staatsondernemings, Cosatu is lid van die ANC/SAKP/Cosatu drie-party alliansie. Hulle het reg van 1994 geweldige baise inspraak in alle arbeids aangeleenthede by die regering gehad. Affrimative Action en BBBEE en demographic representivity is met Cosatu se aktiewe medewerking/aansporing ingestel.

Om nou te sê die wekers is onskuldig is bog. Coastu lede het lustig saamgewerk en aangedring op die implementering van beleide waaroor hulle nou kla.

Ek voel jammer vir werknemers van staatsondernemings wat nog vanuit die ou bedeling kom, wat vasgebyt het ten spyte van loopbane wat in dryfsand vasgeloop het as gevolg van ANC beleid en nou hullewerk gaan verloor. Hopelik sal hulle knidheid, ervaring en vindingrykheid meehelp dt hulle andere werk kan kry.

Vir al die kaders wat dalk binnekort op straat kan sit: Wat jy saai sal jy maai. Dink daaraan elke keer as julle met buitensporige eise kom.

Chris ·

Staatskaping het ʼn geweldige groot aandeel in hierdie totniet gaan van die lugrederye maar ongelukkig het die vakbonde ook ʼn groot aandeel daaraan. Daar is hoeveel keer gesê ons het nie meer geld vir verhogings nie maar dan word daar gestaak en getoitoi en geplunder. Nou pluk hulle die vrugte daarvan. Vakbonde is ook verantwoordelik vir die probleem van die geweldige hoë salarisrekening wat die staat het. Mense moet nou afgelê word en als omdat daar nie meer geld is nie. Alles te danke aan die vakbonde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.