Gordhan takel ouditberoep

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings (Foto: ANA)

Dit is onaanvaarbaar dat ouditeurs die afgelope paar jaar nie wanbesteding op groter skaal aangemeld het in staatsbeheerde ondernemings nie, het die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, vandag in die parlement gesê.

Gordhan het die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings toegespreek oor die stand van die land se staatsbestuurde ondernemings, en voorbrand gemaak daarvoor dat die omvang van ongeoorloofde en wanbesteding in ouditverslae van hierdie ondernemings gaan toeneem voor dit afneem, omdat dit tans vir die eerste keer in jare streng genoeg geoudit word.

“Dit is regtig noodsaaklik dat ouditfirmas deur onder meer die parlement aanspreeklik gehou word vir wat hulle oor die jare afgeteken het,” het Gordhan gesê.

In die vyf maande sedert sy aanstelling as minister van openbare ondernemings het Gordhan reeds goeie vordering gemaak met sy doelwitte, naamlik om die verlede op te los, die hede op ‘n goeie voetstuk te plaas en te beplan vir ‘n beter toekoms. In hierdie verband het hy in besonderhede inligting verskaf oor die sewe grootste staatsbeheerde instellings, te wete Denel, Transnet, Eskom, Safcol, SAL, Alexkor en SA Express. In totaal het die sewe instansies R284 miljard se inkomste gegenereer, ‘n verlies van R1,9 miljard gely en werk aan 124 000 mense verskaf.

Denel se inkomste van R8 miljard verteenwoordig ‘n wins van R333 miljoen deur die 4 900 werknemers.

Transnet se inkomste van R65,5 miljard verteenwoordig ‘n wins van R2,8 miljard deur die 58 800 werknemers.

Eskom se inkomste van R177 miljard dra (moontlik saam met inspuitings en lenings) by tot ‘n oorskot van R800 miljard deur 47 600 werknemers.

Alexkor se inkomste van R386 miljoen verteenwoordig ‘n wins van R6 miljoen deur die 45 werknemers.

SA Express se inkomste van R3,6 miljard verteenwoordig ‘n ongeouditeerde verlies van R202 miljoen deur die sowat ‘n duisend werknemers.

Safcol se inkomste van R1 miljard verteenwoordig ‘n wins van R114 miljoen deur die 2 200 werknemers.

Laastens verteenwoordig die SAL se inkomste van R30,7 miljard ‘n verlies van R5,5 miljard deur die 10 071 werknemers.

Gordhan se doelwit vir die volgende jaar is om beheerrade oor saam te stel, effektiwiteit te verbeter, finansiële onafhanklikheid van instellings te herstel, korrupsie uit te roei en mandate by die land se ontwikkelingsbeleid te laat inpas.

Nuwe beheerrade is die afgelope vyf maande vir Eskom, Denel, Transnet en SA Express aangestel, met Safcol en Alexkor volgende op die lys. Nuwe topamptenare is vir Eskom aangestel, Transnet en Denel is volgende en die departement van openbare ondernemings sal binnekort ‘n nuwe direkteur-generaal hê.

Nuwe beheerrade het die opdrag om vakante poste te vul met kundiges, finansiële stabiliteit en strategiese toekomsbeplanning daar te stel en korrupsie te bekamp.

Wat Eskom betref is meer as tien senior bestuurslui afgelê, nege strafregtelike hofsake is begin en 75 ander werknemers is afgedank.

Werk word gemaak daarvan om geld terug te kry wat deur ongeoorloofde kontrakte toegeken is, met die maatskappy McKinsey wat reeds R902 miljoen terugbetaal het en Gordhan wat gevra het dat druk ook op ander maatskappye geplaas word om dieselfde te doen.

Transnet vaar nie te goed nie. Ongeoorloofde besteding het toegeneem van R600 miljoen na R8,1 miljard, darem deels weens strenger oudits. Baie swak interne beheer en swak oorsig oor eskalerende kostes kniehalter Transnet.

Forensiese ondersoeke na onder meer die aankoop van lokomotiewe het gelei tot die lê van verskeie strafregtelike klagtes.

SA Express sal weer volgende week begin vlieg nadat die lugdiens se vlerke sedert 24 Mei geknip is.

By die diamantprodusent Alexkor lyk dinge ‘n bietjie beter, hoewel die Richtersveld-grondeis steeds teen die maatskappy inwerk. Die beheerraad sal ook hersaamgestel word met meer kundiges uit die mynbedryf.

Denel lyk glad nie goed nie, en ‘n rekordverlies word verwag, veral weens swak en korrupte bestuur. Daar was 144 dissiplinêre sake en wanbestuur van R116 miljoen. Leefstyloudits van die bestuur sal eersdaags begin en nuwe hoofbestuurslede word aangestel.

Safcol ploeter voort met veral die prosesseringsafdeling wat swak vaar, en doelwitte wat nie bereik word nie.

Gordhan het hom daartoe verbind om die staatsbeheerde maatskappye binne die volgende ses maande te stabiliseer, dit oor die volgende twee jaar te hervorm en dit daarna strategies te rig vir die toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Paul ·

Natuurlik is dit onaanvaarbaar, maar wie sou die ganse wat die goue eiers lê, in Zuma se tyd, in die tanne skop?

Alida ·

Mnr Gordhan verdien n veer in die hoed, Hy is n man met integriteit en dit is hoekom JZ hom uitgeskop het. Hou so aan mnr ons is trots op jou.

Sarel Strydom ·

Sterkte. ” springcleaning” is bitter nodig. Gaan hy die ondersteuning van die Parlement ontvang?

LB S ·

Dankie Gordon, jy is omtrent AL een op wie ons kan staatmaak.

Pietsepan ·

Ouditeurs wat valse verslae indien is skuldig aan verydeling en moet vervolg en geskors word.

Lola ·

UITEINDELIK!!! Iemand wat die ouditeurs-probleempie aanspreek…..

Careltjie ·

Ai, hy gaan nêrens kom nie. CR is dan ook besig om ons land en ekonomie te v ernietig. Daar is net nie einde nie. Ek wonder net waar SARS gaan geld kry sodra die melkwit koei leeg gemelk, verjaag en verpletter is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.