Gordhan veroordeel Denel se versoek vir R3 miljard

Die wapenvervaardiger Denel het Dinsdag ʼn ekwiteitsinspuiting versoek terwyl hy LP’s op hoogte gebring het met sy prestasie van die afgelope jaar. Die voormalige minister van finansies Pravin Gordhan het egter gesê die maatskappy se finansiële verknorsing word verbind aan sy verhouding met die Gupta-familie, wat ondersoek word oor bewerings van staatskaping.

Gordhan het gesê dié bewerings het beleggersvertroue in Denel skade berokken en kontant kan nie die probleem oplos nie.

“Die storie oor staatskaping het ʼn impak gehad op vertroue,” het Gordhan gesê, terwyl lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings reageer het op die finansiële verslag.

“ʼn Nuwe raad moet aangestel word met geen e-posse wat aan [die familie] verbind word of besoeke aan Dubai nie. Anders hou ons aan om die uitvoerende finansiële hoof en uitvoerende hoof te vra om die onmoontlike te doen,” het hy bygevoeg. Hy sê binne die huidige finansiële klimaat is dit moeilik om te sien waar fondse vir só ʼn inspuiting vandaan sal kom.

Gordhan het vroeër ook genoem dat die weerstand teen hom in sy kapasiteit as minister van finansies, deur Denel-voorsitter Daniel Mantsha oor ʼn vennootskap met ʼn naby Gupta-vennoot, Salim Essa, ongehoord was. “Mnr. Mantsha was in 2016/2017 baie uitgesproke, presies toe die Gupta-e-posse aangedui het dat hy ʼn naby verhouding het met die Guptas, veral toe Denel-Asië in die weegskaal was.”

Gordhan het verwys na ʼn poging deur Denel om ʼn vennootskap aan te gaan met Denel-Asië, onder leiding van Essa, maar sonder goedkeuring van die nasionale tesourie – wat uiteindelik die ooreenkoms laat beëindig het.

“Geen uitvoerende hoof het nog ooit vantevore ʼn minister gedaag soos hy gedoen het nie, en dit was as gevolg van sy verhouding met die Gupta-familie, wat ʼn impak het op sy geloofwaardigheid.”

Mantsha het gesê die breuk tussen die nasionale tesourie en Denel is opgelos, maar Gordhan het gesê LP’s moet die besonderhede weet van hoe dit gebeur het, aangesien dit met die bestuur verband hou – wat ʼn impak het op die maatskappy se finansiële welstand.

“Ons praat in die algemeen. Finansiële state kan nie losgemaak word van die kwessies wat ek aangeroer het nie. Ons kan nie ʼn Chinese muur oprig tussen die twee nie.”

Volgens dokumente wat by die komitee ingedien is, benodig Denel ongeveer R3 miljard.

Odwa Mhlwana, hoof finansiële beampte, het gesê die maatskappy se kontantvloeiprobleem is deels toe te skryf aan krediteure wat ooreenkomste gekanselleer het en die maatskappy gedwing het om “in die afgelope paar maande” R756 miljoen te moet betaal wat aanvanklik vyfjaarlenings sou wees. Dit het die maatskappy se vermoë beperk om verskaffers te betaal. Dié verskaffers eis nou kontant voor aflewering.

Mhlwana het gesê die maatskappy se bestellings het tot R19 miljard afgeneem en moet eintlik op R35 miljard wees om seker te maak Denel is ʼn volhoubare maatskappy.

“Ons kontantvlakke is absoluut onvoldoende,” het hy aan die komitee gesê. “Dis nog ʼn lang pad voor hierdie maatskappy volhoubaar sal wees. Die winsgrensvlakke moet met tussen 8% en 12% verhoog word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Frikkie Geld en huis ·

Om te dink Denel WAS ‘n winsgewende maatskappy voor 1994.

Rooi jan ·

Nie regtig nie Frikkie dit is toe ook regop gehou deur belasting. Maar ten minste het Denel toe nog iets ontwikkel dit het ook nou gestop.

Deneller ·

@Rooi Jan – Ontwikkeling het nie gestop nie; ons praat net nie meer daaroor nie.

Willie ·

Nog een van talle verskonings van die Hoof Uitvoerende Beamptes.

zoom zoom ·

Vra geld by Die GEPF hulle het so pas vir eskom gehelp. Sekerlik sal dit nie n probleem wees om Denel te help

Piet Pompies ·

En Denel bied watse diens aan die publiek om op sulke geld te kan aanspraak maak. Ons is mos nie in enige oorlog gewikkel…

John ·

Denel is aspris opgedons sodat die Gupta’s se Arabiese vriende ‘n winskopie kon maak en noudat die planne op die lappe is moet die volk vir die gelag betaal. Wil iemand nie asb ‘n rubberbootjie na nimmerimmerland aan sekere mense skenk nie?

Johan ·

Dit is ook weer alles apartheid se skuld, want die inkomste van Aerostructures gaan na die hoofkantoor en DAAR is die probleem waar alles net eenvoudig verdwyn. Elke entiteit moet verantwoordelik wees vir sy eie inkomste en uitgawes dan kan mos gesien word wie bring die inkomstes in en dan kan die entiteit wat nie presteer nie mos van ontslae geraak word.

Eish ·

Help hul met die staasdienspensioenfonds. Eskom het klaar R1miljard gekry. Wat is R1miljard by?

t ·

Denel sit met miljarde rande se wettige kontrakte. al wat nodig is, is kontantvloei om dit af te handel en, o ja, ‘n stewiger deksel op die koekieblik. Solank as wat die filiale nie beheer oor hulle eie geld mag uitoefen nie sal die spaarvarkie leeg gemaak word.

Dirk01 ·

Denel het maar nog altyd n donker wolkie om hulle gehad asook verdagte transksies………..

Antie ·

En so is daar vir die blanke werknemers gesê dat van hulle dienste beëindig gaan word, want daar is nie geld om hulle salarisse te betaal nie.

HPV ·

Deneller, ek glo ontwikkeling het nie gestop, julle ontwikkel seker nou vir die muishond lande wat nie daarvoor betaal nie, dit is ‘n goeie rede vir jul bankrotskap.

@ HPV ·

Lekker lag ek nou vir jou, janee shame, die Denellers wat nog daar ‘n salarissie kry (of dalk nie die Des nie) klou maar nog vas en praat goed van ‘n parastatal wat ons lankal weet sy alie gesien het. Siestog, ek sou ook seker dit nog goedgepraat het as ek nie van beter geweet het nie. Hang in there .julle kontrakte en ‘ontwikkelings’ kom een van die dae af .. Natuurlik word alles nou aan rebelle en ondersteuners van die ANC verkoop . . nie meer die lande wat betaal nie, nou word dit vir ‘n hoender en ‘n vark verruil, en soms vir ‘n plasie erens in ‘n verlore afrikastaat.

Joke ·

Whaaaaaaaa Denel wat seker een van die (finansieel) gesondste parastatals 20 jaar gelede was onder Mnr Alberts is nou ‘n joke. Moenie hulle geld gee nie, hulle het alles deurgeruk en vermors en die hele plek met BEE opgefoeter. Meeste groot projekte is gestaak en wapens word nou aan pelle verkoop. Ek kan maar net lag, Denel, SAL, SAUK, Prasa, Eskom, julle is op dieselfde pad . en dis NIE boontoe nie!! Noudie dag het julle nie geld gehad om die mense se salarisse te betaal nie. Dank die hemel ek is betyds daar weg, met ‘n pakket.

Christo ·

Hoop nie dat die Staatsamptenare se pensioenfonds GEPF se geld gebruik gaan word vir Denel soos met Eskom nie. Albei is ‘n bodemlose put. Hoop die Staatsvakbonde sleep die Public Investment Corporation hof toe sodat hierdie dubbel k middel a kan einde kry. Paramount is ‘n uiters suksesvolle privaat maatskapy in die wapenbedryf wat beter produkte ontwikkel en winsgewend is. Denel en daarvoor ook Krygkor kan gerus bankrot verklaar word en gesluit word. Hulle ontwerpe is in elkgeval nie winsgewend nie. Daar is reeds beter soortgelyke produkte op die ope mark wat minder kos. SA is nie meer in ‘n oorlog betrokke nie, dus regverdig dit nie die bestaan van Denel nie. Indien ‘n privaatmaatskapy nie winsgewend is nie, vou dit. Finish en klaar. As ek ‘n werknemer is by Denel met die nodige vaardighede sal ek solank ander werk soek. Al die staatsondernemings is welsynwerkgewers. Hulle maak net nie wins nie. Die staat het nie meer belastinggeld nie, nou sak hulle toe op die GEPF se pensioenfonds

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.