Gordhan verwelkom hupstoot in Jhb se kredietgradering

Stad Johannesburg soos gesien van die dak van die Oribi-hotel in Troyeville Foto: Chris Kirchhoff, MediaClubSouthAfrica.com (http://www.mediaclubsouthafrica.com)

Stad Johannesburg soos gesien van die dak van die Oribi-hotel in Troyeville Foto: Chris Kirchhoff, MediaClubSouthAfrica.com (http://www.mediaclubsouthafrica.com)

Pravin Gordhan, minister van finansies, het Sondag die Stad Johannesburg gelukgewens met die opgradering van sy kredietgradering.

Dit kom nadat die kredietgraderingsagentskap Fitch Vrydag die stad se nasionale langtermyngradering en nasionale senior onversekerde graderings op uitstaande verbande opgradeer het. Die agentskap het ook bevestig dat die stad se langtermyn plaaslike geldeenheidgradering stabiel is. Fitch het aangedui dat Johannesburg se fiskale vermoë en volhoubare skuldvlakke albei ʼn sleutelrol in die agentskap se graderingsbesluit gespeel het.

Gordhan het Sondag gesê Johannesburg se ekonomiese groei verminder ongelykheid en skep “produktiewe ekonomiese geleenthede vir die armes en die weerloses”.

“Suid-Afrika het nou meer as ooit stede nodig wat finansieel volhoubaar is en in staat is om in infrastruktuur te belê wat die lewens van ons mense verbeter,” het hy gesê. “Omsigtige bestuur van stadbegrotings moet die fokus van ons stede wee, want die sukses of mislukking van plaaslike regerings sal bepaal of miljoene arm en gemarginaliseerde mense ʼn waardige lewe in ordentlike omstandighede kan leef.”

Gordhan het gesê stede is die enjins van ekonomiese groei en Suid-Afrika kan nasionaal slegs hoër vlakke van groei bereik indien plaaslike regerings voldoende presteer. “Dit sal deur ons stede wees dat Suid-Afrika inklusiewe groei sal bereik, die soort groei wat ekonomiese ongelykheid verminder en ekonomiese geleenthede skep.”

Vroeër vandeesmaand het talle ekonome gewaarsku dat Suid-Afrika op die rand van rommelstatus is nadat die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s (S&P) Suid-Afrika se buitelandse valutakredietgradering van BBB-stabiel na -negatief hersien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Op die platteland word klein dorpies ingeskakel by groter dorpe waar hulle dan nie die nodige dienste en instandhouding kry. Soveel as tien dorpe (Govan Mbeki munisipaliteit as voorbeeld) word saamgegooi oor ‘n afstand van sowat 60km wat dienslewering onbeholpe maak. Dit geld ook vir ander dorpe. Die engelse “out of sight out of mind” is hier van toepassing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.