Gordhan verwelkom onttrekking van KPMG se SAID-verslag

Voormalige minister van finansies Pravin Gordhan en voormalige adjunkminister van finansies Mcebisi Jonas Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, het die onttrekking van die SAID-verslag oor die werk wat die ouditeursfirma KPMG namens die Gupta-familie gedoen het, verwelkom.

Gordhan het gesê hy was verras deur die “absolute minagting” wat die maatskappy gewys het in hul rol oor die kaping van die inkomstediens en die “groot skade wat hy gedoen het aan die lewens en reputasie van ʼn baie professionele, eerlike en lojale groep staatsamptenare”.

“Dis jammer dat ʼn maatskappy met die statuur van KPMG, met ʼn verantwoordelikheid en verpligting om objektief te wees, hul plig versuim het. Dit word vererger deur hul samewerking met die Gupta-familie,” het hy in ʼn verklaring gesê.

“KPMG moes die integriteit en eerlikheid gehad het om daarop te wys dat die navorsing- en ondersoekeenheid wat in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens op die been gebring is, wettig was; dat die bedrywighede om die onwettige tabakhandel en ander pogings om ʼn einde te bring aan belastingontduiking binne die wet gedoen is; en dat KPMG geen basis gehad het om ʼn belangrike staatsinstansie te kaap nie.”

KPMG Suid-Afrika het Vrydag Nhlamu Dlomu aangestel as sy nuwe uitvoerende hoof. Dlomu het gesê sy is toegewyd om die ouditeursfirma se fundamentele waardes van etiek en integriteit te herstel en om die maatskappy se geloofwaardigheid te herstel.

Dit volg nadat Trevor Hoole Vrydag sy bedanking ingedien het as uitvoerende hoof van KPMG SA. Steven Louw, hoof bedryfsbeampte en risikobestuursvennoot en vyf ander senior vennote het ook bedank.

KPMG SA sal dissiplinêre stappe doen om Jacques Wessels, hoofvennoot oor die oudits wat vir Gupta-maatskappye verantwoordelik is, uit sy amp te verwyder.

KPMG is veroordeel oor die sogenaamde SAID-verslag waar die maatskappy ondersoek ingestel het oor bewerings van ʼn “rogue”-eenheid wat deur Gordhan ingestel is, toe hy die kommissaris van die SAID was.

Hy het gesê KPMG het nog nie genoeg gedoen nie, en niemand het hom nog gekontak om hom om verskoning te vra nie. “KPMG moes die moed gehad het om te erken, in die lig van hul eie ondersoek, dat die oprigting van hierdie eenheid wel wettig was.

“Die oorentoesiastiese samewerking van senior KPMG-personeel (of hulle nog tans in diens is van KPMG of nie) en hul samewerking met afstootlike karakters in die SAID het direk bygedra tot staatskaping en dit het daartoe gelei dat eerlike persone en bestuurders geviktimiseer is. Dit is belangrik om te noem dat dit daaroor gegaan het om SAID as ʼn instansie aan te val met die hoof doelwit om dit te kaap,” het hy gesê.

“Dit is die simptome van verswakkende vlakke van regering en die erns van staatskaping. Die gevolge hiervan is die negatiewe impak wat dit gehad het op die lewens van almal wat vervolg is en nog steeds vervolg word – as die jongste optrede van die direktoraat van prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) en die Nasionale Vervolgingsgesag in ag geneem word.”

Hy het gesê hy sal regsadvies inwin.

Die SAID het in Desember 2014 KPMG SA aangestel om ʼn omvattende ondersoek te doen oor ʼn sogenaamde “rogue-eenheid” wat glo deur die vorige minister van finansies, Pravin Gordhan, opgestel is. Die ondersoek het gelei tot ʼn “Verslag oor bewerings van onreëlmatighede en wangedrag”.

KPMG het Vrydag gesê die bewyse in die dokumentasie ondersteun nie die interpretasie dat Gordhan geweet het, of moes geweet het, van die “rogue”-aard van die eenheid nie. Die maatskappy het gesê hy erken en het berou oor die impak wat die verslag gehad het, en dat hy “geen politieke motivering gehad het of bedoeling gehad het om te mislei nie”.

KPMG het daarna aangebied om die R23 miljoen wat hy vir die werk vir die SAID ontvang het, terug te betaal, “of om ʼn donasie van dieselfde bedrag aan ʼn liefdadigheidsorganisasie oor te betaal”.

Die maatskappy het ook die verhouding ondersoek wat sy vennote gehad het en die ouditwerk wat hulle vir maatskappye gedoen het wat deur die Gupta-familie besit word, insluitend Linkway Trading, ʼn maatskappy wat geïmpliseer is dat hy miljoene rand uit ʼn Vrystaatse suiwelplaas bekom het om ʼn troue te finansier.

Vier van KPMG se vennote het die luukse Gupta-troue in 2013 by Sun City bygewoon.

Alhoewel KPMG gesê het sy ondersoek oor die verslag het nie enige bewyse gekry van enige onwettige gedrag of korrupsie nie, voldoen die werk wat vir die Gupta-familie gedoen is, nie aan KPMG se standaarde nie en dat die ouditspanne versuim het om ten volle te voldoen aan ouditstandaarde.

Die maatskappy het ook gesê die vennote moes nie die Gupta-troue bygewoon het nie.

KPMG het gesê hy sal die R40 miljoen, wat hy sedert 2002 van Gupta-entiteite ontvang het, skenk aan opvoeding en niewinsgewende teenkorrupsie organisasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

GR ·

Is hier nog eerbare mense in hierdie land??? Of is dit alles zumapandemie??

Asmain ·

Skokkend om te dink die belasting betaler het R23 milj betaal vir n nuttelose verslag! Shame on you KPMG!

humor ·

Om terug te wil betaal is hopeloos te min die hele spul behoort in die gevangenis. Die kostes van hul verblyf daar moet huself betaal en nie die belastingbetaler nie.

Maryna ·

Humor, ek kan nie met jou saamstem nie. Daar werk meer as 3000 onskuldiges by KPMG wat beslis nie deel was van hierdie gebeure. My hart gaan uit na elkeen van hulle.

Jacques Venter ·

Toe Zuma die Skerpioene tot niet gemaak het, was die skrif aan die muur.

Die skerpioene het die mag en die vermetelheid audacity om politici te vervolg gehad

Lente ·

@KPMG – Ek aanvaar julle verskoning. @ Zumaikies julle vat nog elk DAG die be lasting betaler se geld vir lekker vakanies en Te trou en baie parties met baie vermaak.

vra-maar-net ·

Wonder waar is die Guptas nie betrokke nie. Hierdie mafia-familie het beslis hulle kloue oral ingeslaan

Christo ·

Maryna, die Senior personeel by KPMG het geweet wat hulle doen en dat hulle KPMG se personeel werknemers se werk in gevaar stel. Laat dit ‘n les wees.

Eish ·

Nadat KPMG sy verbintenis met die Gupta’s opgeskort het, het die ouditeursfirma SisweNtsalubaGobodo hul as kliënt oorgeneem. In die lig van die onlangse onthullings is hul verplig om hul verbintenis met die Gupta’s te verbreek, indien hul dit nie reeds gedoen het nie. Indien wel, is dit presies hoe so n kliënt hanteer moet word. Die repurkussies van die aangeleentheid gaan nog vir lank golf. Die onskuldiges in die firma, klerke onder opleiding en personeel nie betrokke gaan die effek verseker voel. Ek het n spesmaas kliënteverlies gaan n reuse impak op die besigheid hê. Wat my verbaas is dat n kliniese sielkundige aangestel word om die maatskappy te bestuur. Dis meer in n personeelrigting as bestuur van n oudit entiteit. Mag die ander ouditfirmas n deeglike studie van die feite maak en leer uit die situasie. Dit duur minimum 7 jaar om n Geoktroieerde Rekenmeester op te lei. Die KPMG bestuur het waaragtig n paar mense se toekomsplanne sleg deurmekaargekrap. Om n naam wat deur so n insident vernietig is, weer in ere te herstel, is n baie, baie moeilike taak. Die siviele eise van Mnr. Gordon en ander gaan ook nog volg. Voorwaar en gewis n baie moeilike pad wat voorlê vir KPMG. Jou naam, jou reputasie was nog altyd en sal altyd jou duursaamste bate bly.

Jacques Venter ·

Eich
Baie goed gestel. Net jammer checks and balances skop te laat in

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.