Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, gaan die openbare beskermer (OB) se verslag, bevindings en voorgestelde optrede teen hom teenstaan.
In dié verslag wat gister bekendgemaak is, voer adv. Busisive Mkhwebane (OB) aan Gordhan dat “onregmatig” opgetree het toe hy Ivan Pillay, voormalige adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), se aftredepakket goedgekeur het.
Gordhan se prokureur, Tebogo Malatji, het Vrydag gesê Mkhwebane het haar bevinding bekend gemaak skaars 48 uur nadat Gordhan ʼn voorlegging op haar versoek daaroor by haar ingedien het.
“Minister Gordhan bevraagteken die haas en tydsberekening van die bekendmaking van haar verslag. Die klagtes behels ingewikkelde oorweging van wetgewing oor pensioenfondse oor staatsdiensamptenare. Dis te betwyfel dat genoeg oorweging aan minister Gordhan se voorlegging gegee is.
“Die haas en tydsberekening van die openbare beskermer se verslag dui op ʼn algehele verontagsaming vir ʼn belangrike grondwetlike gebeurtenis vir ons land, die inhuldiging van die president van Suid-Afrika,” het Malatji gesê.
Pres. Cyril Ramaphosa word later vandag in Pretoria ingehuldig.
Mkhwebane se bevindings is “heeltemal verkeerd, in feite sowel as die letter van die wet,” het Malatji gesê.
Hy het gesê in die lig van die jongste bevinding oor die Vrede-suiwelprojek glo Gordhan dat die openbare beskermer wéér eens ʼn fout begaan het met haar bevindings en voorgestelde optrede in die verslag.
Die hooggeregshof in Pretoria het die afgelope week Mkhwebane, se verslag oor die omstrede Estina-suiwelprojek by Vrede in die Vrystaat ter syde gestel. Dit is onwettig en ongrondwetlik verklaar. Die hof het boonop bevind Mkhwebane het haar plig versuim deur nie die bewerings behoorlik te ondersoek nie.
Gordhan is in 2016 strafregtelik aangekla oor Pillay se vroeë aftrede, maar twee dae voordat hy moes verskyn, is die klagte teen hom laat vaar. Twee jaar later, in Oktober verlede jaar, het Mkhwebane ʼn dagvaarding uitgereik dat Gordhan voor haar moet verskyn op dieselfde aanklag. Dít het in November gebeur.
Vroeër vandeesmaand het hy ʼn kennisgewing gekry dat hy binne 14 dae moet reageer op beslissings wat Mkhwebane teen hom wil maak. Gordhan het sy voorlegging Woensdag ingedien.
Vrydag het Gordhan ʼn kennisgewing ontvang dat die openbare beskermer sy versoek om verdere voorleggings oor voorgestelde optrede teen hom te maak, van die hand gewys het.
Pillay se regspan het intussen ook gesê die kwessie oor sy pensioenuitbetaling was reeds die onderwerp van verskeie ondersoeke wat almal bevind het daar was niks onbehoorlik aan nie. Inligting daaroor is boonop deur die loop van haar ondersoek aan die openbare beskermer verskaf.
“Mnr. Pillay verskil ten sterkste van die openbare beskermer se bevindings. Hy glo haar bevindings is hersienbaar, omdat dit feitelik en op regsgronde verkeerd is. Hy beoog om regstelling in die hof te versoek.
“Ons is vol vertroue dat hy geregtigheid daar sal vind,” het Pillay se regspan gesê.
Benoude katte maak benoude spronge..
Ja mnr Gordhan ek bevraagteken ook die verslag hoe toevallig net voor mnr. Ramaposa sy kabinet moet aanstel, ook die feit dat mnr Mabusa vrygespreek word. Dit se baie en dit wil voorkom as of die DA reg was met hulle uitsprake tydens haar aanstelling. Sterkte mnr Gordhan
Kan iemand asb vir Mkwebane sê dat Zuma weg is. Dit lyk nie of sy dirt weet nie.
Sy beskerm die zuptas
Hierdie OB is te dom om te weet dat sy uitgevang is en dat sy nou haar streke moet los. Die feit dat die parlement haar tot op hede nog beskerm het dra seker hiertoe by so dit het nou tyd geraak om van haar ontslae te raak.
Hoe is dit dat sy nogsteeds werk na verlede week se disaster waar sy uitgewys is op haar skelmstreke??
O Blikskottel, die OB haal die nuus om die verkeerde redes.! Skynbaar is kritiek deur die howe en ander soos musiek in die ore wat nie wil luister en hoor nie! Daar is rustigheid en Vrede met sake wat werklike saak maak.
Onskadelike ou koeie word “uit die sloot gegrawe”. Miskien is die OVS opdrag nie reg verstaan nie. (los als daar in Vrede). Die “moenie” van krap waar dit nie jeuk nie, is klaarblyklik nie gehoor nie. Die jeukerigheid in die verband laat mens wonder oor…… alles en nog wat, as die OB haar pen opvat!
Sy verloor elke keer in die Hof en dan appelleer sy met belastingbetalersgeld net om weer te verloor.Cyril sal nou moet wys wat in hom steek en van haar ontslae raak anders gaan sy die wereld vir hom moeilik maak.
As ons meer Gordhan’s gehad het en minder Mkhwebane’s in die land – het dit verseker geweldig beter gegaan met die land!!
Sy is om die minste te sê onbevoeg. Sy was van dag een af nie die regte persoon vir die pos nie. Sy het geen intergriteit nie en het dit nou al oor en oor bewys.
Sy is nie net onbevoeg nie maar werk gedurig met n versteekte agenda. Sy moet weg.!!!!!!!!!!!! Kom ons sien of C R erns het om hierdie probleem uit die weg te ruim.
Die OB dryf haar persoonlike aksie teen Pravin Gordan op belasting betaler se onkostes ! Sy is duidelik onbevoegd vir daai belangrike pos… is daar nie nog n Thuli Mandonsela iewers nie ?
OB is onbevoeg !