Gordhan: ‘Zuma hét gelieg’

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, getuig voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Dimpho Maja/ANA

Oudpres. Jacob Zuma het vir sy kabinet gelieg en die ergste vorm van korrupsie toegelaat om die berugte Gupta-familie en hul sakevennote te bevoordeel.

Só het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Woensdag aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê.

“Die voormalige president [Zuma] het gelieg. Hy het ons gevra om in te gryp in die verhouding tussen die Guptas as kliënte en die banke, om die kernkragooreenkoms te dryf, en as ʼn mens kan kyk na die staatskaping-hipotese, deur toe te laat dat sekere rade in staatsinstansies gevestig word deur sekere ministers en ander in posisies te plaas wat hul samewerking in hierdie verband sou gee, “ het Gordhan gesê.

“As jy na hierdie goed kyk, wys dit daar was ʼn konkeling aan die gang wat deur iemand ontwerp is. Ek hoop teen die tyd wat die kommissie sy werk afgehandel het, sal julle vir ons kan sê wie daardie iemand is.”

Die minister het ook getuig oor die sluiting van die Gupta-maatskappye se bankrekeninge deur Suid-Afrika se vier grootste banke in 2016.

Hy het gesê ʼn interministeriële taakspan is deur die kabinet aangestel in ʼn “ingewing van die oomblik”-reaksie, met Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale hulpbronne, wat homself die de facto-voorsitter gemaak het. Die komitee het aanvanklik Gordhan en Mildred Oliphant, minister van arbeid, ingesluit, maar het later ook Faith Muthambi, destydse minister van kommunikasie, betrek.

Gordhan sê hy het nooit enige van die komiteevergaderings bygewoon nie, aangesien hy die komitee se wetlikheid en mandaat bevraagteken het.

“Ek het die doel en skynbare doelwit van die taakspan bevraagteken gegewe die kollegas wat benoem is om daarvan deel te wees. Ek het die uitgebreide globale en plaaslike wets- en regulatoriese raamwerk verduidelik waaronder die finansiële sektor val en het gewaarsku dat hierdie raamwerk verstaan en oorweeg moet word voordat in gesprekke met die banke gegaan word,” het Gordhan gesê.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, getuig voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Nhlanhla Phillips/ANA

“My bekommernisse is nie aandag van die lede van die taakspan gekry nie. Ek het besluit om nie die vergaderings van die taakspan by te woon of aan sy aksies deel te neem nie, want ek was van mening – en dit is deur regsadvies bevestig – dat lede van die uitvoerende gesag nie by kontraktuele verhoudings tussen banke en hul kliënte kan inmeng nie.”

Gordhan sê Zuma het Zwane se poging om die Gupta-rekening by Absa, FNB, Standard Bank en Nedbank te laat heropen ondersteun.

“Ek onthou verdere gebeure in die kabinet wat ek nie in die openbaar bekend kan maak nie, maar wat ek aan die kommissie aangedui het moet ondersoek word. [Hierdie gebeure] het vir my daarop gedui dat mnr. Zwane die volle steun van oudpres. Zuma gehad het in sy poging om die taakspan se doelwit na te jaag om die standpunt wat ek en die nasionale tesourie ingeneem het rakende die sluiting van die bankrekeninge te ondermyn,” het hy gesê.

“Dit het drie verslae van die taakspan ingesluit, waarvan twee aan die kabinet bekendgemaak is.”

Absa was die eerste bank om die persoonlike en sakerekeninge van die Gupta-familie te sluit. Die bank het aangevoer die rekeninge hou vir hom ʼn reputasie-risiko in, asook dat daar moontlike oortreding van bankregulasies is. Die ander banke het daarna in Absa se voetspore gevolg.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, arriveer om te getuig voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Nhlanhla Phillips/ANA

Die Guptas het daarna rekeninge oopgemaak by die Suid-Afrikaanse tak van Indië se Bank of Baroda. Die bank het egter ook in Januarie vanjaar se bande met Guptas verbreek nadat bewerings aan die lig gekom het dat die bank se Suid-Afrika-tak geldwassery namens die familie doen.

Oor bewerings deur die EFF dat Gordhan se dogter, Anisha, sake met die staat doen en in die afgelope paar weke al haar bankrekeninge gesluit het om die “honderde miljoene rande weg te steek wat sy van die regering ontvang het”, het Gordhan gesê sy dogter is nie betrokke by enige transaksies met die staat nie.

“Verkeerde inligting oor my dogter is gister aan die publiek geopenbaar. Sy is nie betrokke by enige misdrywe nie. Die bewerings oor tenders is ʼn leuen…. Sy het nie ʼn bankrekening in Kanada nie en ek ook nie. So ek moet dít sê: Kom ons speel die bal, nie die man nie. Kom na my toe en ek sal antwoord. Ek kies nie weerlose teikens nie, want, voorsitter, as hierdie [neiging] voortduur soos dit tans aangaan, beteken dit getuies gaan bang wees om voor jou te verskyn en te getuig.”

Gordhan het sy getuienis Woensdag afgesluit. Sy verskyning voor die komitee is ontsier deur betogings deur EFF-lede buite die gebou in Parktown waar die kommissie se verhore plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

DeVill ·

Dankie vir al die waarhede Mnr. Gordhan, maar jy is nog steeds deel van die korrupte, onbevoegde en totaal en al nutelose ANC. Hoe kan enige iemand nog deel van die ANC wil wees en veral iemandvan jou statuur, of is dit ook maar net ‘n front. Hoe lank voor al jou geraamtjies uit klim?
So lank jy so ‘n rassistiese en verdelende party ondersteun en nog ast top leier dien, sien ek jou in dieselfde lig is JZ and CR. Die hele lot is kriminele, die hele ANC is vrot.

ivan.. ·

well done gordon. keep your good work up. yiur an honest man and dont let anyone get you down. fight for your honesty..good luck.

Nettie ·

“Die deler is net so skuldig soos die steler” – dankie dat u met die “waarhede”, soos ons dit eintlik al lankal geweet het, uitgekom het, mnr. Gordhan …………………………………. MAAR …………………….. onthou, u was deel van daardie korrupte regering van Zuma. Moet dus nie nou uself verontskuldig en sê u het nie daarvan geweet of was nie deel daarvan nie. U was ‘n minister en kabinetslid.

Geregtigheid ·

Gaan daar ooit iets gebeur nadat die onderhoude afgehandel is? Nooit want hulle weet nou al reeds dat die probleem te groot is vir hulle. Hulle besit nie oor die vermoe om dit te doen nie.

PJC ·

Die EFF is bang hulle kan ook in die spervuur beland as daar te veel gekrap word vandaar hulle teenkanting teen Gordhan. Een kommissie en gevolglike ondersoeke kan dalklei tot nog.

Blahhh...blahhh ·

MORS VAN TYD EN GELD, WANT NIKS GAAN HIERVAN KOM NIE…NET DADELS…!!!

Gert van Wierdapark ·

“Give the man a Bell’s: Dit is al getoon dat die netwerke van staatskaping van plaaslike tot nasiinale vlak strek. Dankie min Gordan. Dis hoog tyd dat die geldpot se inskep-lepel in n pap1voeter-lepel verander moet word, sodat die kapers dit aan hul bas en sak kan voel en dan Oranje oorpakke kan aantrek!

T ·

Wel hoe anders? Zuma jok al jare lank vir ons almal, en nou jok hy hieroor ook, dit moes nie eers genoem gewees het nie.

hendrik ·

Hy lieg vandat hy kon praat maar Maharaj het hom leer lieg sonder dat jy dit kan sien.

RG ·

Gaan rus nou maar mnr. Gordan, jy het jou deel gedoen. Jou voorstel aan die kommissie dat die Balju gestuur word om bates op te skryf van al die kaders wat bevoordeel is, is die enigste, regte gevolg. Malema se kabaal daar buite klink vir my al hoe verder weg, soos ‘n ou wat in sy eie gat inval.

lee ·

Dis nié nuwe nuus nie – EK weet dit al jare laaaankal dat Zuma lieg en sy pionne manipuleer het vir eie en Guptas gewin.
Gordan het maar net die “guts” om nou in die openbaar uit te kom met die sakke vrot pattats.
Skande op skande !!

Alida ·

Pouvere in Mnr Gordhan se hoed. Kom ons kyk nou wat Zondo en kie met hierdie feite doen. Ek hoop die regte ding.

Marius ·

Ek het al in die verlede daaraan gedink, hy moet president word. Hou so aan mnr Gordhan. Praat asb altyd die waarheid.

Johan ·

Hoekom het Gordhan so lank stil gebly. Hyt lekker saam met zuma geeet en …….

Alida ·

DeVil wat de duiwel wil jy he. As hulle lieg kerm julle as n eerbare man die waarheid praat kerm jy. Al behoort hy aan die ANC beteken nie hy het nie integriteit nie. Genade almal is nie skelm nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.