‘Gordonia-slagter’ terug tronk toe

Devon Ovies (32), ook bekend as die Gordonia-slagter, het sy suster met ‘n mes aangeval. (Foto: Facebook / Devon Ovies)

Die sogenaamde “Gordonia-slagter” is Vrydag tot ʼn bykomende 18 jaar tronkstraf gevonnis, nadat hy sy suster met ʼn mes probeer doodsteek het.

Devon Ovies (32) is berug weens die grusame moord in 2015 op sy suster Katrina Jagers (50) en is destyds tot staatspasiënt verklaar.

Hy is op 20 Desember 2021 uit ʼn inrigting in die toesig van sy 38-jarige suster in Gordonia, Springbok, vrygelaat.

Hy is egter in Januarie verlede jaar weer in hegtenis geneem nadat hy dié suster verskeie kere met ʼn mes gesteek het. Die voorval het omstreeks 22:00 op 6 Februarie plaasgevind toe hy haar 15 keer met ʼn mes voor haar twee kleuters gesteek het. Dit was glo na aanleiding van ʼn woordewisseling oor sy huisarres. Hy is sowat ʼn uur later in Okiep vasgetrek en het op 11 Februarie in die Springbok-landdroshof op aanklag van poging tot moord en die diefstal van ʼn voertuig verskyn.

Volgens lt.kol. Sergio de Kock het Ovies 14 jaar tronkstraf gekry vir poging tot moord en nog vier jaar vir die diefstal van ʼn motor. Die vonnis sal gelyklopend uitgedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.