Gospelsanger se ma word vermis

Frieda Botha is intussen gevind. Lees meer hier.

Frieda Botha. Foto: Facebook

Die bekende gospelsanger Danie Botha se bejaarde ma word sedert laat Woensdag vermis.

Frieda Botha (78) het Woensdag van Parys in die Vrystaat waar sy woon na Potchefstroom in Noordwes gery om onder meer medikasie te gaan oplaai. Volgens Tari Coetsee, een van Botha se kleinkinders, het ʼn niggie saam met hulle ouma gery.

“Hulle het die medikasie in Potchefstroom opgelaai. My niggie en ouma het ʼn melkskommel gedrink en ander sake gedoen by die winkelsentrum waarna my ouma by haar broer in Huis Eikelaan gaan kuier het.”

Volgens Coetsee het haar ouma omstreeks 18:00 vertrek op pad terug Parys toe. “My ouma se broer het vir haar verduidelik hoe om weer by die huis te kom en sy was piekfyn toe sy daar gery het. Ons kon haar egter sedertdien glad nie weer in die hande kry nie en weet nie waar sy is nie.”

Coetsee het gesê hulle het by hospitale in Potchefstroom bevestig dat haar ouma nie daar opgeneem is nie. “Ons het ook bevestig dat sy wel haar medikasie gekry het en dat sy om 18:00 by Huis Eikelaan in die register uitgeteken het.”

Danie Botha. Foto: Facebook

Volgens Coetsee is haar ouma se foon aan, maar oproepe word nie beantwoord nie. “Ons het nou ophou na die selfoon toe bel sodat dit deur die polisie nagespoor kan word. Die polisie, boere tussen Parys en Potchefstroom en ons hele familie soek na my ouma. Van die boere het ook hul helikopters verskaf om te help soek. Mense ry ook in groepe rond en soek na haar.”

Coetsee het gesê haar ouma ly nie aan demensie of Alzheimer se siekte nie. “Sy het hoë bloeddruk en het al ʼn beroerte gehad. Sy ry egter nog self rond. So ons weet nie of iets gebeur het toe sy daar gery het en of sy dalk nie haar pad kon terugkry nie.”

Botha se man is twee jaar gelede oorlede. “Sy vat dit maar nog steeds baie moeilik.”

Sy woon op ‘n plaas buite Parys. Botha het ʼn bont langbroek met ʼn blou toppie aangehad. Die toppie het ʼn sakkie op die bors. Sy ry met ʼn wit Audi 1994-model, registrasie HDP113GP.

Enigiemand met inligting word versoek om die Potchefstroom-polisiestasie te skakel by 018 299 7457 of Pink Ladies by 072 214 739/083 378 4882/072 620 7704.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Chris Ws ·

Danie,ons gebede is met julle gesin dat ons Almagtige Vader Elohim se hande van beskerming styf om jou ma gevou is en sy veilig opgespoor sal word.Shalom.

Wilma Kleynhans ·

Danie Botha ek bid met my hele hart en wese dat sy ongedeerd gevind sal word! Sterkte!!!

Rina ·

Baie dankie, vir die versekering dat geen vuiltaal hier toegelaat sal word nie, wat ‘n verligting. Ek bid vir Danie en sy familie dat hulle vir ouma sal opspoor? Glo net en bid en vertrou, verder sal die Here onderneem.

Hannelie ·

Danie ons bid dat jou ma veilig gevind word. Dink aan julle.

Anel ·

Mag sy spoedig ongedeerd gevind word. Dit is net hartverskeurend vir haar famielie om hierdeur te moet gaan.

Genieve ·

Wat het van die niggie geword? Mag die tanie gou opgespoor word.

sanette ·

Danie Botha facebook:
Alle eer aan ons Vader.
My ma is gekry en veilig.
Ons is dankbaar.

rina pretorius ·

DANIE BOTHA SE MA IS GEVIND EN IS VEILIG. WIL MAAR NET ALMAL LAAT WEET.

oelof van wyk ·

Ek sal ook wil weet wat het van die niggie geword. het sy saam terug gery?

Chris Ws ·

Maroela Media- redaksie,op ‘n whatsapp groep word beweer dat sy wel gevind is.Enige kommentaar daarop?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.