ʼn Egpaar het Dinsdag in die Palm Ridge-handelshof in Johannesburg verskyn nadat hulle glo die Nasionale Loteryraad uit R1,5 miljoen bedrieg het.
Die verdagtes, dr. Tumisang Victor Makweya (39) – beter bekend as Dr. Tumi – en sy vrou, Kgaogelo Sara Makweya (36), is intussen op borgtog van R3 000 elk vrygelaat.
Dr. Tumi is ʼn bekende gospelsanger en mediese dokter.
Volgens kapt. Ndivhuwo Mulamu, polisiewoordvoerder, het die egpaar met Christopher Tshivule (46) en Thomas Ndadza (48) saamgespan. Dié twee is vroeër reeds op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.
Die groep het in 2018 glo vervalste aansoekdokumente by die loteryraad ingedien vir die finansiering van ʼn nie-winsgewende organisasie se projekte. Die Makweyas was glo komiteelede van die organisasie.
Die raad het die geld, altesame R1,5 miljoen, gevolglik in ʼn private bankrekening inbetaal. Die egpaar het glo R760 000 van dié geld gebuit.
Die twee het hul vroeër die week by ʼn polisiestasie in Johannesburg oorgegee en is aangekla van bedrog.
Die saak is tot 7 Mei uitgestel.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Gospelsanger. Skermunkel.
Gierigheid. As dokter verdien jy al klaar baie!!
Lyk my mens kan maar net vra, dan kry jy geld van lotery raad. Hoeveel bedrogsake is al aanhangig gemaak in die verband ?
En die skelmstreke het net geen einde nie! Wat sal hulle nog doen?
Lyk vir my hierdie groot gospel-kerke en gospel-sangers met hul nie-profyt organisasies is nou maar eenmaal ‘n poort vir bedrog en korrupsie…