Goudhandel-sindikaat in Kempton Park oopgevlek

Argieffoto

Argieffoto

Die Valke het Saterdag gesê hulle is steeds op soek na ʼn derde verdagte in verband met ʼn onwettige goudmynsindikaat ter waarde van meer as R400 miljoen.

“Twee mense is reeds Vrydag in hegtenis geneem ná ʼn klopjag by ʼn luuksewoonhuiskompleks in Kempton Park, Ekurhuleni,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, gesê. “Hulle staan tereg op aanklagte soos swendelary, geldwassery, vervalsing en verskeie belastingoortredings.”

Die groep het glo meer as 16 000 vervalste fakture uitgereik ter waarde van R437 miljoen om aankope van tweedehandse goue juwele te reflekteer. “Hierdie valse aankope is onder andere gebruik om 14% BTW te eis tussen 2010 en 2012.”

Mulaudzi het gesê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het meer as R50 miljoen verlies gelei weens hierdie skema.

Die twee verdagtes sal na verwagting Maandag in die Boksburg-landdroshof verskyn.

Intussen het die portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne die inhegtenisnemings verwelkom. “Ons glo dat ʼn suksesvolle vervolging van die verdagtes ons siening sal ondersteun dat onwettige mynbedrywighede ʼn diepgewortelde aktiwiteit is waarby ryk mense met hulpbronne en konneksies in hoë plekke betrokke is,” het Sahlulele Luzipo, voorsitter van die komitee, gesê. “Alhoewel ons hoop dat dit nie die waarheid is nie, is ons siening dat onwettige myners waarskynlik saamwerk met diegene wat in die amptelike handel betrokke is.”

Luzipo het bygevoeg hy hoop die ondersoek sal nog sindikate oopvlek, veral die sleutelpersone wat voordeel trek uit die onwettige aktiwiteite.

Bron: Naledi Shange, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Wat van die Zuma’s en Mandela’s wat wettige aktiwiteite bedryf het, maar nie eers hulle werkers betaal het nie en daarna BANKORTSKAP verklaar het??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.