Goudsektor loonaanbod ’n belediging vir werkers’

Argieffoto

Die National Union of Mineworkers (NUM) het Woensdag die driejaar-loonooreenkoms wat deur Suid-Afrikaanse goudprodusente voorgestel is as ʼn “hongerloon” en “belediging teenoor werkers” bestempel.

Goudmynmaatskappye het Woensdag ʼn loonooreenkoms voorgestel wat wissel van 5,5% en 6,5% vir ondergrondse werknemers, en tussen 3% en 4,5% vir myners, ambagsmanne en amptenare. Werkers eis ʼn salaris van R9 500 en meer vir bogrondse werknemers en tussen R10 500 en R12 500 vir intreevlak ondergrondse werknemers, asook ʼn behuisingstoelaag van R5 000.

Livhuwani Mammburu, woordvoerder van NUM, het gesê die vakbond eis ook 15% loonverhoging vir myners, ambagsmanne en amptenare.

“Hulle het loonverhogings van tot R550 vir myners aangebied en 4,5% vir ambagsmanne en beamptes. Die loonaanbod kom nie eens naby dit wat ons lede eis nie. Die goudprodusente is arrogant in hul benadering tot die loononderhandelinge tot so ʼn mate dat die aanbod wat hulle op die tafel plaas getuig van belediging en arrogansie,” het Mammburu gesê.

“Ons sal hierdie hongerloon en beledigende loonaanbod na ons lede neem vir hulle om ʼn finale besluit te neem. Al die belanghebbendes sal volgende week Woensdag weer vergader en die vakbonde sal terugrapporteer oor die mandaat wat ons van ons lede ontvang het.”

Loononderhandelinge tussen vier van die grootste goudprodusente en werkersvakbonde het Woensdag vir ʼn tweede dag voortgegaan. Die vier maatskappye, AngloGold Ashanti, Harmony Gold, Sibanye-Stillwater en Village Main Reef, het gesamentlik ongeveer 80 000 werknemers direk in diens.

Die maatskappye het verskillende aanbiedinge ter tafel gelê aangesien hulle hulself in verskillende omstandighede bevind. Altesaam is daar 137 eise gemaak, waarvan 62 koste-implikasies vir die maatskappye inhou en verskeie ingrypende implikasies is.

Die Mineraleraad van Suid-Afrika (MRSA) het vroeër gesê die mynbedryf word deur groot uitdagings in die gesig gestaar, ondanks die feit dat die goudsektor ʼn groot bydraer tot die Suid-Afrikaanse ekonomie is. Gideon du Plessis, hoofsekretaris van die vakbond Solidariteit, het gesê Solidariteit ontken nie dat myne onder druk verkeer nie. “Dit is waarom ons die standpunt huldig dat salarisverhogings met verhoging in produksie gepaardgaan,” het hy gesê.

“Ons hou egter by die standpunt dat die mynhuise se argument nie steek hou nie as uitvoerende hoofde se verhogings volgens die onlangse PWC-verslag oor die vergoeding van uitvoerende hoofde, uiters gunstig is en geen teken toon van ʼn sektor wat onder druk is nie.”

Du Plessis het ook die MRSA versoek om sy geneigdheid tot “vloeibare statistiek” tot ʼn einde te bring aangesien dit bloot wantroue rakende die integriteit van die syfers skep, wat in 2015 byna die onderhandelinge laat ontspoor het.

Volgens Du Plessis is die MRSA se aanduiding van die aantal werknemers werksaam in die goudsektor ʼn voorbeeld van die raad se verwarrende statistiek. Du Plessis sê voorts dat die MRSA in ʼn formele aanbieding aan vakbonde aangedui het dat daar 112 000 voltydse werknemers in die sektor werksaam is. In ʼn uitdeelstuk wat direk daarna beskikbaar gemaak is, word egter aangedui dat die getal werknemers minder as 100 000 is, maar op hul webwerf word die syfer van 120 000 genoem.

Die onderskeie mynhuise het aanbiedings rakende hul finansiële situasie gedoen en dit blyk dat nagenoeg 50% van myne marginaal of nie-winsgewend is. “Die MRSA, daarenteen, haal gereeld statistieke aan dat tussen 70% en 80% van die goudmyne nie winsgewend is nie. Dit skep weer eens die indruk van syfers wat uit die duim gesuig is,” het Du Plessis gesê.

Onderhandelinge sal volgende week voortgesit word wanneer die MRSA ook meer volledig op vakbonde se vrae en versoeke vir meer inligting sal reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

marco polo ·

Kyk maar hoe beledig julle gaan voel as julle nie meer werk het nie.

Mag ·

Die salris wat vir ondergrondse mynwerkers betaal word is ‘n skande en vir eens stem ek saam met die Unie. Ek het eerstehands die leiding en wrede afsterwe van daai mynwerkers ervaar, hul kry myntering (enfiseem) m.a.w. die longe verhard en dit is ‘n stryd om asem te haal, my pa het vir 14 jaar op ‘n suurstofbottel geleef nadat helfte van sy een long verwyder is om te probeer om sy lewe ‘n bietjie te verleng en al sy vriende in die myn het dieselfde pad geloop. Hul lewensverwagting is baie kort. Dit is maklik om die werkers te veroordeel as jy nie eerstehandse kennis het van wat op hul wag nie en glo my dit is nie mooi nie en hel vir hul geliefdes om daai pyn en lyding te aanskou. Ek sê maar net.

Ivana Viljoen ·

Die Unies is die grootste oorsaak, saam met ons ANC regering, van werkloosheid. As n werklose bereid is om vir n salaris te werk wat hom aangebied is, laat hom werk. Doen weg met alle unies want hulle is soos die Bybeltydse se Peste en verwoes lewens

Werner ·

Die enigste belediging is die “demand” vir 15% verhoging, terwyl meeste mense oor die afgelope paar jaar met 4-5% tevrede moes wees.

bren ·

Ek wens ek kon aan n vakbond behoort het, maar my salaris is so karig ek kan dit nie eers bybring nie. Hulle veg vir mense se regte; plekke buit werkers uit; hulle sakke bult vd geld terwyl n hongerloon voor jou neus gewuif word! Solank jy n werkie het moet jy dankbaar wees; en solank eienaars en instansies mense sal uitbuit sal daar mense wees wat maar moet dankbaar wees! Wed jou almal wat so maklik antwoord se salarisse is vêr bo R12000pm

Mag ·

Bren ek stem saam met jou en om in vandag se tye vir R10 000 of R12 000 te werk en te oorleef is feitlik onmoontlik. Mense leef van die hand na die mond. Dit is maklik om te oordeel as jy nie self in die booitjie vaar nie. Sterkte aan jou en té veel ander wat in dieselfde omstandighede moet oorleef!

Ai tog, regtig ·

Ek behoort nie aan n unie nie. Wil ook nie. Ek kry onder 12000 n maand en kan elke maand nog spaar ok. Kry R6000 met 2grade en n diploma. Dog ek sê maar net. Was al werkloos. En weet dis om te vat wat ek kry. Laasjaar is ek vir 5 maande net n deel van my salaris betaal agv admin foute. Nie die deel gekry wat hul my skuld nie. Maar het darem nog werk. Sal eerder min kry en werk hê as baie soek en nie werk hê nie.

koos ·

laat hulle dsn maar elders gaan werk. soos by die anc. daar is hope 55plussers wie sterk, gesond en bevoeg is en net wag vir n geleentheid om daardie werk te doen.

liz ·

Belediging se voet, se dankie vir elke sent, bederf dis wat julle is, en Ja dankie Koos, daar is tonne mense wat wat sal gee om weer tot die Arbeidsmark kan toe tree.

Andre ·

Ek dink die van julle wat beweer dat die mense moet bly wees vir dit wat hulle kry sit die pot mis,gaan werkk n bietjie vir 8 tot 10 ure ondergrond in daai versenginde hitte en die gevaar van n hangwal wat kan meegee op jou dan praat ons weer.
dis baie maklik om te se sus en so,ek het twee mynongelukke oorleef en dank die Vader daarvoor. Dit is baie maklik om in n juweliersware winkel in te stap en jouself te beslaan met goud,gaan sit n oombloik en dan gaan besin jy/julle en dink waar kom daai mooi versierings aan jou vingers en om jou nek vandaan.
En jy wat jouself so mildellik uitspreek oor die ondergrondse werkers,wat se salaris verdien jy,en ek is seker jy is elke aand by jou gesin,die mense is trekarbeiders en het gesinne om voor te sorg in die buiteland,my voorstel is gaan sit en kyk hoe verkrag die buiteland ons land ,sy mense en ons ekonomie,die gelde wat gemaak word is alles oorsese maatskappye en al wat hulle doen is pluk die vrugte en betaal die belasting op die kosbaarhede gemyn in ons land, ek is n groot voorstander van die onteiening van myne in ons land en as dit reg gedoen word kan Suid Afrika een van die mees rykste lande in die wereld word.
Groetnis.

pikkely ·

ja andre. klink of jy presies weer waarvan jy praat. jy het al die movies gekyk. lmmi.

Andre ·

Glo my ek weet presies waarvan ek praat,ek het so 5 jaar as myner gewerk in die Welkom distrik en daarna 7 jaar as n Skofbaas ek dink dit maak my geregtig om my mening lig, n mooi dag vir jou.

Andre ·

Glo my ek weet presies waarvan ek praat,ek het so 5 jaar as myner gewerk in die Welkom distrik en daarna 7 jaar as n Skofbaas ek dink dit maak my geregtig om my mening lig, n mooi dag vir jou.

Pietman ·

Ja R10 000 is min om voor te werk, maar my vrou het met ‘n BCOM graad vir jare lank vir veel minder as dit gewerk. 4 % verhoging klink min maar dis volgens ons inflasiekoers. neem ook in ag dat die goudprys is tans 36% laer as in 2011. Die industrie is onder geweldige druk. Die mynbouhandves weerhou verdere beleggings en goudproduksie neem jaarliks af in SA. Die rede vir so ‘n karige loon is omdat daar ‘n ooraanbod is van ongeskoolde wekers . DWS daar is nie meer ‘n vraag na arbeid wat nie spesifieke vaardighede het nie. Die vakbonde moet onthou ‘n bankkrot myn gaan R 0 betaal.

Gert ·

Dit gaan so goed in Suid -Afrika my maatskappy het my 3 jaar laas n verhoging gegee .Is maar net so n verhoging of ons maak toe .Ek sal van oor tot oor glimlag as ek n 5 persent of minder aanbod kry.

Casper Labuschagne ·

Sou daar wel aan die looneise toegegee word, sal dit meganisasie aanmoedig. Dit is wel moeiliker, maar nie onmoontlik nie, om goudmyne te meganiseer, maar wat steenkoolmyne betref kan meganisasie soos wat elders in die wêreld toegepas word, beteken dat die meeste van die huidige werkers hul poste sal verloor.

Werkers gaan toenemend deur robotte vervang word en hierdie mynwerkers is nou eintlik hard besig om hul eie vervanging te bespoedig.

marous ·

Breek die strukture af , blaas die tonnels toe en verkoop elke stuk toerusting vir skrootmetaal . NUM kan dan self vir hulle sorg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.