Goudstad se wanbetalers ook voor stok gekry

Argieffoto ter illustrasie van Sandton. (Foto: Unsplash)

Die Johannesburgse metroraad neem nou ook drastiese stappe om R38 miljard se agterstallige skuld in te vorder en eerste in hul visier is Sandton – ’n gegoede omgewing sinoniem met geld en weelde.

Die metroraad het Woensdag nege geboue in Sandton besoek in ’n poging om agterstallige skuld in te vorder – onder andere ook Sandton City. Die ikoniese winkelsentrum wat alombekend staan as Afrika se rykste vierkante myl, se munisipale rekening is R158 miljoen in die rooi.

Mpho Phalatse, uitvoerende burgemeester van Johannesburg, het dit duidelik gestel dat wanbetalende sakeondernemings se munisipale dienste summier opgeskort sal word indien hulle versuim om binne 14 dae ná ontvangs van ’n kennisgewing van beëindiging van dienste, op te tree.

Ander persele wat ’n besoek van die metroraad ontvang het, is die Suid-Afrikaanse plaaslikeowerheid (Sala)-pensioenfonds se gebou in Fredmanweg, Sandown. Die gebou se waterrekening is glo R7,4 miljoen agterstallig.

Phalatse het buite die gebou gesê dit is vir die metroraad “pynlik” om die gebou te besoek en om uit te kom om die waterbron van hierdie gebou te sny. “Dit is nie iets wat ons geniet om te doen nie.”

Volgens haar het die metroraad egter geen ander keuse nie aangesien die metro dienste van Rand Water aankoop om water aan sy inwoners te verskaf. “Indien ons nie die geld verhaal nie, werk ons teen ’n verlies en dit beïnvloed dienslewering.”

Phalatse het by Johannesburgse inwoners en ondernemings gepleit om hul munisipale rekening te vereffen.

“Ons maak sterk staat op daardie geld om dienste te lewer. Ons wíl met besighede in die stad saamwerk. Ons wil sien hoe hulle herstel, want hulle sal ons weer help om ekonomies te herstel as die ekonomiese kern van hierdie land.”

Die Johannesburgse metroraad se veldtog, gedoop #BuyaMthetho, volg kort nadat sy buurman, die Tshwane-metroraad, verlede week ’n aggressiewe en ongekende skuldinvorderingsprogram van stapel gestuur het.

Die metro het sodoende reeds sowat R300 miljoen van sy R17 miljard in agterstallige skuld ingevorder.

Die Tshwane metroraad het vandeesweek onder meer die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se hoofkantoor se munisipale dienste opgeskort aangesien die verhuurder agterstallig is. Selfs kerke se krag is Woensdag afgesny. Dit sluit in die CEC-kerk in Hennopspark, Centurion, en die Christian Revival Church (CRC) in die ooste van die stad.

Randall Williams, uitvoerende burgemeester, het gesê die provinsiale regering het R12 miljoen betaal om sy skuld vir die Gautrein in Hatfield te delg en dienste word nou weer daar verskaf. Die regering het R10 miljoen geskuld en is nou R2 miljoen in krediet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Witwax ·

Hoeveel van die wan betalings wat herwin is gaan Eskom
kry en hoeveel gaan kaders toe.

Alta Alleman ·

En wat van al die onwettige verbindings in Soweto ens. ?

Hendrik ·

Dis waar die DA hulle self nou mooi in die voet skiet. Ja, daar moet opgetree word, maar daar is beter maniere om dit te doen. Baie plekke het probeer reelings tref, maar hulle soek volledige betalings onmiddelik. Daar gaan baie besighede toemaak agv hierdie aksies. Dan is daar net meer mense sonder werk wat nie hul eie rekening by die huis kan betaal nie. Bose kringloop. Baie plekke trek baie swaar agv absurde inperkings. Die DA dink hulle gaan die hele land regruk in n maand se tyd, hulle gaan nog die vrugte pluk hiervan. Dit gaan hulle beslis nie stemme wen nie.

Marius ·

Dit is ‘n druppel in die emmer teen soweto se uitstaande skuld. Dalk moet iemand vir hul prentjies teken.

marius ·

Verkoop die eiendomme op geregtelike veilings . Gee twak van afbetaling nie .

Wondermaarnet ·

Hoekom word daar nou eers opgetree? Dit moes in die 1e plek nie agterstallig raak nie.

Leeu ·

Kam MM dit ook net duidelik stel dat Sandton City se rekening inderdaad op datum betaal is, maar dat ‘n dispuut met die JHB Metro ingevolge die “rates en taxes” huidiglik aanhangend is?

Ronel ·

Het Gautrain nie gister of eergister beweer dat hulle niks skuld nie?

Johann ·

Nee dis reg, kry die geldjies van die groot.wanbetalers af….solank julle met dieselfde fanfare by die miljoene “people” uitkom wat ook nie betaal nie en onwettig connect is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.