Goue Saterdag in Tokio vir SA Paralimpiese span

Anruné Weyers het die 400 m vir vroue gewen. (Foto: Team South Africa/Twitter)

Ná ʼn medaljedroogte op die eerste drie dae van vanjaar se Paralimpiese Spele in Tokio, het dit Saterdag op die vierde dag nie net een nie, maar sommer twee goue medaljes op die Suid-Afrikaanse span neergereën.

In die 400 m vir vroue (T47) het die wêreldrekordhouer Anruné Weyers die medalje-oes ingelui toe sy die afstand in 56,05 sekondes gewen het.

Slegs ʼn paar minute later het die oud-Affie Ntando Mahlangu, die lemnaelloper van Pretoria, nie net die verspring vir mans (T63) gewen nie, maar in die proses ook die wêreldrekord (T61) met ʼn allemintige laaste sprong van 7,17 m laat spat.

Mahlangu was in trane ná sy skitterprestasie en dit moes ongetwyfeld die duisende toeskouers tuis met ʼn knop in die keel gelaat het.

Ntando Mahlangu het die verspring vir mans gewen en die wêreldrekord laat spat. (Foto: Team South Africa/Twitter)

Puseletso Mabote (5,18 m) was negende.

Saterdagoggend het nie goed begin nie toe boogskutter Philip Coates-Palgrave (130 punte) deur Alisana Manshaezadeh van Iran (143) in die tweede ronde uitgeskakel is.

In die swembad kon Hendrik van der Merwe (SB5) nie vir die eindstryd van die 100-borsslag kwalifiseer nie toe hy met 1:46.22 geëindig het.

Kat Swanepoel was vierde in die 150-wisselslag (SA4) met 3:21.19, maar haar tyd was die 11de vinnigste en kon sy nie vir die eindstryd kwalifiseer nie.

In rolstoeltennis het Suid-Afrika se Kgothatso Montjane (sesde gekeur) tot die tweede ronde deurgedring toe sy Saki Takamuro van Japan met 6-2 6-1 uitgeskakel het.

Leon Els is vroeër in die mansafdeling in die tweede ronde deur Brittanje se Gordon Reid met 6-2 6-0 uitgeskakel, terwyl Mariska Venter in die eerste ronde deur Momoka Othani van Japan met 6-1 6-2 geklop is.

Vroeër op die atletiekbaan het Dyan Buis vyfde in die 100 m (T38) met 11,75 sekondes geëindig, maar is sy droom om tot die eindstryd deur te dring beëindig.

* Met sy twee goue medaljes het Suid-Afrika van nêrens tot die 21ste posisie op die medaljetabel opgeskuif.

Ntando Mahlangu vier Saterdag sy wêreldrekord in Tokio . (Foto: Thomas LOVELOCK / OIS/IOC / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Joe Olivier ·

Baie geluk aan al die medaljewenners. Ntando is nie oud-affie nie maar huidige Affie. Hy is in matriek die jaar.

Kaptein ·

Baie geluk aan die wenners. Julle maak ons trots.
Baie geluk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.