‘Gouws bedwelm voor verkragting’ – ooggetuie

Ondersteuners betoog Dinsdag buite die hof in Somerset-Oos. (Foto: Verskaf)

Beeldmateriaal dui daarop dat Celeste Gouws se vermeende verkragter op die aand van haar verkragting in 2017 iets in haar drankie gegooi het wat haar lomerig gemaak het.

Die getuienis van ’n jarelange vriend van Gouws staaf dit.

Die saak teen Andile Memese is Dinsdagoggend ná verskeie uitstelle in die streekshof in Somerset-Oos voortgesit. Verskeie inwoners van die dorp het ter ondersteuning van Gouws buite die hof teen geslagsgebaseerde geweld opgeruk.

Gavin Donnolly het in die getuiebank vertel dat sy jarelange vriendin hom op die aand van die beweerde misdaad op WhatsApp gekontak het omdat sy ongemaklik was met Memese in haar huis.

Gouws, ’n private vervolger, is in September 2017 in haar huis verkrag nadat sy na bewering deur Memese bedwelm is. Die private vervolging, onder leiding van adv. Gerrie Nel, kom nadat die direkteur van openbare vervolgings (DOV) in die Oos-Kaap geweier het om vervolging teen Memese in te stel.

Volgens Donnolly het Memese die aand van die verkragting versoek om in Gouws se huis te bad. Memese het in dié stadium saam met sy vriendin in ’n woonstel op die erf tuisgegaan. Die woonstel het geen bad gehad nie.

Celeste Gouws en haar vriende. Van links is Desiré Jordaan, Lynette van Zyl, Sandy Richie, Gavin Donnolly (agter), Celeste Gouws, Dafré Troskie en Katja Offerman. (Foto: Verskaf)

Beeldmateriaal is vroeër vandag aan die hof gewys waarin daar gesien kan word hoe Memese by Donnolly se aankoms by Celeste se huis slegs in sy handdoek in die huis rondloop.

Donnolly het getuig dat Memese oomblikke ná sy aankoms by hom en Gouws in die kombuis aangesluit het en dat hulle drie wyn gedrink het.

Daar kan in die beeldmateriaal gesien word dat Memese in ’n stadium glase met Gouws ruil. Die beeldmateriaal wys dan hoe Gouws binne minute lomerig raak en selfs soms aan die slaap raak terwyl sy by die tafel sit. Gouws het ook geslinger wanneer sy geloop het – Donnolly se getuienis het dít bevestig.

Gouws het later geval en Memese en Donnolly het haar in die bed gaan sit.

Donnolly het toe daarop aangedring dat Memese die huis saam met hom verlaat en het die huis gesluit. Volgens Donnolly se getuienis het hy en Memese weggestap waarna Memese ’n paar strate van Gouws se huis af, gesê het dat hy teruggaan na sy woonstel, omdat sy vriendin laat weet het dat sy op pad terug huis toe is. Gouws het Donnolly die volgende oggend ingelig dat sy verkrag is en hy het haar gehelp om ’n saak by die polisie aanhangig te maak.

Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die eenheid is bly dat die saak vandag uiteindelik kon voortgaan ná verskeie uitstelle van die verdediging.

“Ons is ook verheug oor die ondersteuning wat ons vandag buite die hof gekry het van ’n gemeenskap wat genoeg gehad het van geslagsgebaseerde geweld en die staat se onvermoë om vroue en kinders te beskerm. Dit onderstreep die belang van ons betrokkenheid by sulke sake waar slagoffers van die sogenaamde pandemie van geslagsgebaseerde geweld deur die staat versaak word. Dit verkwik ons in ons strewe na geregtigheid, asook om ’n stem vir die stemlose slagoffers te wees.”

Die saak gaan môre voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Weereens ‘n bewys dat die NVG “sekere midadigers” in die land beskerm. Dis al die hoeveelste saak waar Privaat instansies die NVG moet aanvat voordat die “veranwoordelike persoon” dan skielik vervolg word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.