GPF-lid sterf in skietery met rowers: ‘Hy is ʼn ware held’

Johnny Grobler. Foto: Facebook

Johnny Grobler. Foto: Facebook

Johnny Grobler, die gemeenskapspolisiëringsforumlid van Nigel wat Saterdag tydens ʼn skietery met vermeende rowers doodgeskiet is, is op sosiale media as held beskryf wat met sy lewe betaal het om sy gemeenskap veilig te hou.

Alwyn van den Heever, die GPF se patrolliehoof, het aan Maroela Media gesê ʼn GPF-lid wat Saterdagaand met patrollie besig was, het gesien hoe vier mans naby die plaaslike Shoprite-sentrum met vermoedelik gesteelde goedere weghardloop. Die GPF-lid het bystand oor die radio ontbied en Grobler was een van die GPF-lede wat gereageer het. Van den Heever en nog ʼn GPF-lid, Frans Claassen, het hulle ook na die toneel gehaas.

Van den Heever verduidelik dat die vermeende rowers by ʼn winkelsentrum ingehardloop het waar hulle in die donker gangetjies tussen die geboue geskuil het. Die GPF-lede en polisiebeamptes het agter die verdagtes aan in die gangetjies beweeg.

“Dit was so donker, jy kon glad nie daar binne sien waar [die verdagtes] is nie. Die polisiebeampte wat voor ons was, het skielik geskree dat een van die [verdagtes] in ʼn boom sit en toe Johnny nog die flitslig wou optel om te kyk, het alle hel losgebreek. Ek kon so half agter ʼn boom skuil en Johnny het reg langs my gestaan toe die skote begin klap. Dit is moeilik om te sê hoeveel skote afgevuur is, maar die koeëls het neergereën.”

Volgens Van den Heever is Grobler in die maag geskiet en het hulle albei plat op die grond gelê totdat die skote ophou klap het. “Ek haal my hoed vir Frans af, want hy het toe dit stil geraak het met sy voertuig so half tussen Johnny en waar die verdagtes geskuil het, ingery en hom in die voertuig gelaai om met hom hospitaal toe te jaag. Johnny het by die hospitaal gesterf.”

Maroela Media het vroeër berig dat ao. Tommie Tomlinson, woordvoerder van die polisie, gesê het ʼn polisiebeampte is ook in die been geskiet en een van die vermeende rowers is doodgeskiet. Een verdagte is in hegtenis geneem en die ander twee verdagtes het daarin geslaag om te vlug.

Volgens Van den Heever was Grobler in sy 50’s, getroud en die pa van twee dogters. “Hoe meer ek dink aan wat gebeur het, hoe kwater raak ek. Die regering kry nie die misdaad onder beheer nie en nou betrek hulle die gemeenskap in ʼn poging om misdaad te bekamp,” het hy gesê.

“Die regering erken dit is nie die publiek se werk om polisie te speel nie en sê die gemeenskap moet net help deur hulle oë en ore op die grond te wees en inligting te deel. Teoreties is dit wonderlik, maar in die praktyk werk dit nie so nie. Dit gebeur so vinnig dat jy in die middel van so ʼn skietery beland en dan word ‘die oë en ore’ deel van die lewensbedreigende situasie. Maar wat anders kan jy doen? As die GPF nie daar is om jou gemeenskap veilig te hou nie, sal die misdaad net nog erger word. Ons moet noodgedwonge deel wees van die stryd teen misdaad.”

Van den Heever het gesê talle inwoners het Sondag ʼn kranslegging en kort seremonie by Grobler se huis bygewoon om aan hom hulde te bring. “Die ondersteuning wat uit die gemeenskap gekom het, was ongelooflik. Daar is so baie mense wat aangebied het om te help met begrafniskoste of om die familie te ondersteun. Ons het boodskappe van oral ontvang. Dit was baie goed om te sien.”

Santie Carelse het op Facebook geskryf Grobler het sy lewe gegee om sy medemens te beskerm: “[Hy was] ʼn ware held. Nie een wat net kou en kerm op Facebook [en] oor alles kla nie. Hy het gedoen!” Jenny Coetzer Botha het ook haar medelye teenoor Grobler se familie op Facebook uitgespreek: “Hy het [sy werk as GPF-lid] vrywillig gedoen. Hy het nie een oomblik getwyfel om te gaan help toe daar gevaar was nie. Hy is ʼn hero.”

Amptelike begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Charles ·

Die skelms het te veel mense regte vat dit weg hulle regte moet wegval as hulle wil steel moor en rape

RIV ·

Dis omdat die gemeenskap die polisie se werk moet doen dat hulle doodgeskiet word. Die polisie KAN NIE EN WIL NIE meer hulle werk doen nie daarom moes die gemeenskap inspring en help. Polisiemanne loop egter met gesponsorde koeelvaste baadjies rond in gevaarlike situasies, hierdie arme mense is teikens oral waar hulle probeer help. RIV — baie jammer aan die naasbestaandes.

Maria ·

Hel weet, alewig die slegte SAPS… as die polisie sleg is daar waar jy woon, beteken dit nie die hele mag is sleg nie! Duidelik het jy geen noue kontak met iemand in die SAPD nie, dan sou jy geweet het hoe lang ure hulle moet werk en hoeveel politiek daar in die binnekringe is, maar nee 70% sleg en dan is die hele spul sleg. Word wakker, dit gaan presies so in die privaatsektor ook.

pieter ·

Wat sal die regering worry hulle moor die wittes uit. Dis wat die ANC en EFF wil he. Sterkte aan die familie.Dit laat n mens se bloed sommer kook.

Schalk van der Merwe ·

En die polisie bestuur skitter in hulle afwesigheid ….

Arno ·

Die polisie moet meer betrokke raak in die veld die gemeenskap mag nie reg in eie hande neem nie,sterkte vir die familie

Dee ·

En as die publiek sou waag om een van die kriminele raak of dood te skiet, word hulle soos kriminele behandel. Ons regstelsel beskerm vandag die kriminele, nie die onskuldige partye nie. Sterkte aan die familie.

Della ·

Baie hartseer. Sterkte aan jou vrou en kinders vir die swaar pad wat voorle. Jou (en talle ander mense) se onbaatsugtige diens aan ons gemeenskappe, om ons veilig te hou, word opreg waardeer. Net jammer jy moes met jou lewe boet…. Ek salueer jou….

Deďuiwelin ·

Ek is kwaad en baie hartseer. Daardie man het waarskynlik in sy weermagdae ook vir sy land geveg om nou deur misdaadigers dood geskiet te word. DIT IS NIE MEER AANVAARBAAR NIE…REGERING VAN DIE DAG NEEM ASB VERANTWOORDELIKHEID VIR LANDSBURGERS TE VEILIGHEID.

Carol ·

Vlieg hoog maat. Rus in vrede. Sterkte aan sy familie. Hy sal as n held onthou word.

Louis ·

Ek stem so saam met die afsluiting van die berig.
Daar word verwag van CPF lede om polisie take te verrig en die CPF doen dit maar omdat ons DESPIRAAT is om misdaad in ons omgewing te beveg.
Hier by ons wil hulle he dat ons saam met polisie opeasies doen. Ons moet bystand lewer by ongelukstonele. Van die lede doen dit maaruit desperaatheid want indien jy wag vir polisie bystand wag jy baie kere vir ‘n ewegheid of daar word reguit gese dat daar nie ‘n voertuig beskikbaar is nie.
Die publiek is DESPERAAT
DIE POLISIE KAN ONS NIE MEER BESKERM NIE.
MISDAAD HET HAND UITGERUK.
ONS SIT MET ‘N REGERING WAT SIMPATIE HET MET MISDADIGERS.
‘n Volgende probleem hier is dat hierdie arm man se polisse en vesekering miskien kan weier om ui te betaal omrede dit as onverklaarde risiko kan beskou word.
Wat gaan ons doen.
KORT IEMAND SOOD TRUMP OM OORLOG TE VERKLAAR TEEN MISDAAD WAT DIE LEWE VAN DIE ONSKULDIGE MENSE NEEM

Heleen ·

Die Sinoville polisie en GPF vat hande om die gemeenskap hier te dien. Dis hoe dit gedoen moet word. Dankie aan julle wat bereid is om ons te beveilig.

Anoniem ·

Ek stem RIV. Ek ken persoonlik n polisiebeampte. In een skof is sy net 4 of 5 ure by die werk. Die res van die dag ry sy rond met persoonlike dinge. En ten minste 3 tot 4 dae n maand word daar verlof ingesit. Dis hartseer om te sien…

Elize ·

Van hierdie GPF lede het by my swaer se huis, nadat hy selfmoord gepleeg het, die polisie heeltemal oorheers. Daar is in sy persoonlike besittings gekrap, en ‘n sekere GPF lid het selfs foto’s van sy besittings geneem, terwyl die polisie reeds hulle werk binne die huis afgehandel het. Hierdie persoon was selfs die heeltyd in die kamer waar die lyk gele het. Hulle dink hulle is cowboys. Neem alles oor, en die polisie moet terugstaan. Ek het op video wat ek hierbo genoem het.

Piet Pille ·

Elize het julle ‘n saak ge-open? Met al jou bewyse sal die genoemde persoon mos vervolg kan word. Weet jy of het jy probeer uitvind hoekom hy fotos geneem het maar niks gevat het nie?
Hy besit nou bewys van die goedere wat op die toneel was, indien van dit later as vermis aangegge word. Het die polisie sulke stappe geneem? Wondermaar net.

theo ·

22 persone is al vermoor deur rowers/moordenaars wat onwettig, mense se besittings wil afneem. ons is nou neers aan die einde van die eerste maand. Die anc het verskriklike skade aan die land verig.

Willem ·

Elize ek hoop en bid dat crime nie by jou deur gaan aanklop en jou enigste redding miskien die einste GPF lede wat jy so afkraak sal wees nie. Jy beter maar liewer stilbly. Geen SAPS lid sal n toeneel oorgee aan GPF lede nie en klaar. Tipies jy!!

Peet J ·

Gaan die regering nou Johnny se vrou en kinders van ‘n maandelikse leefbare pensioen voorsien ?
Indien die GPF lede ingesweer was by die Mag bv. soos ‘n reservis behoort hulle ook met Polisie toerusting uitgereik te word
maar indien nie, dan tree hulle ook maar net in ‘n burgerlike hoedanigheid op en beskik nie eers oor die magte van ‘n opgeleide geregistreerde
sekuriteitswag nie.
Die GPF lede moet deel uitmaak van AfriForum wat ‘n samewerkingsooreenkoms onderteken het as ‘n amptelike teenmisdaadvennoot met die
SAPD Die regering voer aan dat GPF lede nie polisieman moet speel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.