Gr. 12-eindeksamenrooster dalk aangepas

(Argieffoto: ANA)

Die rooster van die matriekeindeksamen, wat op 1 November afskop, sal na verwagting aangepas word aangesien dit op dieselfde dag as die munisipale verkiesing val.

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement van onderwys, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dié aanpassings sal binnekort aangekondig word.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die feit dat matrikulante op dieselfde dag as die verkiesing eksamen skryf, nie noodwendig ʼn negatiewe impak om die stemmery behoort te hê nie.

“Die eksamens word in die oggend of middag geskryf en is net drie uur lank. Dit laat meer as genoeg tyd vir leerders om te gaan stem.”

Groenewald meen dit kan voordelig wees aangesien dit op ʼn Maandag is, en daar mense is wat dit as ’n langnaweek wou gebruik en weggaan. “Vir ʼn munisipale verkiesing kan jy net van jou wyk af stem en nie van iewers anders af nie. As die matriekeksamen die Maandag begin, sal dit matrikulante se ouers noop om nie die langnaweek weg te gaan nie, wat voordelig vir die verkiesing sal wees.”

Die DA meen egter die matriekeksamenrooster moet hersien word.

Volgens Baxolile “Bax” Nodada, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, is daar verskeie uitdagings met dié datum vir matriekleerders, eksamensentrums, sowel as die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).

“Die eerste bekommernis is dat sommige matriekleerlinge, wat stemgeregtig is, dit moontlik nie kan doen nie omdat hulle eksamen moet skryf. Tweedens, sal die matriekeksamen uitdagings vir die OVK inhou omdat skoolsale gereeld as kiesstasies op verkiesingsdag gebruik word. En laastens, aangesien die verkiesingsdag as ’n openbare vakansiedag verklaar word, veroorsaak dit verdere probleme vir onderwysers en toesighouers om hul demokratiese stemreg uit te oefen,” het Nodada gesê.

“Die DA moedig dus die departement van onderwys sterk aan om die matriekeksamenrooster te wysig om matrikulante en die verkiesing te akkommodeer. Dit sal verseker dat die eksamens sowel as die stemproses seepglad verloop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SjN ·

Wat het die eksamen met die stemmery uit te waai, wil seker weer dit as vakansiedag verklaar.

Elmarie ·

Stemdag word altyd ‘n vakansiedag om meer mense die kans te gee om te gaan stem. Baie skoolsale word gebruik as stem lokale wat ‘n botsing van belange kan oplewer.

Misky ·

SjN, deesdae is baie matrieks al mondig en hardebaard manne. Baie matriek meisies het al kleuters en moet kinders by nasorg gaan afgee (tong in die kies kommentaar – jy weet)

Johann ·

En die kopdoek tannie minister het nie geweet van die eksamen nie?

Madelein ·

Miskien moes ou Dlamini-Zuma daaraan gedink het toe sy die datum bekend gestel het.

Cecilia ·

Hulle kommer nou oor matrieks en onderwysers wat 4ure by d skool moet wees op stemdag.
Wat vd 1000de werkers in Retail wat werk? Hulle maak plan om nog te gaan stem voor of na werk. Matrieks en onderwysers d selfde. Kan voor of na xsamen gaan stem.
Hul soek nou weer rede om rond te le

Buck ·

Hulle het respek vir niemand en niks. As hulle self matriek gehad het, sou hulle verstaan het om nie met die kinders se program en beplanning in te meng nie

Moedeloos ·

Hou die datum by 27 Oktober soos dit oorspronklik was. Hoekom MOET dit verander word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.