Gr. 8-leerder sterf toe bus omslaan

Gideon Miller. Foto: Facebook

ʼn Gr. 8-leerder van HTS Middelburg is Sondagmiddag dood toe ʼn bus op die R555 naby Laersdrif op die grens van Limpopo en Mpumalanga omgeslaan het.

Hendrik Swanepoel, adjunkhoof van HTS Middelburg, het Gideon Miller se dood aan Maroela Media bevestig.

Volgens Swanepoel weet hy nie presies hoe die ongeluk gebeur het en of Gideon onder die omgeslaande bus beland het soos plaaslike media berig nie. “Gideon was die naweek in Steelpoort en was op pad terug na Middelburg waar hy in die koshuis is,” sê hy.

“Dit was nie ʼn skoolbus nie. Dit is ʼn bus wat deur die myn gebruik word om kinders wat op kosskool is van Steelpoort af Middelburg toe te neem. Daar was dus ʼn klompie van ons leerders in die bus, maar ook leerders van ander skole.”

Die ongelukstoneel. Foto: Facebook via Specialized Investigation PSTT

Swanepoel sê van die leerders is in die ongeluk beseer en sommige van hulle is na ‘n hospitaal geneem. Hy kon egter nie bevestig hoeveel beseerdes daar is of hoeveel van die beseerdes HTS Middelburg-leerders is nie.

Volgens Swanepoel is daar berading beskikbaar gestel aan Gideon se vriende en enige ander leerders wat dit nodig het. Hy kon nie teen Maandagoggend bevestig of ʼn gedenkdiens vir Gideon by die skool gehou sal word nie. “Ons beleid by die skool is om te wag vir die ouers om hulle wense aan ons bekend te maak en dan aan hul versoek te voldoen. Gideon se ouers was vanoggend by ons skoolhoof om met hom te gesels,” sê hy.

Die provinsiale polisiewoordvoerder in Mpumalanga het Maroela Media na die SAPD in Limpopo verwys aangesien die ongeluk aan Limpopo se kant van die grens gebeur het. Die provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo het egter navrae na die departement van vervoer verwys.

Matome Moremi, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, sê die bestuurder het beheer oor die bus verloor en die voertuig het omgeslaan. Daar was nie ʼn ander voertuig in die ongeluk betrokke nie. “’n 13-jarige seun is dood en 13 ander mense het geringe beserings opgedoen,” sê Moremi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Se Net ·

Ek kan nie verstaan hoekom busse nie met veiligheidsgordels toegerus is nie.

Antwoord net ·

Daar is veiligheidsgordels in busse ek was self n bus skolier. Dis n kwessie van dit word nie verplig om hulle aan te sit nie en hulle kan loop en maak wat hulle wil in die bus.

Gesiggie ·

My Gebede gaan uit na Gideon se ouers, sy vriende en Familie…. my Innige meegevoel, mag God jul dra deur die tyd van Hartseer…. so jammer vir jul verlies.

Philip ·

Ai toggie. Soveel bus en taxi ongelukke is waar die bestuurder beheer verloor. Innige simpatie met ouers en familie.

Zettie ·

Daar is nie genoeg woord wat ek kan gebruik om my medelye aan die ouers van die seun oor te dra nie. Dit is so onnodig dat so ‘n jong kind sy lewe op so manier moes verloor………alle simpatie aan die geliefdes van die kind. My hart bloei vir julle.

Se maar net ·

En geen een van die woordvoerders betuig hulle meegevoel soos met ander ongelukke nie. Ai sterkte en ons innige meegevoel aan die familie en die hele skool.

Stuiwer ·

Ek dink aan die ouers. My 13-jarige seun het juis gister van ‘n kamp teruggekom (per bus) en ek is so dankbaar dat hy nou veilig by die huis is. Dankie aan God.

Susan de la Port ·

Geen mens kan op daardie pad meer ry nie!
So hartseer . Sterkte vir die familie

Lizl ·

Gaan daar nie `n beampte van die onderwys departement of minister die skool besoek nie?

Belastingbetaler ·

Waarom betaal ons belasting aan n rassistiese regering wat nie n flenter omgee oor blanke kinders nie?

Eerlik ·

Hoekom moet hulle die skool besoek? dit se duidelik dit is nie n skool bus nie dit is n myn bus. so die myn het die drywer aangestel om die kinders te vervoer dus moet hulle die myn besoek nie die skool nie

Marius ·

Ek dink altyd daaraan, oud, jonk, arm, ryk, wit of swart, ons gaan almal na ‘n graf, hoekom maak ons dan verskil met ras en twak. Ons word vir mekaar geleen. Jy het net soveel tyd op aarde gegun. Sterkte aan almal wat naby daardie seun was. Liefde uit Noord Wes Provinsie

O ·

As jy weet hoe die pad daar lyk wonder jy dat daar nie meer ongelukke is. Die hoeveelheid an slaggaate is verskriklik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.