Graad 8-leerder van spogskool steeds spoorloos by oriënteringskamp

Enock Mpianzi (13), ‘n leerder aan die Parktown Boys’ High School het by ‘n oriënteringskamp verdwyn.

Die soektog na ʼn graad 8-leerder van die Parktown Boys’ High School for Boys is vanoggend hervat nadat dit in die vroeë oggendure tydelik afgelas is.

Enock Mpianzi (13), ʼn leerder aan dié spogskool in Johannesburg, het tydens ʼn oriënteringskamp by ʼn lodge, naby Brits in Noordwes, verdwyn.

Hy het oënskynlik iewers deur die loop van Woensdag, nadat die groep by die kamp aangekom het, en Donderdagoggend, toe daar die eerste keer besef is hy word vermis, weggeraak.

Die kampbestuur het volgens die skool daarna “noodmaatreëls” in werking gestel om na Enock te soek.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het gesê die polisie is om Donderdag omstreeks 15:00 na die kamp ontbied.

‘n Grootskaalse soektog is na Enock van stapel gestuur. Teen Vrydagoggend was hy nog spoorloos. (Foto: Panyaza Lesufi/Twitter)

ʼn Soek-en-reddingspan soek sedertdien onophoudelik na Enock en het reeds ʼn gedeelte van ʼn rivier, waar ʼn wateraktiwiteit ná die groep se aankoms gehou is, gefynkam. Polisieduikers, die honde-eenheid en later vandag waarskynlik ook die polisie se berede eenheid, deursoek die gebied.

Myburgh het gesê die soektog word bemoeilik omdat die Krokodilrivier, waar die seun laaste gesien is, in dié stadium sterk vloei. Weens die afgelope ruk se reën is sluise by die Roodekopjesdam vroeër oopgemaak. Dié water loop in die Krokodilrivier in.

Enock se ouers, asook die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, is op die kampterrein.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, is ook op die toneel. (Foto: Panyaza Lesufi/Twitter)

Lesufi het gesê daar is in oorleg met die skool besluit om die kamp op te skort. Hulle sou vanoggend ná ontbyt na Johannesburg terugkeer en word omstreeks 10:30 by die skool verwag. Departementele beraders sal by die skool wees om diegene wat hulp benodig, by te staan.

Alle aktiwiteite is intussen opgeskort.

Enock se verdwyning is nog ʼn slag vir dié spogseunskool. Collen Rex, ʼn voormalige waterpolo-afrigter by die skool, is sowat twee jaar gelede tot 23 jaar tronkstraf gevonnis vir 144 aanklagte van seksuele aanranding en drie jaar tronkstraf vir 12 aanklagte van aanranding.

Rex het destyds in die hof aangevoer hy was self die slagoffer van mishandeling toe hy in graad 8 by Parktown Boys’ High School begin het en dat hy tydens ontgroening trauma opgedoen het.

Enigiemand met inligting oor Enock se verdwyning word gevra om die ondersoekbeampte, konst. Netshiunda Assen, by 079 607 6844 of die Brits-polisiestasie by 012 252 8520 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Aldi ·

Dit maak Vir my glad Nie sin nie. Op n Ander betroubare FB groep se hulle die bootjies wat die kinders gebou het een van hulle het omgetiep in die water as so iets gebeur is dit mos die toesighouers se verantwoordelikheid om seker te maak dat die kinders almal okay is en daar is Na die insedent maar om eers die volgende ogend agter te Kom hy is weg dis baie nalatig.

Annelize ·

Ek se nog steeds, iets is nie reg hier nie. Hoe op dees aarde kom hulle eers die VOLGENDE dag agter ‘n kind is kort? Die wat wil klippe gooi na my, moet maar begin gooi, maar volgens my het die toesighouers nalatig en hulle plig gruwelik gefaal. Ja, jy kan nie 24/7 jou oe op almal he nie, maar daarom moet daar genoegsame toesighouers teenwoordig wees, en dis nog steeds vir my onaanvaarbaar dat hulle eers die volgende dag agtergekom het ‘n kind is kort.

Aan die ander kant, hoop ek die kind het weggeloop vanaf die kamp, dalk gewag tot almal besig was, en so weggeglip om een of ander rede. Ek hoop dat hy ongedeerd gevind word, ek kan my nie die ouers se angs indink nie.

Linda ·

Ek het gelees Enoch se liggaam is gevind. Dis baie hartseer.

C ·

Moet daar nie “rowcall” gedoen word in die aande of middae as hulle van die aktiwiteite af kom nie? Iets maak nie sin nie, maar ek bid hulle vind die kind veilig en ongedeerd.

bokka ·

“rowcall” sou dalk gewerk het terwyl hulle op die rivier geroei het.

Ongelukkig. ·

Orientasie “ontgroening” by skole is ‘n onding.

Moeks ·

Hierdie is een van die redes hoekom geen persoon sonder ‘n reddingsbaadjie op rivier behoort te wees nie. Sterkte aan sy ouers wat hierdeur moet gaan. Hoop hy word ongedeerd gevind.

Lezel ·

Wat het die vorige probleem te doen met die feit van die kind se vermissing?

Patch ·

Toe ek op skool was en daar was uitstappies, het onderwysers ‘n “buddy, buddy” sisteem gehad. Jy en ‘n maat is altyd saam en heeltyd bewus waar die ander een is en saam moet julle by die bus aanmeld voor vertrek. So as jou maat nie by jou is nie of jy hom/haar nie kry nie moet dit dadelik by die betrokke onderwysers aangemeld word. Die onderwysers het ook gereeld “raw call” gehou. Onderwysers se oë kan nie oral sien nie en dit het gehelp met hulle taak ook.

Meisiemens ·

Sy liggaam is gevind. Dis ongelooflik hartseer. Ek dink so aan my eie 2 meisiekinders wat so graag altyd aan alles wil deelneem. Wens mens kan hulle net heeltyd veilig hou.

Rus in vrede….

blou oog ·

Goeiedag ,
Blykbaar is die seun se liggaam gevind.
Sterkte aan die familie en hul vriende

Leana Labuschagne ·

Skool en die fasiliteit gaan groot moeilikheid kry veral nou dat sy lyk gevind is en ja waar is die reddingsbaadjies of hoe nou?…

Deon ·

Spogskool se dinges! Daar moes eerder op die skool perseel gebly het om die kinders te leer ken en nie weg waar altyd goed uitbroei nie!
Kinders word nie behoorlik opgepas nie en as daar iets gebeur dan is dit ‘n frats! G’n persoon kan na ‘n klomp kinders gelyktydig kyk nie!

Annelize ·

Wat my die harnas injaag, is hierdie alewige “Vrywarings vorms” wat mens moet teken.

Het al menigde male, ‘n helse dik swart streep deur ‘n vrywaringsvorm getrek, en dit net so teruggestuur skool toe, met die boodskap: “As die skool my kind ELDERS heen neem op ‘n uitstappie, weg van die skoolterrein, is die SKOOL VERANTWOORDELIK vir my kind, ek vrywaar ek die skool van net mooi NIKS”.

Nodeloos om te se, my kinders, waarvan die oudste een nou al uit die skool uit is, het menigde skool uitstappies misgeloop. Die skole is bitter vinnig om hulle skouers op te trek as daar skade is, maar as hulle skade ly, dan is die 7soorte hel los.

Hierdie kind se liggaam is nou gevind, wie neem verantwoordelikheid, want hy moes ongetwyfeld onder iemand se toesig gewees het? My vraag bly nog steeds, hoekom het soveel tyd verloop voor iemand besef het daar is ‘n kind kort? Growwe nalatigheid, punt.

Chomp ·

Die mense wat so graag die Ingelse woord vir register neem wil gebruik, dis eintlik “roll call”.

Zettie ·

Arme kind……..baie sterkte aan die familie en geliefdes……..baie drome wat vir dié kind oopgelê het, is nou aan skerwe…….. R I V seun

Theresa ·

Al hierdie dinge (beskerming van leerders) het vir ons gegeld to ons in Graad 8 was. Vir hulle beteken dit niks. Nou wil almal skielik regop spring.

Jo ·

Paar van hulle was op n raft, het afgeval, maar NIEMAND agtergekom hy is nog in die water nie, kyk mos dat almal veilig terug is. Jammer seuna, wat n hartseer episode. Sterkte vir die mense wat vir hom lief was. So sad

Se net ·

Ja. Ai. Mens soek mos jou spanmaat en weet as hy nie daar is nie. So gehoop hulle kry hom lewend. Baie hartseer.

JJ ·

Hierdie kampe kos ook ‘n helse klomp geld, apart van al die ander buitensporige onkostes van skoolfooie, skoolklere, skoolboeke ens wat ouers moet betaal. Hoekom nie net iets by die skool hou op ‘n Saterdag en Sondag nie? Hulle was duidelik nalatig – veral as kinders in die water is moet al die oppassers daar wees om hulle dop te hou. Sterkte aan die familie. RIV Seuna

se net ·

Nou net na die MEC se media verklaaring geluister en dit is vreeslik hoe rasisties van die aanmerkings was. Genade. Daar is so baie mense wat probeer om n beter Suid Afrika vir almal te maak deur om goeie verhoudings te bou en dan kry mense sulke mense. Ai. My hart is vreeslik seer vir die ouers, die skool en vriende. Natuurlik kon dit verhoed gewees et maar gee mense ook tyd om sin te maak van alles. Intussen bid ons vir die familie. En dankie aan die MEC wat n wonderlike werk gedoen het met sy media verklaring.

My mening ·

As daar so baie kinders is, moet daar baie gereeld seker gemaak word al die kinders is daar, veral na aktiwiteite. Dit is ongelukkig so dat daar nie altyd behoorlik toesig gehou word op sulke kampe nie. Die onderwysers en kampleiers sit baie keer êrens en ontspan terwyl die kinders hulself moet besig hou. Mens dink altyd die spogskole is beter en sorg beter vir die kinders, maar dit is beslis nie die geval nie.

Besorgde Ma ·

Hierdie kampe..veldskole…etc is om die minste te se lewensgevaarlik..my gr 7 seun was op n skoolkamp myle vd ander kinders in n karavaan laat slaap omdat die juffrou en meneer wat dit gereel ht liewer hulle gesinne in die huisies geakkomodeer het…terwyl ouers n vrywaringsbriefie teken wat duidelik aandui dat di kinders saam in n gebou gn bly…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.