Graafmoord: ‘Hy was ʼn liefdevolle mens’

Johan Coetzee. Foto: Verskaf

Johan Coetzee. Foto: Verskaf

Johan Coetzee (62), die boer van Bon Accord, noord van Pretoria, wat Woensdagoggend vermoedelik met ʼn graaf vermoor is, was ʼn liefdevolle mens wat ʼn hegte band met sy drie dogters en tien kleinkinders gehad het.

Riëtte Atkins, een van Coetzee se dogters, het aan Maroela Media gesê haar pa was ʼn trotse boer wat puntenerig was met sy boerdery. “Hy het altyd gesê jy doen ʼn ding reg of jy doen dit glad nie,” het sy gesê. Coetzee het met duiwe, skape, varke en eksotiese apies geboer. Hy was bekend in die gemeenskap vir sy spog-skouduiwe.

Atkins het Woensdag omstreeks 13:00 op haar pa se liggaam in die varkhok afgekom. Hy is vermoedelik met ʼn graaf vermoor, hoewel ʼn nadoodse ondersoek nog die presiese oorsaak van sy dood moet bepaal. Sy het gesê haar pa se gesig was heeltemal vergruis.

Coetzee se kluis was met ʼn slypmasjien oopgesny en ʼn werker se paspoort en ʼn vuurwapen word vermis. Sy twee selfone is ook gesteel. Daar is nie geld uit die kluis gesteel soos vroeër berig is nie.

Volgens Atkins het sy haar pa Woensdagoggend herhaaldelik probeer bel, maar albei sy selfone was af. “Ons het eers gedink dalk kom hy nie agter sy fone is af nie en later het ons vermoed sy selfone se batterye was dalk pap weens beurtkrag. Teen 12:00 het ek besluit ek gaan maar deurry en kyk wat aangaan.”

Volgens Atkins moes die moordenaar haar pa se roetine geken het, omdat hy geweet het haar pa het elke oggend sy twee kwaai honde gaan toemaak wat deur die nag die erf gepatrolleer het. Hy het daarna waarskynlik soos gewoonlik al die diere kos gegee en is in die varkhok oorval. Van die bure het gesê hulle het omstreeks 06:00 ʼn slypmasjien op die plaas gehoor.

Lt.kol. Katlego Mokgale, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê ʼn saak van moord word ondersoek. Geen verdagtes is al in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Riaan ·

Oom Johan het baie jare vir my pa gewerk en hy was ‘n GOEIE mens!!

Ansie ·

Die moord en doodslag word by die dag erger! Hoekom die man so wreed doodslaan en dit met ‘n graaf.

Johann ·

Waarom was die wapen in die kluis. Wanneer gaan julle tog leer. Dit is baie jammer oor nog ‘n boer sterfte. Sterkte aan die familie.

Elize Erasmus ·

Innige simpatie. Ek het hom altyd saterdae by die Ark gesien en het altyd gelag. Baie goeie en vriendelike geaardheid gehad. RIP Johan. Ek weet hoe voel sy familie want my man is ook dood aan skietwonde na n mislukte high jacking 11 Februarie hierdie jaar. Sterkte aan julle dis nie maklik nie..

anneki ·

Johan jy was n pragtige mens kwaai maar reguit. Ja volgens jou moes jy n ding reg doen of los ek is geskok oor die verskriklike dood van jou my vriend RIP sal altyd lief wees vir jou tot ons weer ontmoet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.