Grabouw-verkragtingslagoffer wil nie praat nie, sê haar ma

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 14-jarige meisie wat in Julie in Grabouw in die Wes-Kaap wreed aangerand en verkrag is, se ma sê sy sukkel om met haar te praat.

“Ek probeer om met haar te praat, ek probeer om by haar hart uit te kom, maar sy wil nie met my praat nie,” het die vrou gesê. Haar naam kan nie bekend gemaak word nie om die identiteit van haar dogter te beskerm.

Sy het Maandagoggend buite die Grabouw-landdroshof gestaan, teleurgesteld dat die hofsaak van die 22-jarige beskuldigde tot 25 November uitgestel is.

Sy het gesê sy is ook teleurgesteld met die slakkepas waarteen die hofsaak en ondersoek voortduur. Sy voeg egter by sy is dankbaar vir die ondersteuning wat ʼn speurder, wat op die saak werk, aan haar bied. “Hy het ons van die begin af ondersteun en gesê as ons enigiets benodig moet ons hom net laat weet,” het die ma gesê.

Sy verduidelik die trauma waardeur haar dogter is. “By die hospitaal het hulle nie eers haar gesig gewas nie. Hulle het vir haar al die voorkomende inspuitings gegee. Sy was vol naalde.”

Haar dogter se skedel is tydens die aanval op vyf plekke gekraak en haar arm op drie dele. Haar tong was so geswel dat sy nie kon praat of eet nie. Maroela Media het vroeër berig sy is ná die aanval onder klippe toegepak en kon daarin slaag om te ontsnap.

“Sy was weer soos ʼn baba,” het die ma gesê. “Sy kon nie eet of praat nie, en wanneer sy geëet het, het sy alles opgegooi.”

Die 14-jarige het fisies ten volle herstel en sy is terug by die skool, besig met haar September-eksamen. “Haar vriende ondersteun haar en maak seker dat sy weer in roetine kom,” het die ma bygevoeg.

Volgens haar ma is die meisie buierig en die ma voel soms uitgesluit.

Sy wou by haar dogter weet of sy vandag die hofverrigtinge wou bywoon. “Sy wou weet of hy [die verdagte] daar gaan wees, en toe ek ja sê, het sy net gesê sy wil nie kom nie. Maar ek praat met haar. Ek praat met haar oor alles waaroor ek nie met haar kon praat toe sy klein was nie, soos seks en seuns en om alleen te loop. Nou praat ek met haar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SNEL ·

My hart is so seer om te lees wat die gesinnetjie nou deurmaak deur een persoon se dade. Baie bly dat sy lewe en dat haar vriendinne haar so mooi ondersteun. Baie sterkte vir haar en haar ma, mag die Here julle dra en krag gee om deur hierdie aaglike gebeurtenis te kom. Sy verdien n vol en wonderlike lewe, hoop regtig sy kan uit die situasie opstaan. Baie sterkte!

Peet Schabort ·

Duidelik dat die GEESTELIKE VERKRAGTING die ergste was. In leketaal het die kind ‘toegeslaan’. Permanente verwydering nl. die DOODSTRAF vir hierdie oortredings.
Sterkte aan ma en kind.

SI ·

Sjoe! Word daar nie aan sulke slagoffers berading gegee nie ? Hierdie arme mens(e) het dit nodig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.