‘Grace jok oor selfverdediging’

Gabriella (links) en Debbie Engels buite die hof. Foto: Brenda Masilela / ANA

Die ma van die 20-jarige model wat beweer sy is deur Grace Mugabe met ʼn verlengkoord aangerand, het Dinsdag gesê Zimbabwe se presidentsvrou jok oor bewerings dat sy uit selfverdediging opgetree het.

“Dit is ʼn patetiese poging om haarself los te wikkel. Ek kan nie sien hoe daar ʼn punt bereik kon word waar my dogter haar met ʼn mes kon aanval as sy so baie lyfwagte het wat haar die heeltyd vergesel nie,” het Debbie Engels, Gabriella Engels se ma, Dinsdag buite die hooggeregshof in Pretoria aan verslaggewers gesê.

Afriforum, wat Engels verteenwoordig, het die hooggeregshof Dinsdag genader om die diplomatieke immuniteit wat aan Mugabe toegestaan is, te heroorweeg.

Mugabe het Engels na bewering op 13 Augustus in ʼn hotelkamer in Sandton aangerand. Engels het ʼn saak van aanranding teen Mugabe aanhangig gemaak, maar Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge, het diplomatieke immuniteit aan haar toegestaan waarna Mugabe na Zimbabwe terug is.

Mugabe het daarna ontken sy het Engels aangerand en daarenteen beweer dat ʼn “dronk en versteurde” Engels haar met ʼn mes aangeval het.

In ʼn verklaring wat op 17 Augustus afgelê is, en wat Reuters onder oë gehad het, ontken Mugabe Engels se weergawe van die gebeure. In teenstelling daarmee beeld Mugabe haarself as die slagoffer uit wat namens haar twee volwasse seuns, Chatunga en Robert jr., ingegryp het omdat hulle “in die moeilikheid was met ʼn dronk jong vrou”.

In dié verklaring word genoem dat Mugabe oorweeg om ʼn aanklag van poging tot moord aanhangig te maak.

Uitspraak oor AfriForum se aansoek was teen middagete nog nie gelewer nie.

Lees alle vorige berigte oor Grace Mugabe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

jaco ·

ek wil my nie uitlaat oor wie jok en wie die waarheid praat nie. al wat ek wil noem, is dat daar berigte oor Me Engels se agtergrond en gedrag by ander geleenthede op MSN en News 24 is. En dis berigte wat nie ‘n mooi rein en edel prentjie skilder nie. Ek wonder of Afriforum so wys was om haar te verteenwoordig.

Manie ·

Die Mugabe’s behoort nie hulle voete hier te sit want hulle is uiterste rassiste. Witmense loop heeltyd deur onder hulle rassisme. Gister gelees hoe hy die vyf brigade gebruik het om matebeles uit te wis. Terwyl die Britte dit gesien het en nie n woord gerep

jaco ·

Hierdie foto van me Engels en haar ma is n skermskoot uit n TV onderhoud met haar. Dit was vroeer vanaand op SABC nuus, maar sonder klank. Sy staan vir n groot deel vd onderhoud met haar hand in haar baadjiesak en een skoot wys duidelik sy kou kougom terwyl sy praat. Na my mening ‘n “spoilt arrogant unmannered bratt”, maar lyk my almal wat op maroela kommentaar oor dié saak gee, kies deur die bank haar kant. Mark my words: Afriforum gaan nog spyt wees dat hulle haar verteenwoordig.

Charmaine ·

So wat jy eintlik se as sy wit was, dan moes grace gestraf word….

jaco ·

en ook: hierdie meisie wat so arrogante slagoffer speel, se ander nonsens gaan nog uitkom. daars baie meer oor haar plesierige agtergrond bekend op nuus websites soos MSN en News24. Maroela swyg egter daaroor. Stories van drinkpartytjies met duur drank, bakleiery met ander mense… Net daardie houding van haar, hand in die sak en kougom in die mond, sV klaar genoeg van wat dalk vir Afriforum wag. hulle gaan nog lelik op hulle neuse kyk met hierdie saak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.