Grace Mugabe ‘het heeltyd immuniteit gehad’

Grace Mugabe. Foto: (AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi, File)

Die hofsaak waarin die diplomatieke immuniteit betwis word wat die Suid-Afrikaanse regering verlede jaar aan Grace Mugabe, voormalige presidentsvrou van Zimbabwe, verleen het, is vanoggend in die hooggeregshof in Pretoria voortgesit.

Gister het die hof gehoor dat die Suid-Afrikaanse regering nié diplomatieke immuniteit aan Mugabe verleen het nie, maar dit slegs bevestig het nadat ʼn aanrandingsklag teen Mugabe aanhangig gemaak is.

Adv. Hilton Epstein SC het aangevoer dat dit nie die regering was wat diplomatieke immuniteit toegestaan het nie, maar dat die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) slegs die bestaande immuniteit vir die eggenoot van die destydse pres. Robert Mugabe bevestig het.

“Dit is duidelik dat dit wat gebeur het oor ʼn kort tydperk gebeur het. Dirco het hierdie saak dringend hanteer, die konferensie [SAOG-beraad] was aan die gang, staatshoofde was hier en die minister moes hierdie klagte hanteer en het advies ingewin,” het Epstein gesê.

“Sy [die minister] het advies by regsadviseurs gekry. Uiteindelik is daar net een faktor hier. Dit is nie diskresie nie, dit is nie ʼn opinie nie, dit is ʼn feit oor of eggenote-immuniteit bestaan of nie bestaan nie.”

Epstein het verder gesê die destydse minister van buitelandse betrekkinge en samewerking, Maite Nkoana-Mashabane, het die regte dinge gedoen deur Grace Mugabe se diplomatieke immuniteit te “erken”.

Gabriella Engels buite die hofsaal in die hooggeregshof in Pretoria (10 Mei 2018). Foto: ANA

“Die minister het dit om vier redes erken, maar een van hulle was die regte rede omdat sy [Grace Mugabe] dit gehad het. Die minister kon nie die diplomatieke immuniteit net wegvat deur dit nie te erken nie,” het Epstein gesê.

Hy het gesê daar word ʼn leuen versprei dat die regering diplomatieke immuniteit aan Grace Mugabe verleen het. “Hulle kon haar nie iets gee wat sy klaar gehad het nie. Ons argument is dat die minister nie net die immuniteit kon wegneem as sy dit klaar gehad het nie. In die Staatskoerant het die minister gesê sy het die diplomatieke immuniteit erken. Die woord ‘verleen’ word nie hier gebruik nie,” het Epstein gesê.

AfriForum is sedert gister saam met die DA in die hooggeregshof om te versoek dat die hof ʼn besluit van die Suid-Afrikaanse regering om destyds stil-stil diplomatieke immuniteit aan Mugabe te verleen nadat die aanrandingsklag teen haar aanhangig gemaak is, ter syde te stel.

Die saak het verlede jaar opslae verwek toe dit bekend geword het dat Gabriella Engels, ʼn Johannesburgse model, na bewering deur Mugabe met ’n elektriese koord aangerand is omdat sy ontevrede was met haar twee seuns en Engels se eskapades in ’n luukse hotel in Sandton.

Engels het vroeër buite die hof gesê sy hoop Mugabe sal terug gebring word na Suid-Afrika sodat sy op die aanklagte tereg kan staan.

Regter Bashier Vally het Vrydag uitspraak in die saak voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

thinus ·

Die verklaring deur die Staat is baie mooi en behendig opgestel, maar strook nie juis met die groot geskarrel wat direk na die voorval plaasgevind het nie. Ook het hulle nagalaat om lankal die klaer en publiek so mooi te verduidelik wat aangaan.
Wag ek moet gaan, iets stink vreeslik!

Moosa ·

Dit klink soos die GUPTAS wat eers NIE Burgerskap gehad het nie en toe kom hulle ID’s uit en toe skielik HET hulle burgerskap gehad en moes ‘n paar mense rondskarrel en verduidelik hoekom hulle WEL ID’s het nadat daar gese het dat hulle net verblyfreg in SA het .. Ek glo ongelukkig nie meer die staat of enigiemand wat iets met die staat te doen het nie .

Piet Snot ·

Adv Epstein argumenteer korrek, soos mens van ‘n SC verwag. “Verleen” is nie so goed as “bevestig wat die reg haar in iedergeval gee” nie.
Nouja, of die argument water dra, dis ‘n ander vraag.

zoom zoom ·

L. Daai vraag moet jy rig aan die NVG ons eie 007 Shaun Abrahams hy weet van baie wat verhewe is bo die wet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.