Grace Mugabe-immuniteitsaak binnekort voor hof

Grace Mugabe. Foto: (AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi, File)

AfriForum se aansoek teen die minister van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) se vroeëre besluit om diplomatieke immuniteit aan Grace Mugabe, die voormalige presidentsvrou van Zimbabwe, toe te staan, sal Donderdag en Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het gesê dié hofaansoek is die eerste belangrike stap in ’n proses om Mugabe vir haar beweerde aanranding van Gabriella Engels, ’n jong Johannesburgse model, in Augustus 2017 te laat vervolg.

Die beweerde voorval het verlede jaar opslae gewek toe dit bekend geword het dat Engels na bewering deur Mugabe met ’n elektriese koord aangerand is omdat sy ontevrede was met haar twee seuns en Engels se eskapades in ’n luukse hotel in Sandton.

“Dit is algemeen bekend dat Mugabe en haar kinders ʼn uitspattige leefstyl gehandhaaf en groot hoeveelhede geld aan verblyf, inkopies en partytjies in onder meer Sandton en Johannesburg bestee het toe sy nog die presidentsvrou van Zimbabwe was,” het Spies gesê.

Die bewind van Robert Mugabe, die Zimbabwiese diktator, het kort ná die voorval geëindig ná die Zimbabwiese weermag ingegryp het.

Spies meen die Suid-Afrikaanse regering het destyds op ’n baie omstrede wyse besluit om stil-stil diplomatieke immuniteit aan Grace Mugabe te verleen en haar só die geleentheid gebied om uit Suid-Afrika na Zimbabwe terug te keer ten einde vervolging in Suid-Afrika vry te spring.

Weens die verlening van diplomatieke immuniteit aan haar, kon die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie die klagtes teen Mugabe van aanranding met die doel om ernstig te beseer verder ondersoek nie. AfriForum het derhalwe verlede jaar ’n hofaansoek van stapel gestuur om die omstrede verlening van diplomatieke immuniteit tersyde te laat stel.

Verskeie ander instansies het intussen soortgelyke aansoeke by die hooggeregshof in Pretoria ingedien en ook as vriende van die hof tot die verrigtinge toegetree.

“Dus sal al die aansoeke rakende dié saak gelyktydig aangehoor word,” het Spies gesê.

Indien die aansoek om tersydestelling van dié verlening van immuniteit aan Mugabe suksesvol is, sal dit die weg vir die NVG open om stappe te doen om Mugabe te vervolg.

AfriForum het reeds vroeër aangedui dat sy privaat vervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel gereed staan om privaat vervolging in te stel, sou die NVG besluit om Mugabe nie te vervolg nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

zoom zoom ·

Wie gaan haar maak om in die hof te kom staan as afri-forum suksevol is. Die nvg kan nie eens die guptas in die hof kry nie. Mors van geld en tyd

Oom Kalahari ·

Sy gaan die wittes as rassiste en vervolgingswaansin uitmaak en die NVG sal geensins optree teen haar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.