Grace Mugabe-saak: ‘Ek hoop sy kom terug na SA’

Gabriella Engels buite die hofsaal in die hooggeregshof in Pretoria (10 Mei 2018). Foto: ANA

Gabriella Engels, die Johannesburgse model wat in 2017 ʼn aanrandingsklag teen Grace Mugabe aanhangig gemaak het, het Donderdag gesê sy hoop die voormalige Zimbabwiese presidentsvrou sal terug na Suid-Afrika gebring word sodat sy op die aanklagte kan teregstaan.

“Ek hoop sy kom terug om aanspreeklik gehou te word. Ek los alles nou in God se hande en ek weet Hy sal ons deur alles kry,” het Engels aan joernaliste gesê buite die volgepakte hofsaal van die hooggeregshof in Pretoria waar Mugabe se diplomatieke immuniteit betwis word.

Engels is vergesel deur haar ma, Debbie Engels, wat gesê het sy voel optimisties dat geregtigheid sal geskied. “Ek is baie optimisties. Baie, baie optimisties. Ek is bly dat die bal nou aan die rol is en ons het ʼn goeie regspan wat ons ondersteun, so ons is optimisties dat alles goed sal afloop,” het sy gesê.

Die burgerregtegroep AfriForum verteenwoordig Gabriella Engels in die hof. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, het aan African News Agency gesê die organisasie is vol vertroue dat die diplomatieke immuniteit wat die regering aan Mugabe toegestaan het kort nadat die aanrandingsklag teen haar aanhangig gemaak is, deur die hof ter syde gestel sal word.

“Ons sê dat hierdie toestaan van diplomatieke immuniteit as ʼn nagedagte gebeur het. Dit was ná die aanranding van ons kliënt, me. Gabriella Engels. Ons wil verseker dat daar gelykheid voor die wet en geen selektiewe vervolging is nie. Dus, dat mense nie van vervolging beskerm word deur ʼn nagedagte van die toestaan van diplomatieke immuniteit nie,” het Nel gesê.

Grace Mugabe. Foto: (AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi, File)

“Ons is vol vertroue dat die diplomatieke immuniteit ter syde gestel sal word. As dit gebeur, moet die NVG sy pligte nakom en verseker dat die beskuldigde teruggebring word in die land en hier vervolg word. Versuim om dit te doen sal, soos ons al voorheen gesê het, daartoe lei dat ons privaat vervolg – as daar geen vervolging [deur die NVG] is nie.”

AfriForum is Donderdag saam met die DA voor die hooggeregshof om te versoek dat die hof ʼn besluit van die Suid-Afrikaanse regering om destyds stil-stil diplomatieke immuniteit aan Mugabe te verleen nadat die aanrandingsklag teen haar aanhangig gemaak is, ter syde te stel.

Die saak het verlede jaar opslae gewek toe dit bekend geword het dat Engels na bewering deur Mugabe met ’n elektriese koord aangerand is omdat sy ontevrede was met haar twee seuns en Engels se eskapades in ’n luukse hotel in Sandton.

Weens die diplomatieke immuniteit wat deur die regering aan Mugabe verleen is, is sy egter vinnig terug Zimbabwe toe ten einde vervolging in Suid-Afrika vry te spring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nettie ·

Afriforum moet ophou hul tyd en lede se geld vermors deur ‘polities-korrekte’ sake soos hierdie verder te vat en begin werk daaraan om die wrede plaasmoordenaars, wie in elk geval tog nie deur die SAPD eerstens aangekeer word en tweedens deur die NVG suksesvol vervolg word nie, te suksesvol te laat aankeer, vervolg en in die tronke te stop.

En dan moet hulle ook begin werk daaraan om druk op die verrotte, korrupte, hopelose ANC-regering te plaas sodat ons land se grense beter bewaak moet word teen die wettelose 1000’e immigrante wat hier instroom, sodat ons mense op plase veiliger sal wees, misdaad sal afneem, daar werk, kos, geld, huise, elektrisiteit, lopende water, mediese dienste vir WARE GEBORE SUID-AFRIKANERS sal wees.

Eers dán sal Afriforum WERKLIKE ‘n organisasie vir ALLE SUID-AFRIKANERS wees.

Alida ·

As jy nie ‘n lid is van Afriforum nie waaroor kla jy? Ons lede is baie gelukkig met wat hulle vermag.

Wonder sommer ·

Maroela Media – sal julle asb. eendag ‘n berig plaas oor mej. Engels se modelwerk? Enige advertensies / loopplankwerk of enige ander modelwerk wat sy al gedoen het sal baie interessant wees om te sien.
Ons sien uit daarna.

zoom zoom ·

Die NVG kan nie eens die zumas en guptas vervolg nie hoe wil hulle nog vir Grace in ‘n hof laat staan in SA.

Elle ·

Wonder sommer, ek het ookal gewonder oor die
“Modelwerk”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.